Die vlees is regtig van GEEN nut!

Daar is lewe na die oordeel van God – nuwe lewe! Daar is diegene wat glo dat God se oordeel iets is wat ten alle koste vermy moet word omdat hulle die vlees en alle tydelike dinge nie wil prysgee nie. Daar is selfs hulle wat glo dat ons “geestelike” vlees sal ontvang in die nuwe geestelike lewe. Nee, vlees is ‘n tydelike skepping wat totaal vernietig gaan word. Hierdie vernietiging kom egter net deur God se oordeel wanneer ons die ou lewe verloor, maar ons wen die nuwe lewe in Christus:

Mat 10:34  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Die vloed in Noag se dag is dus ‘n geestelike tipe van die oordeel van alles (globaal) in die ou mens in ons. Om alles in hierdie lewe te verloor is vir die natuurlike mens te veel om te hanteer. Die vleeslike denke kan nie die voordele van die nuwe skepping waardeer nie. Noag en sy familie was vir ongeveer ‘n jaar afgesonder binne-in die ark – totaal afgesny van die ou aarde:

Gen 8:13-14  In die ses honderd en eerste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die waters weggedroog van die aarde af. En Noag het die deksel van die ark weggeneem en uitgekyk, en die aarde was droog—  in die tweede maand, op die sewe en twintigste dag van die maand, was die aarde droog.

Om in Christus opgeneem te word beteken ‘n noodsaaklike verwydering van die bekende en geliefkoosde dinge van die vlees. Alles wat aards is word stelselmatig “droog” en oninteressant. Ons leer dan om God ten alle tye te gehoorsaam, en ons besef dat selfs elke tree wat ons gee van Hom is:

Gen 8:15-18 En God het met Noag gespreek en gesê: Gaan uit die ark, jy en jou vrou en jou seuns en die vroue van jou seuns saam met jou. Laat saam met jou uitgaan al die diere wat by jou is, van alle vlees: die voëls en die vee en al die diere wat op die aarde kruip, dat hulle kan wemel op die aarde en vrugbaar wees en vermeerder op die aarde. Toe gaan Noag uit en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom. Al die diere, alles wat kruip, en al die voëls, alles wat op die aarde beweeg, volgens hulle soorte, het uit die ark uitgegaan.

Jer 10:23  Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Die eerste ding wat Noag gedoen het nadat hy uit die ark gekom het, was om aan God te offer dit wat aan Hom behoort. Ons besef slegs deur God se oordeel dat ons niks besit wat ons nie van God ontvang het nie – alles is nog steeds Syne!

Gen 8:20  En Noag het vir die HERE ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring.

Koning Dawid het die beginsel dat alles aan God behoort goed geken en het aan God die eer gebring voor die oë van die hele vergadering – almal wat ons ken moet kennis neem van God se almag in alles – deur ons lewenswyse:

1Kron 29:10-14  En Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid.  Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles.  En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak.  En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.  Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.

Ons “vrywillige” gawes is alles deur God in ons bewerkstellig! Die wil en keuses in alle mense is onderhewig aan God se wil en keuse. Hierdie aanvaarding en erkenning van God se almag en soewereinitiet oor alles, is hoe ons ‘n lieflike geur aan God bring:

Gen 8:21  En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie.

God bepaal alle dinge se tyd van begin tot einde – niks gebeur “ontydig” nie:

Gen 8:22  Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.

Pred 3:1  Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd:

Pred 3:11  Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.

Die natuurlike mens kan egter God nie vereer in hierdie dinge nie en het altyd ‘n probleem met God se perfekte tyd vir alles om te gebeur. Dit is God wat seën en ons vrugbaar maak op Sy bepaalde tyd. Hy gee aan die mens heerskappy om oorwinning te kry ook in hierdie lewe. Ons gee alles terug aan God en so word ons verlos van die bande van vlees!

Gen 9:1-2  En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee.

Na die vloed was ook vleis bygevoeg by die plante wat die mens kan eet – met ‘n belangrike beperking:

Gen 9:3-4  Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.

Bloed was nie toegelaat om geëet te word nie, soos selfs die wet onder Moses ook aangedui het:

Lev 17:10-14  En elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed eet teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit.  Want die siel [dit is die lewe] van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.   Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Niemand van julle mag bloed eet nie; ook die vreemdeling wat onder julle vertoef, mag geen bloed eet nie.  En elkeen uit die kinders van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat ‘n stuk wild of ‘n voël vang wat geëet mag word hy moet die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond toemaak; want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word.

Die offer van bloed doen versoening vir die siel. Niemand wat onder die wet van Moses en ander menslike gebooie leef kan besef of waardeer wat die versoening van sonde deur bloed werklik beteken nie. Ons kan slegs die nuwe lewe in Christus wen as ons ons lewe (ons “bloed”) prysgee – ‘n geestelike “bloedoortapping”. Dit is die geestelike betekenis waarom die eet van bloed verbode is. Hierdie versoening en vergifnis van sonde is net beskikbaar vir hulle wat die bloed en vlees van die Lam van God kan “eet”:

Joh 1:29  Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Open 7:14  En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.

Daarom het Jesus gesê dat net hulle wat Sy bloed drink en Sy vlees eet, geestelike lewe sal ontvang:

Joh 6:53-57  En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.  Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.  55  Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank.  Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.    Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.

Die vleeslike of letterlike interpretasie van hierdie woorde is walglik vir die vleeslike en natuurlike denke en die geestelike is van geen nut vir baie nie. Maar vir hulle wat dit kan ontvang is die eet van Jesus se vlees en drink van Sy bloed ‘n interne geestelike toepassing as ons al Sy Woorde glo en doen:

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Dit is wanneer ons Jesus nie meer na die vlees dien nie, maar na die gees. Hy is nie net daar om ons fisies te seën nie, maar om ons vleeslikheid (uiterlik en innerlik) te vernietig!!!

2Kor 5:16-17  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.   Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

[Distansiëring: Advertensies word geplaas deur WordPress.com]

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Die vlees is regtig van GEEN nut!

  1. B________ sê:

    Môre Larry

    Wat is jou siening oor die groot doop sowel as die kinder doop

  2. Hallo B_______

    Dankie vir jou skrywe en die vrae wat jy vra. Ek waardeer dit baie.

    Soos ons weet gaan die doop oor die aflegging van die vlees:

    1Pe 3:18-22 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.

    Die vloed van Noag word dus gebruik as fisiese simbool deur God om ons hierdie dood van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens uit te beeld:

    Rom 6:1-6 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

    Ek het reeds ‘n kort artikel geskryf wat jou vrae hopelik meer in detail sal beantwoord. Hier is die skakel:

    Is die Christen-doop regtig te doen met min of baie fisiese water?

    Hier is nog ‘n skakel wat moontlik kan help:

    Die ware geestelike sakramente

    Kom gerus terug as die artikels van hulp was.

    Jou broer in Christus

Lewer kommentaar