Waar was Jesus na Hy gekruisig was, en voor Hy opgestaan het uit die dode?

Waar was Jesus voor Sy opstanding uit die dode?  Wel hy was dood en in die graf / doderyk soos die Skrifte verklaar:

1Kor 15:3-4  Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte, en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte.

Vir baie is dit onmoontlik om te glo. Was Jesus regtig dood of was Hy lewendig, soos gepreek word deur hulle at die Woord verdraai. Die Skrifte verklaar Jesus was REGTIG DOOD. Hy was op geen ander plek behalwe in die graf waar hulle Hom begrawe was:

Joh 19:41-42 En daar was op die plek waar Hy gekruisig is, ‘n tuin, en in die tuin ‘n nuwe graf waar nog nooit iemand in neergelê was nie. Daar het hulle Jesus toe neergelê weens die voorbereiding van die Jode, omdat die graf naby was.

Die teks sê dat hulle het nie net Sy liggaam daar neergelê nie, maar Jesus self! Baie glo dat Jesus nie in die graf was nie, net Sy liggaam. Hulle glo dat as mens dood is dan is jy lewendig op ‘n ander plek. Die Woord van God stem egter nie saam nie:

Pred 9:5  Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.

“Die dooies weet glad NIKS nie”. Min het geloof ontvang om die woorde te glo en dan kom hulle met allerhande verduidelikings wat nêrens in die Skrifte voorkom nie.

Jesus was ook dood en het “glad van niks geweet nie”. Dit is baie harde woorde as jy vir lare lank leuens gevoer was. Kom ons kyk na twee plekke wat die leuenaars opdis waar Jesus was.

Die eerste plek waar hulle sê waar Jesus was toe Hy eintlik dood was, was die hemel of die paradys. Die leuenaars sê dat Jesus het tog self so gesê vir die kwaaddoener wat saam met Hom gekruisig was. Het Hy regtig? Kom ons lees:

Luk 23:39-43 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? — ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie. En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

Ons sal nou wys wat Hy regtig gesê het want Hy sal nie die Skrifte weerspreek dat alle dooies “glad niks weet nie”.

Die tweede leuen is dat Jesus in die hel was en hier is ‘n teksgedeelte wat verdraai word om die leuen oor te dra. Kom ons kyk wat die teks regtig sê as mens dit self lees:

1Pe 3:18-20  Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus

Ons gaan later ook oor die gedeelte praat net om die leuens uit te wys wat sê dat Skrifte wat sê dat dooies “glad niks weet nie” nie regtig waar is nie!

Dan is daar ‘n groep mense wat albei die twee leuns glo en kan nie eens sien die twee opinies sluit mekaar uit nie. Jesus kom tog nie in die paradys en in die hel gewees het nie. Maar as jy leuens glo sal dit nie eens vir jou belangrik wees om te sien nie.

Hopelik sal hierdie skrywe meer lig op die saak werp, want daar is sekerlik net een plek waar Jesus was – in die doderyk vanwaar Hy opgewek was, volgens die Skrifte:

1Kor 15:3-4  Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte, en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;

Kom ons gesels eers oor die kwaaddoener aan die kruis.

Daar is geen kort paaie na die koninkryk van God nie – geen. Die rede waarom die valse leraars hierdie kwaaddoener se oombliklike redding so verkondig, is om mense by hul eie kerkies (of koninkrykies) in te lyf vir ooglopende redes (getalle en geld). Baie glo dan ook in ‘n onbybelse kort gebedjie wat die afvallige Christendom die “sondaarsgebed” noem om die saligheid so goedkoop as moontlik aan te bied. Met die sogenaamde “sondaarsgebed” moet jy net bely dat jy in Jesus glo  – dat Hy vir jou gesterf het en dat Hy jou sonde vergewe het, en siedaar jy is in die koninkryk van God. Om te bid en ons sonde te bely is Skriftuurlik en ons moet dit altyd doen. Maar om te leer dat dit al is wat ingang in die koninkryk te verseker is ‘n leuen. Jesus waarsku egter baie streng teen so ‘n valse leer:

Mat 7:21  Nie elkeen wat vir My : Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Ons moet die WIL van God ook doen. Die Woord van God sê wel dat elkeen wat op die naam van die Here roep, gered SAL word, maar dit is nie al wat Petrus op daardie geleentheid gesê het nie:

Hand 2:17-21 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

“….bloed en vuur en rookdamp” is ook deel van God se wil vir ons. Dit is part en deel van die hele reddingsproses – ja redding is ‘n proses volgens die hele inhoud van God se Woord en hoeveel wil daarvan hoor?

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

MIN kan verstaan dat ons van die “hele inhoud” van God se Woord moet leef om God se Wil te ken en te DOEN!

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Daar is ‘n proses van verdrukking en lydsaamheid aan ‘n belydenis gekoppel  as ons na die hele inhoud van God se Woord kyk. Om die Naam van die Here aan te roep is deel van hierdie proses:

Hand 2:21  En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Om Jesus se “Naam” aan te roep is NIE om die woord “J-E-S-U-S” harop te sê nie. Sy Naam is Sy Woord en Sy Wil. Lees gerus by die skakel wat ons moet verstaan van die “Naam” van Jesus:

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/01/08/n-naam-is-betekenisvol-en-funksioneel/

Ons verkry die “Naam” van Jesus deur te gaan deur ‘n lydsame proses wat beskryf kan word soortgelyk aan wat ‘n atleet moet deurgaan in die voorbereiding en deelname aan ‘n wedloop:

Heb 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.

God se saligheid kom slegs deur Sy vure oordeel – “die dag” van die Here:

1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Die dief aan die kruis was iets belowe wat God aan elkeen sal gee as HY deur die “vuur” gekom het. God maak geen uitsonderings as Hy sê dat Hy tugtig elke seun (en dogter) wat Hy aanneem – niemand spring dit vry nie, veral nie hulle wat glo in ‘n kits- of sondaarsgebed nie:

Heb 12:6-8 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie.

Die kwaaddoener sal ook moet getugtig word om ‘n seun van God te word…niemand is uitgesluit nie!!! Wat baie min kan sien is dat die vuur van God mense red:

1Kor 3:15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Deur God se vuur sal ons skade ly omdat ons van ons ou lewe gereinig sal word. Hierdie leer van God se vuur het niks te make met die Katolieke leer van die vagevuur nie. Die oordeel van God is heeltemal ander as wat die leer verkondig. God se vuur is wie Hy is en wat Sy Woord is:

Heb 12:29 Want onse God is ‘n verterende vuur.

Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Baie min kan die verbintenis tussen die drie teksgedeeltes wat hier saam gekwoteer word. Mense word selfs geleer ddeur die valse leraars dat hulle moet sover as moontlik God se vuur vermy. Verbeel jou! Hoe absurd.

Deur God se vurige oordeel LEER almal geregtigheiddit is die enigste manier om uit te vind van God:

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Almal wat gered word moet God se geregtigheid ken en nie op hul eie geregtigheid staatmaak nie. Dit is absurd om te sê ek glo in God maar ek wil Hom en Sy geregtigheid nie ken nie.

Laat ons weer kyk na wat Christus die kwaaddoener belowe het:

Luk 23:43 En Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys.

Dit was, geen twyfel, baie troosvolle woorde vir hierdie kwaaddoener wat op daardie oomblik gespreek was toe hy en Christus die naderende dood in die gesig gestaar het. Maar as ons weet wat, of liewer, wie die “Paradys” is, sal ons beter verstaan wat hier gesê was. Die paradys, soos die hemel, is nie ‘n geografiese plek wat Christus aan die dief belowe het nie. Paradys is geestelik – dit is waar Christus in die gees is. Dit het niks te make met ons konsepte van plekke en ruimtes nie. Paradys is net in Christus. Daar is geen beter plek om te wees. Paulus se ervaring van ‘n “wegrukking” tot in hierdie “Paradys” is nie geskryf om ons te vertel wat ‘n spesiale persoon die apostel Paulus was nie. Paulus was opgeneem in Christus en het God se geregtigheid leer ken in God se “Paradys” – Jesus Christus! Dit is ook wat die “derde hemel” beteken:

2Kor 12:2-4 Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit— dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.

Die derde hemel is die troon van God en dit is waar Jesus se “sin” of denke heers:

1Kor 2:16  Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

Almal, die dief ingesluit, gaan in hierdie “sin van Christus” opgeneem word soos Jesus DAARDIE dag aan hom belowe het. Ja, Jesus het  daardie dag hierdie belofte aan die kwaaddoener gemaak. Hy maak dieselfde belofte vandag aan almal wat hulself as kwaaddoeners kan sien.

Heb 4:6-7 Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, 7 bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.

Kom ons lees weer en kyk of God jou oë sal oopmaak as jy nog nie hierdie teks kan sien soos dit behoort te lees:

Luk 23:42-43  En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

Die komma is deur die vertalers van die Afrikaanse Bybel bygesit, en ook dan op verkeerde plek. Hier is die komma en die sinskonstruksie reggestel, vir hulle wat dit kan ontvang:

Luk 23: 43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou vandag, jy SAL saam met My in die Paradys wees.

Elke knie gaan buig en elke tong sal bely, deur die gees van God in hulle, dat Jesus die Here is, ook die van albei kwaaddoeners wat saam met Jesus gekruisig was op DAARDIE dag:

Open 2:7  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.

Kom ons kyk na die ander valse leerstelling wat beweer dat Jesus in die hel was toe Hy dood was? Nie een van Jesus se ware apostels was betrokke by die skrywe van die sogenaamde “Apostoliese Geloofsbelydenis” wat deur bykans die hele afvallige Christendom weekliks (daagliks?) hardop gelees word. Nee, Jesus het nie “ter helle neergedaal” nie. Hy was dood en dooies “weet glad niks nie” – volgens die Skrifte! Die valse “Apostoliese Geloofsbelydenis” verklaar ook dat daar ‘n “opstanding van die vlees” sal wees. LEUEN! ALLE vlees en vleeslikheid sal vernietig word en ‘n geestelike liggaam word opgewek volgens die Woord van God:

1Kor 15:44  ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.

Die geestelike ligaam het niks te make met ‘n aardse konsep van wat ‘n “liggaam” behels nie. NIKS! Die volgende skrifteks word verdraai deur die valse apostels en profete in die afvallige Christendom om hierdie valse leer dat Jesus “ter helle neergedaal” te bewys. Maar lees weer wat hier geskrywe staan:

1Pe 3:18-20  Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus

Die woorde “in die dae van Noag” is die konteks van die verse in 1Petrus! Baie kan die woorde nie eens sien nie. Jesus het deur Noag gepreek! Jesus Christus is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde gees:

Heb 13:8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Jesus Christus was gees voordat Hy in die vlees gekom het. Hy het ook “in die dae van Noag” die boodskap van ‘n redding deur middel van Noag aan daardie mense “in die dae van Noag” gebring. Dit is al die kwaaddoeners wat “die geeste in gevangenis is…in die dae van Noag”! Almal wat in sonde leef is in ‘n gevangenis van sonde!!!

Jes 42:6-7 Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.

Wie op dees aarde (of liewer, wie in dees hel) sou in die sogenaamde “ewige helse vuur” wou brand en bly brand as Jesus gegaan het om die wonderbaarlike evangelie daar te verkondig en aan hulle oombliklike verlossing en hemel belowe het!! Wel as jy geestelik blind gemaak is deur al die leuens van die afvallige Christendom, kan selfs ‘n gesonde verstand jou nie help nie. Net die gees van God kan jou uit daardie geestelike gevangenis uitkry:

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier and tagged . Bookmark the permalink.

3 Responses to Waar was Jesus na Hy gekruisig was, en voor Hy opgestaan het uit die dode?

  1. A_________ sê:

    Ek is besig om op te lees oor waar gaan mens se siel wanneer jy sterf

  2. Terug pieng: Hoe om geeste te onderskei | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  3. Terug pieng: ALMAL sal SEKERLIK sterf! | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s