Die leer van die doop is van kardinale belang vir elkeen wat as Christen wil leef want dit vorm deel van die eerste beginsels of fondasie van die leer van Jesus Christus:
Heb 6:1-2 Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.
In die teks in Hebreers 6 is die woord vir doop uit die Griekse woord “baptismos” vertaal wat dieselfde Griekse woord is wat vertaal word as “wassinge” (meervoud) in die tekste:
Heb 9:10 omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge (“baptismos”) en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling.
Mar 7:4 En wanneer hulle van die mark kom, eet hulle nie as hulle nie gewas het nie; en baie ander dinge is daar wat hulle aangeneem het om te onderhou: die wassery (“baptismos”) van bekers en kanne en kopergoed en bedde.
Daar is dus meer as een doop of wassing waardeur ‘n gelowige in Jesus Christus gaan. Die Rooi See en Jordaanrivier waardeur die fisiese Israeliete moes trek tot in die beloofde land, dien as die twee simbole vir die twee belangrike “wassinge” waardeur ons gaan: die een is om uit Egipte te kom, dws die verlossing uit die “wêreld” en sy sonde, en die tweede doop is die om uit die woestyn te kom, d.w.s. die valse kerk of “die vergadering in die woestyn” met sy verdraaiings en valse leerstellings (droë grond en aardse of mensgemaakte godsdiens):
Hand 7:38 Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.
Moses het die volk uit Egipte gelei deur die Rooi See, en Joshua (die Hebreeuse naam vir Jesus) het die volk deur die Jordaanrivier in die beloofde land gelei. Moses het dus die volk in die Rooi See gedoop:
1Kor 10:2 en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see.
Hulle almal was in Moses gedoop. Die Rooi See-doop het nie die mense se harte verander nie, want hulle het nog steeds verlang na die “vleispotte” (of is dit vleespotte) van Egipte:
Eks 16:3 En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe.
Hulle was deur die fisiese wette gelei totdat hulle almal in die woestyn sou sterf want die behoudenis van vleeslike wette bring nie innerlike geestelike lewe nie:
Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.
Jesus het gesê daar is twee geboortes:
Joh 3:3-5 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Die eerste geboorte is dus noodsaaklik om die tweede een verstaanbaar te maak:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Die eerste geboorte is dus nie so belangrik soos die tweede geboorte nie. Die eerste geboorte is uit die vlees – dit koppel met alles wat vir die vlees belangrik is. Dit hou ook verband met die doop omdat die eerste doop is die geboorte uit water. Maar die opkom van die mens uit die water (na die doop in die Rooisee) gee ook aan die mens die idee van wedergeboorte – wat dit nie is nie. Baie gaan deur hierdie doop in hul kerke en glo hulle is nou reeds gered. Dit is ‘n valse geloof wat nooit geestelike vrugte kan dra nie. Ons word wel deur die swaard van die gees (die Woord van God) dodelike wond, maar die wond genees spoedig en ons verval in diep sondes omdat ons nou ‘n godsdienstige dier aanbid op die land (die aarde of mensemaakte godsdiens):
Open 12:18-13:3 En ek het op die sand van die see gaan staan. En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan.
Dit is wanneer ons ons eerste liefde vir Jesus ontvang en ook weer spoedig verloor. In hierdie tyd van ons lewens ken ons die “ander Jesus”. Hy doen dan vir ons vleeslike wonderwerke en hou ons vir ‘n bepaalde tyd binne die raamwerk van die krip in Bethelem tot by die kruis op Golgota. Ons kan nie verder groei totdat ons kan sien dat daar nog ‘n belangrike doop voorlê. Die bekeringsdoop in die Rooisee is nie die doop in die Jordaanrivier nie:
Hand 19:4 Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.
By die tweede ‘wassing’ of doop word die dodelike wond vir die tweede keer toegedien met die swaard van die gees, die Woord van God:
Efes 6:17 En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God.
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Hierdie keer is dit die innerlike besnyding van die hart en hierdie keer is daar geen genesing vir die vleeslikheid nie. Dit is die doop van die gees van God en mer hierdie vuurdoop word die ou vlees en al sy denke stelselmatig vernietig:
Mar 9:49 Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.
Kol 2:11 in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.
Die doop is dus ‘n simbool vir dood van die ou mens en die opwekking van die nuwe mens – Christus in ons:
Luk 12:49-50 Ek (Jesus) het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was! Maar Ek het ‘n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!
Joh 1:33 En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.
Jesus self het niemand met water gedoop nie wat weereens wys die onbelangrikheid van die doop – of dit nou met baie water of met min water gedoen word:
Joh 4:1-2 Toe die Here dan verneem dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes— alhoewel Jesus self nie gedoop het nie, maar sy dissipels.
Water in hierdie sin is dus gelykstande aan alles wat vleeslik is – van geen nut uiteindelik – tog baklei die valse kerke oor hierdie wateraspek asof hul lewens daarvan afhang (die sogenaamde ‘groot doop’ en ‘kinderdoop’). Sommige wil sommer baie keer in die waters van vlees gedoop word asof dit enigsins innerlike verandering kan bring – die sogenaamde ‘wederdoop’ en derglike leerstellings:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Paulus het ook gou geleer dat waterdoop nie so belangrik is:
1Kor 1:14-17 Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus, sodat niemand kan sê dat ek in my naam gedoop het nie. Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop. Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie. Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.
Soos vir Paulus is daar vir die ware gelowiges in die een liggaam van Christus NET EEN doop wat uitstaan en van belang is:
Efes 4:3 en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop.
Daar is net een doop wat ons innerlik verander sodat ons uiterlike lewe ook ‘n kragtige getuie kan wees van die nuwe lewe in Christus:
1Pe 3:18-22 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.
[Besoek ook my YouTube-kanaal by: http://www.youtube.com/user/MrGeorgelarry
as ek u reg verstaan behoort ons as christene, nie soveel waarde te heg aan die doop , asof ons saligheid daarvan afhang nie
Hallo B________
Sover die Skrifte aangaan, is die doop wel ‘n saak van lewe en dood. Soos ek reeds gemeld het beeld die doop die skeiding tussen die ou mens van vlees en die geestelike skepsel in Christus. Kyk maar weer na die tekste en laat die Woord self jou oortuig van hoe belangrik die doop wel is as ons gered gaan word. Redding en saligheid is onlosmaaklik gekoppel aan die doop as ons kan sien wat die doop uitbeeld:
1Pe 3:21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus
Kol 2:12-15 omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. 13 En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, 14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, 15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.
Rom 6:4-5 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. 5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding.
Die Skrifte is baie duidelik.
Jou broer in Christus
Larry
Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord