Mat 24:34 Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.
Jesus sê die dissipels wat op daardie oomblik na Hom luister, sal sekerlik nie sterwe voor AL die dinge in Mattheus 24 in hulle tyd gebeur nie!!!
Hier is een van die enigmas wat die afvallige Christendom net nie kan verwerk met hul natuurlike denke nie. Hoe kon Jesus so iets sê as dit (die ‘al hierdie dinge’ in Mattheus 24) nie uiterlik in die tyd van die eerste dissipels gebeur het nie? Die afvalliges sê dat Jesus het duidelik op die oog af nie gekom in die tyd van die eerste dissipels nie. Dit is net hier waar die uiterlike natuurlike mens die hele punt mis! Solank ‘al hierdie dinge’ in die toekoms en uiterlik moet afspeel, kan hy nog lekker baljaar in sonde; so glo die afvalliges. Die afvallige natuurlike mens glo hy sal sekerlik die uiterlike “tekens van die tye” betyds kan opmerk en dat ‘n vinnige sondaarsgebedjie sal 100% werk as “die tekens van die tye” gebeur…en siedaar…ontsnapping en redding…hemel!!! Maar is hierdie siening korrek?
As Jesus sê dat AL die dinge in Mattheus 24 verseker (“voorwaar”) met sy dissipels gebeur, hoekom glo 99% van Christene eerder die valse profete wat verklaar (met groot basuine op TV en vanaf kansels) dat die betrokke dissipels “al hierdie dinge” vrygespring het? Nie een van die skrywers in die Nuwe Testament het iewers geskryf dat hulle die woorde van Mattheus 24 vrygespring het nie!
So wie is die geslag wat Jesus hier na verwys?
As mens lees met jou natuurlike verstand wat ‘hierdie geslag’ alles ervaar in Mattheus 24, lyk dit of dit verwys na die Christene wat op die aarde sal leef net voor die uiterlike en fisiese wederkoms van Jesus. Maar daar is ‘n groot kwelpunt met so ‘n uitgangspunt wat ook in Openbaring en die res van die sogenaamde apokaliptiese tekste in die Bybel na vore tree. As net die Christene in die laaste of sogenaamde “eindtyd” die rampe en plae sal sien (en beleef), dan het die volgende Skrifte geen invloed op al die Christene wat voor die sogenaamde “eindtyd” geleef het nie:
Mat 24:13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
Van watter ‘einde’ word hier gepraat? Hier is ‘n leidraad wie ‘hierdie geslag’ is:
Mat 24:15 Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet—
“Laat hy wat lees oplet.” Almal wat die woorde lees sal kan ‘oplet’ (lees ‘sien’) wat hier gebeur en wanneer dit gebeur. Maar almal wat geletterd is kan sekerlik lees? Die Griekse woord wat met “lees” vertaal is, verwys na baie meer as woorde op papier. Dit verwys eerder na “insig” en geestelike beoordeling. Net die geestelike ‘volwassenes’ word deur God oë gegee om geestelik te sien, en ore om geestelik te hoor wat hier gesê word:
1Kor 2:6-7 Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ‘n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Paulus sê die einde van die ‘eeue’ het reeds in die volwassenes (die “ons” in die teks) aangebreek:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Johannes stem saam dat die “eindtyd” of ‘laaste uur’ reeds in sy tyd was. Hy sê dat die antichris (of ‘gruwel’ soos Jesus die antichris noem) waarna Daniel verwys, deur die volwassenes gesien kan word in die heiligdom:
1Jo 2:18 Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.
As die ‘heiligdom’ ‘n uiterlike fisiese plek is, het God se ‘krag van die dwaling’ geslaag!
2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
‘Hierdie geslag’ of die ‘heiligdom’verwys dus nie na iets uiterlik of fisies nie anders sou almal dit al kon sien en 99% van Christene sou nie so maklik mislei kon word nie met selfopgemaakte stories van valse leraars en profete nie! God het definitief in Sy doel geslaag tot dusver om ‘die skares’ se oë te verblind:
Mat 13:10-11 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle [die skares wat kom vir fisiese wonderwerke tot vandag] deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.
Joh 9:39 En Jesus sê: Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.
Mat 13:34 Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie;
Gaan Jesus fisies kom? O ja! Maar as HY nie eers innerlik kom nie met al die gebeure in Mattheus 24 nie, sal daar baie [dit beteken die meerderheid wat sê hulle glo in Jesus] ontsteldes wees met Sy fisiese koms:
Mat 7:22-23 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Mat 24:4-5 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam [lees Christene] kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.