Is Henog, Elía , Moses, Johannes (die doper) in die hemel?

Joh 3:13 En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.

Hierdie woorde kom direk uit die mond van Jesus en BAIE MIN glo hierdie woorde. Niemand het opgevaar in die hemel, behalwe EEN…Jesus self!

Is Jesus reg? JA! 100%! Jesus praat ALTYD die waarheid en elke mens is’n leuenaar:

Rom 3:4……Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig….

Mense vra: ‘Wat van Henog, Elia, Moses? Is hulle nie in die hemel opgeneem nie?’

Die boek van Hebreërs stem saam met Jesus dat al die geloofshelde (Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob, Sara…) in die Ou Testament  nie “die belofte verkry” het nie:

Heb 11:39 En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie,

Ons weet dat geloof ‘n “vaste vertroue [is] op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie”, dan is dit sekerlik duidelik dat al die geloofshelde van die Ou Testament NIE die ewige saligheid verkry het nie!

Heb 11:1-2 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. 2 Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang.

Hoekom het hulle nie die belofte van ‘n ewige rus gekry nie? Hulle het “almal gesterwe” en is nou nog dood in die grafja, Henog is ingesluit in “hulle almal”…..

Heb 11:13 In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.

Petrus stem ook saam aangaande “die belofte” van “hierdie saligheid” wat ALMAL die profete van die Ou Testament nie ontvang het nie:

1Pe 1:10-13 Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,  en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.

Petrus sê duidelik dat geen Ou Testamentiese profeet die saligheid tot op hierdie stadium ontvang het nie.

Paulus maak dit ook baie duidelik dat niemand wat in vlees gekom het vanaf Adam, tot op hierdie oomblik “die belofte” van saligheid of onsterflikheid ontvang nie, behalwe een, en dit is Jesus Christus!

1Ti 6:14-16 dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus  wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.

Terloop, Jesus sê in Johannes 3 vers 13 dat Hy op daardie oomblik, toe Hy met Nikodémus praat, in die hemel is! Kom ons lees dit weer:

Joh 3:13 En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel IS.

As ons nie kan sien “Wat en waar die hemel is” nie, kan ons Jesus se woorde hier aan Nikodémus nie verstaan nie. Hemel is NIE ‘n geografiese PLEK nie. Dit is ook nie daar ver nie. Hemel is eintlik baie nader as wat die natuurlike denke in mens kan besef. Die natuurlike mens se “oë” is toegemaak deur God om nie Sy geestelike dinge te kan “sien” nie. Jesus verberg Hom ook van mense wat sê dat hulle in Hom glo, maar hulle glo net ter wille van aardse en tydelike dinge. Hulle is eintlik ongelowige “gelowiges” as dit kom by Sy geestelike dinge!

Joh 12:36-40 So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word. Dit het Jesus gespreek, en Hy het weggegaan en Hom vir hulle verberg. 37 En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; 38 sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? 39 Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: 40 Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

As jy mooi lees en kan sien wat Johannes hier wil sê, dan is dit duidelik dat mense nie verantwoordelik is vir hul geestelike blindheid en ongelowigheid nie. Kyk weer na die funksie van die woorde “daarom” en “sodat” in verse 39 en 40. Dit is baie harde woorde vir hulle wat glo dat die mens ‘n sogenaamde “vrye” wil gekry het van God.

Net so is die geestelike begrip van wat en waar “hemel” is nie vir almal beskore nie. Almal sal egter op God se tyd die waarheid oor hemel kry, hopelik ook deur hierdie artikel, soos God wil.

So waar het Henog heengegaan want dit staan tog geskryf dat hy “weggeneem” was. Hier is die teks wat deur baie gebruik word om God se Woord te verdraai:

Gen 5:24 En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.

Ons moet dit inlees in die teks dat Henog na die hemel geneem was, want die skrywer van Hebreërs bied geen verduideliking aan ons waarheen Henog “weggeneem” was nie. Maar in die oorspronklike Griekse woorde “metatithēmi” en “metathesis”kom so ‘n bietjie lig vir ons:

Heb 11:5 Deur die geloof is Henog weggeneem [Grieks = “metatithēmi” wat “verplasing” beteken] om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem [Grieks = “metatithēmi”] het; want voor sy wegneming [Grieks = “metathesis” wat “transporteer” of “verplasing” beteken] het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.

Henog was “verplaas” volgens die oorspronklike Griekse woorde in die vers!!! Hy was inderdaard “weggeneem” van een plek na ‘n ander plek OP AARDE! Daar staan nie EEN woord iewers in enige teks in die Bybel dat Henog in die hemel opgeneem is nie – dit is byvoegings deur die valse leraars! Henog was verplaas uit ‘n lewensgevaarlike situasie (“om die dood nie te sien nie”) OP AARDE en na ‘n ander PLEK OP AARDE “weggeneem”!!!!

‘n Verplasing van ‘n fisiese liggaam is heel bekend aan die Skrifte:

Hand 8:39-40 En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer [Grieks: “harpazō” = onder dwang weggeneem], en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.

Filippus hier in Handelinge was van een plek na ‘n ander plek “skielik weggevoer” of “weggeneem”. Henog het dus op daardie stadium “die dood nie [ge]sien nie”! Dat Henog se lewe in gevaar was is verseker as mens sien wat met almal gebeur wat God behaag en aan Hom getrou is:

Mat 10:23 En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.

Mat 10:21-22 Maar die een broer sal die ander tot die dood oorlewer en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. 22 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

2Ti 3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.

Jesus self was gehaat en vermoor, soos God ook bestem het. Henog was egter “weggeneem” en het “die dood nie [ge]sien” op daardie stadium nie. Ons word nie in die Skrifte gesê wie probeer het om Henog dood te maak nie, maar daar was nog nooit ‘n tekort aan vyande vir hulle wat met God “wandel” nie. God het Henog beskerm teen hulle wie hom wou doodmaak, en God het Henog “weggeneem” uit die gebied waar die gevaar was. Weereens kan ons net waarsku dat daar nie ‘n woord staan in enige teks in die Bybel dat Henog hemel toe gegaan het soos die valse leraars beweer nie. Hebreërs 11 vers 13 sluit aan by Hebreërs 11 vers 5, en gee duidelikheid dat Henog weggeneem was na ‘n ander veiliger plek waar hy later wel gesterf het, soos alle mense wel moet ervaar een of ander tyd:

Heb 11:5 Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.

Heb 11:13 In die geloof het hulle ALMAL [AL die Ou Testamentiese geloofshelde, insluitend Henog wat dan juis in vers 5 genoem was] GESTERWE sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.

Ons herhaal net weer Jesus se woorde oor almal wat gesterf het – ook Henog:

 Joh 3:13 En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.

En wat van Elía ?

2Kon 2:11-12 En terwyl hulle aldeur loop en spreek [Elia en Elisa], kom daar meteens ‘n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar. 12 En Elísa het dit gesien en geroep: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters! En toe hy hom nie meer sien nie, het hy sy klere gegryp en dit in twee stukke geskeur.

Ten spyte van die dramatiese wyse waarop Elía “na die hemel opgevaar” het, het ons geen rede om te glo dat Elía opgeneem was na ‘n ander hemel behalwe die een waar die voëls in rondvlieg nie. Dit is ‘n voldwonge feit uit die Skrifte dat Elía NIE DIE AARDE VERLAAT HET NIE as ons weet dat hy  op ‘n later stadium ‘n brief geskryf het aan Koning Joram!!! As ons ons Bybelgeskiedenis ken, dan sal ons ook weet dat Joram die seun was van koning Jósafat – Elía het geprofeteer in die tyd van koning Jósafat toe Elía dan ook “na die hemel opgevaar” het:

2Kro 21:12 Toe kom daar ‘n brief van die profeet Elía by hom aan om te sê: So spreek die HERE, die God van u vader Dawid: Omdat u in die weë van u vader Jósafat en in die weë van Asa, die koning van Juda, nie gewandel het nie,

Elía was net soos Filippus en Henog verplaas van een plek na ‘n ander – hy het fisies “na die hemel opgevaar” (waar voëls ook rondvlieg) en was op ‘n ander plek neergesit. Soos in die geval van Filippus in Handelinge 8 het selfs die profete-seuns die waarheid van so ‘n fisiese “verplasing” deur die gees van God geken, want hulle wou na Elía gaan soek. Elisa het dit egter verbied omdat hy moes verder gaan met die werk wat deur Elía begin was. Hulle het almal geweet dat Elía op ‘n ander plek op aarde voortgeleef het tot met sy dood (volgens Hebreërs 11:13):

2Ki 2:15-16 En die profete-seuns wat in Jérigo was, het dit [Elía se opneem en verplasing] op ‘n afstand gesien en gesê: Die gees van Elía rus op Elísa! En hulle het hom tegemoetgekom en voor hom na die aarde gebuig en vir hom gesê: Kyk, hier is by u dienaars vyftig kragtige manne; laat hulle tog u heer gaan soek, of nie miskien die Gees van die HERE hom opgeneem en hom op een van die berge of in een van die dale gewerp het nie. Maar hy het beveel: Stuur hulle nie.

Die vervalle Christendom se teoloë en valse leraars beweer egter dat Elía die brief geskryf het voor hy “na die hemel opgevaar” het omdat so ‘n redenasie hulle valse leerstelling van mense wat ‘hemel toe gaan’ bevredig! [Sien die kort artikel op hierdie webtuiste oor ‘Wat gebeur by die dood van ‘n mens‘]. God het die afvallige teoloë en die valse leraars nie die geloof gegee om Jesus se woorde te aanvaar nie:

Joh 3:13 En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.

Elía is een van die profete wat nie “die belofte” van “hierdie saligheid” ontvang het nie:

Heb 11:13 In die geloof het hulle [Abel, Henog, Noag, Abraham, Sarah…(Heb 11:1-11)] almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.

1Pe 1:10-13 Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.

Maar wat maak ons met die gebeurtenisse op die berg van verheerliking? Het Moses en Elía dan nie verskyn aan Jesus op die berg van verheerliking nie? As ons die waarheid ken, dan maak hierdie waarheid ons vry van die leuens:

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Kom ons kyk wat Jesus die verskyning van Moses en Elía op die berg van verheerliking noem:

Mat 17:9 En onderwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle bevel gegee en gesê: Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.

Jesus noem dit ‘n gesig wat ‘n visioen is – ‘n tipe droom! So beskryf die Skrifte self wat ‘n “gesig” is:

Dan 2:28 Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. In u slaap het u ‘n droom, ‘n visioen gehad.

Dan 2:19 Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in ‘n nagtelike visioen en Daniël het die God van die hemel geprys.

Moses en Elía was dus NIE LETTERLIK DAAR NIE!!!! Ons almal weet dat drome denkbeelde,  gedagtes, klanke en stemme insluit wat ons beleef as ons onbewus is van dinge rondom ons. Ons weet ook dat drome soms ‘n boodskap oordra, soos die Skrifte ook verduidelik:

Gen 20:3 Maar God het in die nag by Abiméleg gekom in ‘n droom en vir hom gesê: Kyk, jy sal sterwe ter wille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is ‘n getroude vrou.

Gen 31:11 En die Engel van God sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek!

Job 33:14-17 Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie. 15 In die droom, in ‘n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, 16 dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; 17 om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg;

Dit is tog hoe ons ook die “gesig” op die berg van verheerliking moet hanteer! Moses en Elía is dood en het nie “opgevaar in die hemel” nie (Joh 3:13). Waarom sal ons Jesus se eie woorde oor hierdie waarheid betwyfel? Ons weet egter dat God gebruik afbeeldinge, simbole of tekens om waarhede aan Sy volgelinge oor te dra, en ook om die waarheid vir die ongelowiges weg te steek:

Mat 13:10-15 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. 14 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. 15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Fisiese tekens en fisiese wonderwerke doen voorwaar hul werk tot vandag:

Joh 12:37-40 En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie; 38 sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? 39 Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: 40 Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Moses en Elía was dus gebruik as tekens of simbole vir wat hulle verteenwoordig uit die Ou Verbond en dit is “die wet en die profete” wat die hele Skrif getuig van Jesus en die geregtigheid in Hom:

Rom 3:21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig,

Luk 24:27 En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.

Die verheerliking was alles gedoen om Jesus as die vervulling van die Ou Testament se wet en profete te bevestig, en Hom as die Verheerlikte Verlosser bo almal uit te wys.

Wat van Johannes die Doper? Is hy in tans in die koninkryk van die hemel? Jesus het die vraag baie duidelik geantwoord – vir diegene wat dit kan ontvang:

Mat 11:11 Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie….

Johannes die Doper was die grootste onder diegene wat onder die ou verbond gebore was. Maar is Johannes in die koninkryk van die hemele? Kom ons voltooi Jesus se woorde in vers 11….

….maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy [Johannes].

Ons wat die waarheid ken kan volmondig saamstem met Jesus dat NIEMAND in die hemel opgevaar het behalwe Hy wat ook NOU IN ONS WOON – in Sy hemele. Jesus en Sy Vader woon IN ons soos ons IN Hom leef:

Efes 2:4-6 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,

Joh 14:23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

Joh 14:20-21 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 21 Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

13 Responses to Is Henog, Elía , Moses, Johannes (die doper) in die hemel?

  1. Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  2. S__________ sê:

    Amen!!!

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s