Wat is geloof?
Heb 11:1 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
Die woorde ‘vaste vertroue’, ‘hoop’ en ‘dinge wat ons nie sien nie’ verleen ons groot hulp om te bepaal wat geloof NIE is nie. Dit is iets wat ons regtig nie kan sien nie:
1Pe 1:8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,
Geloof gaan gepaard met hoop! Wat is hoop? Hoop wat gesien word is geen hoop nie!
Rom 8:24 Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?
Ons saligheid (ons vrede met God) gaan dus gepaard met hoop en geloof, en albei kan nie gesien word nie. Sonder geloof kan ons nie God behaag of bereik nie:
Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.
Hoe kry ons geloof?:
Rom 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
Mar 9:24 En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!
Geloof behoort aan God en Hy alleen skenk dit – dit is ONVERDIENSTELIK en dit kom alleenlik deur Sy Woord:
Efes 2:8-9 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Ons het nie geloof as God dit nie vir ons skenk nie! Niemand kan spog daarmee nie. God gee ook nie vir almal dieselfde ‘maat van geloof’ nie; dit is ook onderworpe aan ‘n groeiproses:
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Mat 9:29 Toe raak Hy hulle oë aan en sê: Laat dit vir julle wees volgens julle geloof.
Geloof en hoop is dan ook totaal niks as LIEFDE ontbreek nie!
1Kor 13:13 En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.
Wat is liefde? Soos hoop en geloof is dit ook ‘n geskenk van God en kom net deur Sy Woord:
1Jn 5:3-4 Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie. Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.