Die vlees is swak, maar die gees IS gewillig.

Hoekom sondig die mens?

Ons sondig omdat ons vlees (‘die voorwerp’ van stof / klei) doelbewus (‘ter wille van Hom’) in swakheid {‘nietigheid’ / in ‘verganklikheid’) gemaak is deur die Skepper (‘die Pottebakker’):

Gen 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Rom 8:20  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Jer 18:4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluksoos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker

Ons sondig dus ‘in swakheid’ – omdat ons IN VLEES (dit is ‘in sonde’) geskep is deur die Skepper en Hy neem VOLLE verantwoordelikheid vir hierdie skepping….

Lev 4:2 Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand in swakheid sondig teen een van alle gebooie van die HERE en een van die dinge wat nie gedoen mag word nie, tog doen…

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

1Kor 1:29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Die ‘eerste Adam’ is van stof gemaak en dit is die begin (die “genesis”) van die mens van vlees en bloed. Mens is stoflik. Tydelik. As ons sterf, keer ons liggaam terug na die stof en die asem keer terug na die atmosfeer:

Gen 3:19  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Pred 3:19-21 Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en ‘n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs. 20 Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug. 21 Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?

Dit is hoe die eerste Adam tot niet gaan. Hy is ‘n ‘lewende siel’ as sy asem in sy liggaam is. As die asem uit die liggaam gaan, dan is die ‘lewende siel’ DOOD. So kom ‘n ‘lewende siel’ tot ‘n einde. Die dooie siel moet dan wag vir die opstanding waar die ‘laaste Adam’, Jesus Christus daardie siel weer lewe sal gee!

Eseg 18:4  Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.

1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

Daar is dus TWEE “tydperke” waarbinne ons almal sal lewe voordat die proses om ‘soos God te wees’ afgehandel word:

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [die Hebreeusse werkwoord hier is in die onvoltooide vorm – God is besig met ‘n PROSES] na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou [dui aan die begin van die PROSES] het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou [dui aan die bgin van die TWEEDE “tydperk”] maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!

Die woorde ‘As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie’ dui vir ons aan dat die mens NIE in sy eerste “tydperk” van die boom van die lewe kan eet nie. Die mens, die ‘eerste Adam’, KEN DUS NIE wat ‘lewe in ewigheid’ is nie want dit kom slegs deur die ‘laaste Adam’, Jesus Christus – die Boom van lewe:

1Kor 15:47-49 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Dit is slegs as die eerste mens sy aardse mens en sy drange OORWIN het, dan is die Boom van Lewe beskikbaar!

Open 2:7 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.

Open 22:14 Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

Die ‘eerste Adam’ beskryf en definieer dus ons eerste aardse tydperk (eon) waartydens ons INTIEM aan aardshede gekoppel word wat vir ons die nodige taak gee om te leer om goed van kwaad te skei. Dit is die doel van die hele aardse skepping. Ons moet leer. Maar uit die aard van die saak MISLUK ons omdat ons almal eers op ons eie probeer om hierdie dinge te verstaan en te hanteer. Ons kan nie! Maar ons trots en welluste hou ons as gevangenes vanwaar niemand kan ontsnap op sy of haar eie nie! Dit is ‘die wêreld’ waarbinne ons moet bly tot die tyd van verlossing!

1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Dit is ‘n groot frustrasie wat doelbewus so uitgewerk is deur die Skepper om ons tot raserny te dryf. Om verlossing te begeer is wanneer ons absoluut SIEK EN SAT is vir die aardse skepping. Dit is die punt waar ons dan uitroep na Hom, maar dit is ‘n punt wat min mense in hierdie eon kan doen.

Psa 107:1-9 Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! 2 Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het 3 en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af. 4 Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; ‘n stad om in te woon het hulle nie gevind nie. 5 Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag. 6 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered. 7 En Hy het hulle gelei op ‘n regte pad om te gaan na ‘n stad om in te woon. 8 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; 9 want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.

Almal sterf ‘in Adam’ – dit is almal se lot! Ons moet dit eerste besef. Adam was nooit gemaak om vir ewig te lewe nie. God het dit geweet toe Hy Adam UIT STOF gemaak het:

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

Maar daar is ‘n Verlosser aangestel deur God, die Vader.

Jes 9:5 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—

Jesus het ook ‘in Adam’ gekom en tydelike, stoflike vlees geword om ons uit onder hierdie aardse juk te kom bevry:

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Maar Jesus het geweet dat Hy ook sal moet sterf omdat Hy vlees geword het. Alle vlees moet sterf. Selfs Jesus! Jesus het regtig gesterf – nie omdat Hy sonde gedoen het nie, maar omdat Hy ‘IN sonde’ gekom het (was ‘sonde gemaak’):

Psa 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

2Kor 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Jesus was deur middel van Sy moeder IN ‘n sondige liggaam ontvang – dit wil sê Sy liggaam was van dieselfde “stofasie” gemaak as die van sy moeder:

Luk 2:4-7  En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Jesus het in dieselfde vlees as alle mense gekom en was ‘in alle opsigte’ aan alle versoekinge blootgetsel, sonder om te sondig:

Heb 2:14-15 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. 

Heb 2:17-18 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Omtrent drie-en dertig jaar later moes Jesus sterf – Hy moes van Sy tydelike aardse liggaam afskeid neem en Sy ‘laaste asem uitgeblaas’ – :

Mar 15:37  Maar Jesus het met ‘n groot stem geroep en die laaste asem  uitgeblaas.

Hoeveel glo hierdie woorde? MIN. So het Hy het ons sonde en oortredinge op Hom geneem. Hy het dieselfde vlees as ons gehad (swak) – diegene wat dit betwyfel is net hulle wat die gees van die antichris gehoorsaam:

1Joh 4:2-3  Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.

Terwyl Jesus dood was, het Hy nie rond gaan wandel of “ter helle neergedaal” soos die valse “apostoliese geloofsbelydenis” dit wil hê nie. Jesus was dood! Die Skrifte verklaar dat as ons glo dat Jesus DOOD was, en uit die DODE opgestaan het, sal ons gered word:

Rom 10:9  As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;

Hoeveel glo dit? MIN! Diegene wat anders preek en die valse “apostoliese geloofsbelydenis” aanhang, dwaal en ken nie die Skrifte of die krag van God nie:

Mat 22:29  Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

Jesus het die gees sonder perke ontvang en slegs ‘IN Hom’ is daardie gees te kry om die swak vlees te oorkom. Maar om nuwe lewe, d.w.s geestelike lewe te ontvang, sal almal moet sterwe en ontslae raak van alle tydelike en aardse dinge – veral die natuurlike gedagtes. Dit is juis Sy dood wat die OPSTANDING uit die dode moontlik gemaak het! Het het INDERDAAD gesterf vir ons sonde in daardie sin:

1Kor 15:1-4 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;

HY het in vlees gekom en het gesterf en is opgewek om vir ons die pad oop te maak om deur geloof IN HOM deur DIESELFDE PROSES te gaan. Ons moet dus OOK STERF vir ons eie sonde op ons eie kruis – ons moet ons eie lewe aflê!!

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Om te erken dat ALLE vlees swak is, is die begin om die kennis van goed en kwaad te onderskei. Dit opsigself is dus geen verskoning om te sondig nie, want dan maak ons Jesus se koms in vlees meer as Jesus se koms in gees:

2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.

Die geestelike lewe in Jesus Christus bied die enigste oorwinning oor al die versoekinge van die vlees. Net OORWINNAARS beërwe die koninkryk van God:

Open 21:7  Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.

Open 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

 Open 3:12  Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s