Die onskriftuurlike konsep van “ewige hel” is ‘n valse leerstelling en is nie deel van die leer van Christus nie:
2Jn 1:9-11 Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke.
Sou dit verras om te weet dat die God van die Bybel en sy profete nooit iemand veroordeel het om te brand in ‘n ewige hel soos die vertalers van die Afrikaanse vertalings van die Nuwe Testament en die groot kerkorganisiasies dit wil hê nie? Ons gaan eenvoudige, maar kragtige bewyse lewer uit die Woord van God dat daar geen skriftuurlike redes bestaan vir hierdie valse leerstelling nie. Hier is die straf vir sonde sommer reg van die begin af duidelik gemaak:
Gen 2:16-17 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
Baie lees hier dat God het aan Adam gesê dat hy hel toe sou gaan as hy van die boom van kennis van goed en kwaad sou eet. Nee? God het nie so iets gesê nie. Hy het gesê dat Adam sou “sekerlik sterwe”.
Regdeur die Ou Testament was almal wat gesondige het deur God gestraf, en die dood was weereens beklemtoon op soveel geleenthede dat dit verbasend is hoe mense anders kan glo. Hier is ‘n paar voorbeelde:
Gen 7:22-23 Alles wat die asem van die lewensgees in sy neusgate gehad het, alles wat op die droë grond was, het doodgegaan [tydens die globale vloed]. 23 So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af. En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was.
Gen 19:24 En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel.
Gen 38:7 Maar Er, die eersgeborene van Juda, het die HERE mishaag. Daarom het die HERE hom laat sterwe.
1Sa 2:25 As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ‘n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle [Eli se seuns] het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.
Hand 12:23 En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom [Herodus] getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.
Nêrens, maar nêrens in die Skrifte, is enigeen na die hel gestuur nie.
Die Jode kan dit vandag bevestig dat daar nêrens in hul geskrifte so iets soos ‘n hel voorkom as straf vir sondes nie. Hier is nog ‘n paar tekse wat beskryf waarnatoe die bose mense in die Ou Testament gegaan het as hulle gesterf het:
Num 16:31-33 En toe hy (Moses) al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle (Korag en sy hele familie) was, en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed. So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.
Psa 9:18 Die goddelose sal teruggaan na die doderyk, al die heidene wat God vergeet.
Spr 5:5 Haar (dit is die vreemde ontugtige vrou) voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe.
“Hel” was nooit genoem as straf….
- vir Kain (die eerste moordenaar);
- of aan die mense wat skuldig was van die boosheid wat gelei het tot die groot vloed in Noag se dae;
- of aan die mense van Sodom en Gomorra;
- of selfs aan die Farao wat die Hebreeuse stamme verslaaf en God herhaaldelik uitgedaag het.
Nie een teks in die Ou Testament sê dat hierdie mense in die hel brand nie!
Wat dit verder bevestig is dat die woord hel NOOIT êrens in enige Afrikaanse vertaling van die Ou Testament voorkom nie. Die vertalers het ten minste die Ou Testament gevrywaar van die valse hel-leerstelling.
Baie leiers van kerkorganisasies en -denominasie lees tot vandag dinge in die tekste in – en ons word gewaarsku deur God se woord om nie dinge by te voeg en dinge weg te laat nie:
Open 22:18-19 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
Ook moet ons nie eens dink bo of buite dit wat nie geskrywe is nie:
1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.
Die siek grap word baie erger as mens dink dat iets wat “ewig” is, tog immers nie ‘n begin en ‘n einde het nie. Ewig is ewig! Die hel was met ander woorde nie geskep nie anders sou dit ‘n begin het…ewige dinge het tog nie ‘n beginpunt nie.
Tog word die valse konsep van so ‘n plek van afskuwelike pyniging as ewig voorgehou asof dit saam met God bestaan het van ewigheid af. Wat ‘n godslasterlike gedagte!
Van begin tot einde is die Bybel absoluut stil oor die “ewige” bestaan of skepping van ‘n sogenaamde “hel”. Nêrens in die Ou Testament noem die Woord van God, ook die Afrikaanse vertalings, dat daar ‘n hel bestaan het nie! Die hel moes sekerlik al in werking gewees het in die Ou Testament! Waarom die stilte? Wel die antwoord is voor die handliggend. Die sogenaamde “ewige helse vuur” bestaan nie.
As iemand sou sê: maar wat van die ryk man en Lasarus in die Nuwe Testament? Wel, jy moet geestelik blind wees as hierdie gelykenis enigiets te doen het met die hel. Gaan maar gerus deur die artikels op hierdie webtuiste oor die onderwerp. Hier is ‘n skakel vir die eerste deel van reeks “Die waarheid oor Lasarus en die ryk man”:
https://4windkoinonia.wordpress.com/2013/02/07/die-waarheid-oor-lasarus-en-die-ryk-man-deel-1/
Maar kom ons kyk hoe die gedagte van ‘n “ewige hel” in die vertalings van die Nuwe Testament ingesluip het.
In die Nuwe Testament is daar ook geen vers wat ooit aankondig dat die straf vir die sonde verander het soos dit in die Ou Testament voorkom nie. Soos in die Ou Testament het die straf vir sonde nog steeds dieselfde gebly – die straf vir sonde is die dood:
Rom 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
Baie mense glo nie dat mense regtig doodgaan nie – hulle lewe voort net na die dood ingetree het. Dit is waar mense se probleem begin. Lees gerus die kort artikel by die volgende skakel om meer uit te vind oor “Wat gebeur by die dood van ‘n mens”:
https://4windkoinonia.wordpress.com/2010/05/03/wat-gebeur-by-die-dood-van-n-mens/
Kom ons kyk eers waar die vertalers van ons Afrikaanse Nuwe Testament nou aan die begrip van ‘n “ewige hel” kom. Die woord “hel” kom tien (10) keer voor in die Ou Vertaling van die Afrikaanse Bybel (die 1933/1953/1954/1957/1992 weergawes) wat aan die meeste Afrikaanssprekendes bekend is. Dit is nege (9) keer van die Griekse woord “geenna” en een (1) keer van die Griekse woord “tartaroo” vertaal.
Dit is immers baie beter as die Engelse vertalings wat selfs die Griekse woord “hades” ook vertaal het as “hell”. Die Afrikaanse vertalers het “hades” oral korrek vertaal as “doderyk”, dank God daarvoor.
Kom ons praat eers kortliks oor die Griekse “tartaroo”. Die woord kom net een keer in die Nuwe Testament voor:
2Pe 2:4 Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel [Grieks: “tartaroo”] gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word.
In die Griekse mitologie is “tartaroo” ‘n plek in die ‘onderwêreld’ – die doderyk. Die teksvers in Petrus bevestig dit ook dat die woord “tartaroo” met die doderyk te doen het. Almal diegene wat gesterf het, is in die doderyk waar hulle wag vir die oordeel. Kom ons plaas die woord “doderyk” in waar dit hoort en kyk of dit sin maak:
2Pe 2:4 Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die doderyk gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word.
Perfek! Alle dooies wag op die opstanding “uit die dode” want hulle is nou nog dood. Die konsep “uit die dode” kom 54 keer voor net in die Nuwe Testament en steeds glo mense dat dooies nie regtig dood is nie. Wel kom ons kyk wat sê die Skrifte oor die toestand van die dooies:
Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. 6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
Hier is ‘n paar bewyse dat mense wat dood is, moet ‘wag’ tot die “opstanding…uit die dode”:
1Pe 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,
Heb 11:17-19 Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, 18 aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word—want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; 19 daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.
Paulus sê ook op verskeie plekke dat selfs hulle wat in Christus gesterf het, nou nog dood is en ‘wag’ op die basuin wat sal klink om hulle op te wek:
1Kor 15:16-18 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.
1Th 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.
Kom ons kyk vervolgens na die Griekse woord “geenna” wat nege keer vertaal is as “hel” in ons Ou Afrikaanse Vertaling. Hier is ‘n paar tekste waar “geenna” voorkom. Ek gaan net drie van die nege verse aanhaal:
Mat 5:22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse (Grieks: “geenna”) vuur.
Mat 5:29 As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel (Grieks: “geenna”) gewerp word nie.
Mat 10:28 En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel (Grieks: “geenna”).
Die ander verse is: Mat 5:30; Mat 18:9; Mat 23:15; Mat 23:33; Mar 9:43; Mar 9:45; Mar 9:47; Luk 12:5; Jak 3:6.
Oor die Griekse woord “geenna” kan egter so ‘n bietjie meer gesê word om die waarheid van die woord na vore te bring.
“Geenna” was ‘n fisiese plek in antieke Israel en is in Hebreeus bekend as “Gehinnom”, of die Vallei van Hinnom. Dit was ‘n vallei uitgekerf deur die rivier Hinnom aan die suidekant van die berg Sion. Die Hinnom-vallei was ook die laagste punt net buite die stad van Jerusalem. In die vallei van Hinnom het konings soos Solomo en die konings van Juda soos Agas en Manasse die aanbidding van die god Molog beoefen. Kinders was hier verbrand en geoffer vir hierdie afgod. Die afgod Molog was ‘n hoofgod van die Ammoriete en ander nasies (die Kanaaniete en Fenesiërs) in vroeë Bybelse tye. Hy is in Tofet, ‘n stad naby Jerusalem aanbid:
1Ki 11:7 Toe het Salomo ‘n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon.
Koning Josia het egter ten tye van sy hervormings die altare vernietig en verhoed dat soortgelyke praktyke sou voortgaan. God het die praktyk sterk afgekeer en verbied dit ook in die boek van Levitikus:
Lev 18:21 En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die HERE.
Jer 7:31-32 En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand—iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie. Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie.
Wat beteken dit alles? Is “geenna” ‘n voorbeeld van ‘n ewige vuur? Nee! Vandag is die plek waar “geenna” was ‘n pragtige park en ‘n toeriste-aantreklikheid buite Jerusalem (dit opsigself sê baie vir die wat dit kan ontvang). Alles wat daar gegooi was, het uitgebrand! Daar is nuwe lewe na die oordeel van God!
Sal enige normale ouer sy kind in die vure van “geenna” gaan gooi? NEE!!! Dit moet iemand wees wat abnormaal dink en deur bose geeste beinvloed word. God het dit verbied, soos reeds genoem! Nou kom die groot vraag tot elkeen wat in so iets glo: Kan ons sê dat God iets sal doen wat Hy self afstootlik vind en ons verbied om te doen?
Dit is wat miljoene mense in sogenaamde Christen kerke egter glo wat God doen en gaan doen!!!!
Die gedagte van ‘n ewige hel kom ook voor in baie godsdienste.
Maar vir hulle wat die waarheid ken en glo in ‘n liefdevolle, deernisvolle, wyse en regverdige God, weet dat die konsep van “hel” ‘n verdraaiing is wat spruit uit ‘n fout van vertalings en eindelik die aanbidding van ‘n demonies afgod uitbeeld.
Dit is die hart van die saak. As iemand nog steeds glo in “ewige” hel na al die skriftuurlike bewyse wat hier aangebied word, dan is so ‘n persoon bereid om selfs sy of haar eie geliefdes aan hierdie afgod af te staan – slegs om eiegeregtig te wees.
Waarom sou die mens se hart die sogenaamde “ewige hel” bedink het as so iets nie in God se hart opgekom het nie? Hier is die rede:
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Die mense se hart is van nature boos en die geloof in ‘n “ewige hel” beeld hierdie diepe boosheid van die mense se hart uit.
Die valse leerstelling word ook baie suksesvol gebruik deur menslike kerk-denominasies en -organisasies wat God se Woord verdraai om die gedrag van die mense te beheer deur vrees in te boesem. Die valse “hel”-leerstelling waarborg ook groei in ledetalle, gereelde kerkbywoning en ‘n goeie inkomste vir die leier(s) en die organisasie. Hierdie organisasies of denominasies gebruik selfs die “naam” van Christus. Dit bevestig die woorde en waarskuwing van Jesus self:
Mat 24:4-5 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
Omdat die woorde uit Jesus se mond gekom het, leef almal juis hierdie misleiding totdat God die uitkoms bring:
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Die emosionele en geestelike skade wat hierdie valse leer van ‘n “ewige hel” aan miljoene mense gebring het, is onberekenbaar. Waarlik, mense kan nie eens sien dat die harte en siele van mense is aansienlik meer werd as die salaris en bankbalans van hierdie afvallige predikers!
2Kor 2:17 Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.
God gaan egter al hierdie booshede uit mense verwyder deur Sy ewige en geestelike vuur – Sy Woord:
Heb 12:29 Want onse God is ‘n verterende vuur.
Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.
Jer 23:29 Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?
Joh 12:48 Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Mar 9:49 Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Open 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
Dankie M______ dat jy my “blog” lees.
Jy skryf:
(Einde van M_____ se skrywe)
God het jou presies waar Hy jou wil hê M____. Ek kan niks bydra tot hierdie gesprek nie – volgens jou versoek. Jesus was ook beskuldig dat Hy valshede verkondig en elke leerling van Jesus gaan deur dieselfde beskuldiging:
Soos jy weet is “Beëlsebul” ‘n ander “naam” vir “Baal” waarvan jy my beskuldig ek aanbid M____. Dr James Strong se Hebreeuse woordeboek beskryf die oorsprong van die woord “Beëlsebul” as volg:
Met jou beskuldiging aan my het jy Mattheus 10 verse 24 en 25 in my lewe bekragtig, en ek buig in nederigheid voor my Heer en Meester, Jesus Christus. Ek sal nooit met jou stry nie, M____:
Ek wil gehoorsaam wees aan die Skrifte:
Daarom onttrek ek my aan jou M_____, in opdrag van die Woord van God.
In Christus, die ware “Yahwe” van die hele Skrif
Larry
Terug pieng: Die ware Apostoliese Geloofsbelydenis | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Ons ken Christus nie meer na die vlees nie | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Die waarheid oor die bestaan, doel en werk van engele in God se plan (Deel 3) | 4windkoinonia
Terug pieng: Gelowiges teenoor die ware dissipels van Jesus | 4windkoinonia