Die doel van die sonde in ons lewens

Die vlees is ons eerste voog, bestuurder en tugmeester:

Gal 4:1-2 Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal.

Die Skrifte noem dit die eerste mens, Adam.

1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

God het die eerste mens, Adam, gemaak van ‘n tydelike materiaal naamlik STOF en asem daarin geblaas. Hierdie samestelling word ’n ‘lewende siel’ genoem:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Hierdie ‘lewende siel’ was van stof gemaak en naak (sonder enige bedekking en beskerming). Hier is wat Dawid dit noem waarin ons eerste gemaak word:

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Jeremia stem saam met Dawid en beeld dit as volg uit:

Jer 18:3-4 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Vlees is verdoem reg vanaf die hand van die Skepper nog voordat ons iets daaraan kan doen! Paulus stem saam dat die Pottebakker self die klei (stof) in Sy hande as ‘n nietigheid sien en dit boonop ook naak maak:

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

1Kor 4:11 Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond,

As ons die somtotaal van die Woord neem, is die vlees van sy skepping sondig of sonde! Niemand wat uit ‘n vrou gebore word ontsnap die kondisie nie. Selfs Jesus moes in dieselfde vlees gebore word.

2Kor 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Hieroor is die antichriste baie ontevrede!!! Jesus was SONDE gemaak???!!!

Heb 2:14 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—

Die vlees word hier ook ‘die dood’ genoem soos Paulus hier bevestig:

Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Ons het geen keuse daarin gehad nie en die Skepper neem volle verantwoordelikheid daarvoor:
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

God was dus nie onkant betrap toe Adam en Eva ‘misluk’ nie. Hulle was nooit volmaak nie! Hulle het geen beskerming gehad (was naak) teen die versoeking van die Versoeker/Verleier wat deur God gestuur was om hulle te verlei. God het dit alles bestuur…

Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

…soos Hy die dood van Jesus bewerkstellig het…

Hand 4:26-28 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.

…soos die dertien jaar van swaarkry en hel van Josef in Egipte:

Gen 45:5 Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.

Gen 45:8 Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland.

Ons is almal dus eers diensbaar aan die sonde…

Joh 8:34 Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is.

Gal 4:3 So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld.

totdat die tyd vir ons vervul word om losgekoop te word van die oorheersing van vlees:

Gal 4:4-5 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

Iemand vra: het God dan nie die mens in Sy ewebeeld gemaak nie? Wat so ‘n vraag impliseer is dat God alles reeds voltooi het en iewers sit en kyk wat alles gebeur. God is aktief besig in Sy skepping om almal te bring tot die beeld van Sy seun Jesus.

Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Rom 8:29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders;

God is gees en nie van stof nie. Ons (Sy skepsels) moet eers stof wees voor ons gees (in Sy beeld) kan wees:

1Kor 15:46-47 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.

Stof en naakheid (d.w.s. sonde) kan nooit die koninkryk van God sien nie! (het nog nooit die koninkryk van God gesien nie!)

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Hierdie waarheid word deur die vleeslikes gehaat en die vlees smeek by God daagliks vir sy behoud:

Gen 17:18 En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig!

Maar nee, Isak is die erfgenaam van die koninkryk, nie Ismael nie:

Gen 17:19 Toe antwoord God: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou ‘n seun baar, en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as ‘n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.

Gal 4:28-30 Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte; maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook. Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie.

Wie is Isak?

Gal 3:16 Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.

Gal 4:6-7 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.

Die laaste Adam is die Verlosser wat almal in die eerste mens, Adam, weer herskep en geestelike lewe gee (weergebore):

1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Die doel van die sonde in ons lewens

  1. Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s