As mens nie weet wat en waar die hemel is nie, sal jy nooit verstaan wat die volgende woorde beteken nie:
Open 12:7-9 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.
Soos ons weet is die hemel saam met die aarde geskep. Die hemel is waar God ‘n woonplek vestig waarin Hy met alle mense werk, terwyl ons weet dat alle hemele nie groot genoeg is om God te bevat nie:
Gen 1:1-2 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.
2Kron 2:6 Maar wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ‘n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek?
Soos die aarde woes en leeg was en die watervloed in duisternis gehul was, weet ons dat dit die toestand van elke mens is voordat die Waaragtige Lig uit die duisternis geroep word:
Gen 1:3-4 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis;
Die duisternis is dus eerste in ons harte en dit is waarom daar ‘n oorlog in die hemel is. As God die Lig na vore roep, dan is daar geweldige weerstand deur die duisternis want vannature is die mens geheg aan vir die vlees, die duistenis:
Joh 3:19 En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.
Dit is die toestand van ons hemel van ons geboorte af – dit wil net die verkeerde doen. Maar alle vlees en duisternis in ons sal uitgedryf word deur die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus:
2Kor 4:6 Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.
Van kleins af probeer ons ouers en opvoeders ons die regte pad te wys – dit is slegs ‘n tipe of skaduwee van die dieper oorlog wat binne-in ons aan die gang is – die geestelike oorlog in ons hemel. Geestelike oorlogvoering is ‘n wyse van ons daaglikse lewe. Oorlog in die hemel is ‘n geestelike stryd en is nie ‘n eenmalige ervaring wat verby is binne ‘n bestek van ‘n paar dae, of weke, of maande of jare nie. Dit word ook nie gevoer met wapens van die vlees nie:
2Kor 10:4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is. Want hoewel ons in die vlees wandel, het ons die stryd nie volgens die vlees.
Dat die wapens van God wat elke vleeslike gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus wys dat dit ‘n lewenslange stryd teen die “owerhede en magte wat “in die hemele is” – nie teen die uiterlike vlees en bloed nie:
Efes 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug (in die hemel).
Die woord “lug” in die teks is so vertaal om die idee te gee dat die stryd buite is – in die atmosfeer. Maar die woord in die oorspronklike Grieks verwys na die hemel. En as ons weet waar die hemel is wat God van praat, dan weet ons ook waar die worstelstryd is – binne, nie buite nie. Die eintlike stryd is in die hart van die mens – dit is jou gedagtes soos 2Korinthiërs 10 vers 5 duidelik sê – “elke gedagte”. Ons veg die oorlog in die hemel teen al die leuens en valse leerstellings van die heersers, owerhede wat ons harte (ons hemel) en ons lewenswandel aanvanklik bevuil:
Efes 2:1-3 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.
Die draak is die duiwel en al sy dienaars (dit is sy boodskappers) is subtiel en doen hul voor as draers van ware Lig – hulle gebruik selfs die Naam van Jesus en verkondig ‘n valse evangelie wat baie mense in glo en getrou volg:
Open 20:2 En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank,
2Kor 11:14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.
Die draak en al sy dienaars sal ontbloot word in elke persoon se lewe “in die laaste dae” van die duisternis (vleeslike denke). Daardie dag is ‘n dag van groot skok wanneer die waaragtige Lig en die ware evangelie deur “bloed en vuur en rookdamp” na vore geroep word:
Hand 2:17-21 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord