Die twee “Adams” waarmee God werk

1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

Die ‘eerste mens Adam’ was gemaak van stof en is die teenstelling van die ‘laaste Adam’.

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

‘n ‘Lewende siel’ is die beskrywing wat die Skrifte gee aan die vleeslike Adam. ‘n ‘Lewende siel’ word gekontrasteer met die ‘lewendmakende gees’ en dit help ons om die ‘lewende siel’ beter te verstaan:

1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

‘n ‘Lewende siel’ is vleeslik en ‘staan teenoor’ die ‘lewendmakende gees’. Kyk nou hoe beskryf die Skrifte hierdie ‘lewende siel’ se denke wat ook as ‘vlees’ voorgestel word, in kontras met die denke van die ‘lewendmakende gees’:

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

‘…wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede…’. Daar is dit duidelik hoe die Skrifte die eerste Adam en sy denke beskryf…DOOD! As ons wil weet hoe DOOD “voel”, wel ons ervaar dit nou terwyl ons in die vlees leef. Dit is hoe dood “voel”. Die eerste Adam het nog nooit die lewe in gees ervaar nie:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Rom 8:8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Die vlees KAN GOD NIE BEHAAG NIE! Hoe duidelik is dit nie. Die eerste Adam was NOOIT perfek in gees soos aan ons gepreek was vir jare nie. Die leer van die sogenaamde “val” van die mens is ‘n INFAME LEUEN! Tog kleef mense aan hierdie valse leer vir al wat werd is.

God is besig met ‘n PERFEKTE plan en min kan sien wat God besig is om te doen. Tog word hierdie plan aan Sy uitverkorenes verklaar:

Spr 25:2 Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur.

Psa 25:14 Samek. Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.

God het alles “baie goed’ gemaak, maar kyk wat het God alles gemaak:

Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Jes 54:16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.

Wie wil opstaan en teen die Here stry en sê Sy woorde is nie waar nie? Wie is so onkundig? TOG IS DAAR BILJOENE MENSE WAT ELKE DAG TEEN GOD STAAN en selfs SY WOORD ontken en baie noem hulself Sy kinders! Dit is hoe bedrieglik die hart en denke van die eerste Adam is:

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Die openbaring van ons eie hart is ‘n skokkende ding! Ons is verblind in ons eie ONKUNDE oor ons eie fisiese en geestelike kondisie, soos deur God bepaal. Dit kos God self om ons ons eie hart en ons pad te wys, soos dit geskryf is in Sy boek:

Open 5:1-6 En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. 2 En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? 3 En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. 4 En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. 5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. 6 En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.

Elke woord in die Skrifte is waaruit ons eie boek saamgestel was (Ps 139:16)! Ons is eers die ‘eerste mens Adam’ voordat ons die ‘lewendmakende gees’ van God deur Jesus Christus kan ervaar (Ons leef inderdaad van elke woord uit God se mond):

Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

In Genesis het God die twee lyne getrek en ons leef eers deur die “geslagslyn” van die eerste Adam sodat ons die skeiding en vyandskap kan ervaar tussen ‘die eerste mens Adam’ en ‘die laaste Adam’. Hier is die eerste plek waar hierdie skeiding uitgebeeld word in die Skrifte, en ook wie die Oorwinnar gaan wees IN ONS EIE LEWE en ook in die lewe van ALMAL:

Gen 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

Die pad van hierdie vyandskap tussen die twee Adams (ook genoem die stryd tussen die vlees en die gees) loop dwarsdeur die hele Bybel. Dit is sigbaar in die algemene menslike geskiedenis en ook in ons eie lewens – as God ons die oë gee om dit te sien. Hoe het die vyandskap die eerste keer gemanifesteer?

Gen 4:2-5 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer. En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.

Gen 4:8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.

Die vlees word aanvanklik die reg gegee deur God om die gees te onderdruk, te oorheers en selfs stil te maak. Maar “die eerste” (Adam) sal nie die laaste sê het nie:

Mat 19:30 Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.

Hier is nog ‘n paar voorbeelde van die twee Adams se vyandskap:

  • Esau, die eersgebore tweeling vervolg Jakob en wou hom doodmaak;
  • Ismael, die eerste geborene van Abram het Isak vervolg;
  • Saul, eerste koning van Israel vervolg Dawid en wou hom doodmaak;
  • Die oudste broer het nie gehou dat sy vader die “verlore” broer moes terugverwelkom nie.

Maar die oudste (eerste Adam) is verdoem, en hy sal deur die “laaste Adam” vervang word:

Mat 20:16 So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.

Ons almal is eers Kain wat ons jonger broer haat en doodmaak. Ons is deel van ‘hierdie geslag’ wat die ware woorde van God haat.

Luk 11:49-51 Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg, 50 sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af, 51 van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag.

Ons is almal eers ‘hierdie geslag’ wat onder die aardse ‘wysheid’ van die eerste Adam leef – dood in sonde en misdaad (1Kor 15:46-49). Ons is soos Kain – die saad van die slang – en ons vader is die duiwel. Ons haat God se Woorde:

1Jn 3:11-13 Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; 12 nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig. 13 Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.

Jak 3:14-16 Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. 15 Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; 16 want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.

Joh 8:43-45 Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. 44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. 45 Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.

Maar ons leer, soos God ons oë oopmaak, dat alles (die eerste Adam en die laaste Adam) deel is van God se plan met ons almal. Ons leef eers die ‘eerste mens Adam’ voordat ons ook die ‘laaste Adam’ deelagtig sal word:

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Jesus Christus self erken dat HY ook albei Adams verteenwoordig en hulle in ons beheer:

Open 1:11 Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste,…

Die eerste voorwerp is IN die hand van die Pottebakker en die eerste voorwerp is ‘n mislukking (soos die Pottebakker dit gemaak het – naak en tydelik):

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluksoos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Die eerste ‘voorwerp’ is voorwaar ‘n voorwerp ’tot oneer’, terwyl die tweede ‘voorwerp tot eer’ VAN GOD is!!!

Rom 9:18-23 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. 19 Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? 20 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? 21 Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? 22 En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, 23 juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid,

Die tweede “Voorwerp” is Christus en ons almal sal IN Hom ‘lewend gemaak’ word:

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

 

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Die twee “Adams” waarmee God werk

  1. Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21) Deel 2: Die einde van die eeu | 4windkoinonia

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s