Die skeppingsdae van Genesis een bied vir ons ‘n baie goeie insig in die verbinding en groei in ons begrip van geestelike dinge:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Elke skeppingsdag is verbind aanmekaar om die proses van dieper geestelike groei uit te beeld. Deur hierdie verbinding word die skeiding van gees en vlees ook verder belig en uitgebou. Op dag vyf word die waters wat onder die uitspansel is ‘n dieper betekenis en begrip gegee:
Gen 1:20-23 En God het gesê: Laat die waters wemel met ‘n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel. En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.
Dit is interessant om te let daarop dat die wesens in die waters saam met die voëls wat vlieg langs die uitspansel van die hemel, geskep word. Ons sal later duideliker sien waarom dit so gedoen was en wat ons daaruit kan leer. Ons weet reeds dat die waters onder die uitspansel geskei is van die waters bo die uitspansel op dag twee:
Gen 1:6-8 En God het gesê: Laat daar ‘n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.
Hierdie skeiding volg op en sluit aan by die skeiding tussen die duisternis en lig wat op dag een deur God duidelik gemaak word omdat die dae opmekaar volg en sodoende skakel met mekaar:
Gen 1:4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis;
Die duisternis word dus verder uitgebou deur die waters onder die uitspansel waarna Jesus verwys as die vleeslikheid waarin ons eerste gebore word:
Joh 3:5-6 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Die waters op dag vyf bring dus lewende wesens voor wat gekoppel word aan geestelike duisternis. Dit word bekragtig deur te kyk na die Hebreeus vir die Afrikaanse woord “seediere” in die volgende vers:
Gen 1:21 En God het die groot seediere (Hebreeus: “tannıyn”) geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.
Die Hebreeuse woord “tannıyn” verwys na ‘n see- of landmonster, of seeslang, of ‘n jakkals, of ‘n draak, of ‘n slang, of ‘n walvis. Dit is baie insiggewend as ons verder kyk na twee gedeeltes waar dieselfde woord ook voorkom:
Eseg 29:2-5 Mensekind, rig jou aangesig teen Farao, die koning van Egipte, en profeteer teen hom en teen die hele Egipte. Spreek en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Farao, koning van Egipte, jou groot draak (Hebreeus: “tannıyn”) wat in jou strome lê, wat sê: My stroom is myne, en ek het dit vir my gemaak. Maar Ek sal hake in jou kakebene slaan en die visse van jou strome aan jou skubbe laat klewe; en Ek sal jou uit jou strome optrek, saam met al die visse van jou strome wat aan jou skubbe klewe. En Ek sal jou wegwerp in die woestyn, jou en al die visse van jou strome; op die oop veld sal jy val; jy sal nie bymekaargemaak of versamel word nie; aan die wilde diere van die aarde en aan die voëls van die hemel gee Ek jou as voedsel.
Jes 27:1 In dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak (Hebreeus: “tannıyn”) doodmaak wat in die groot water is.
Hier sien ons nie net die verskillende beskrywende name van hierdie draak nie, maar ook die verbintenis tussen die geestelike begrippe van Egipte, die see, en die diere in die see. In Openbaring word hierdie name verder bevestig en ook die beperkings waaronder die Leviátan, die vinnige kronkelende slang wat dink dat die strome en die waters aan hom behoort, kan beweeg:
Open 12:7-9 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.
Open 20:1-2 En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank,
Die draak of slang wat Satan is en al die seediere en die voëls wat ‘langs die uitspansel van die hemel’ vlieg was saam op dag 5 geskep en dus verbind met mekaar. Almal hierdie “diere” is onder God se totale beheer. Hier gee Jesus vir ons wat hierdie voëls ‘langs die uitspansel van die hemel’ voorstel:
Mat 13:3-4 En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek en gesê: ‘n Saaier het uitgegaan om te saai; en terwyl hy saai, val ‘n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet.
Mat 13:18-19 Luister julle dan na die gelykenis van die saaier. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is—dit is hy by wie langs die pad gesaai is.
Die voëls ‘langs die uitspansel van die hemel’ is geestelik verteenwoordigend van die bose – dit is bose engele met hul vals leerstellings. Hierdie bose engele verbind ook direk met die seediere (Hebreeus: “tannıyn” – see- of landmonster, seeslang, jakkals, draak, slang). As ons dus geestelike oë gegee is kan ons duidelik sien wat hier vir ons gesê word. Alles verwys na die skepping van die “inwoners” of “werkers” in die geesteswêreld. Hierdie wesens doen presies waarvoor God hulle geskep het:
Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Gen 1:21-22 En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder.
God sê dat al hierdie wesens se skepping ‘goed was’ alhoewel hulle boos was vanaf hul skepping. Maar alles, dit is die goed en kwaad (bose) is deur God geskep vir Sy doel. Dit sluit in beide die lig en die duisternis; die heil en die onheil, die boom van die kennis van goed en kwaad. Slegs God alleen kan die bose, die duisternis, die onheil gebruik vir Sy doel. God laat die wesens opereer onder Sy instruksies alleenlik en hulle is ‘vrugbaar’ (dit is suksesvol) vir daardie doel. Die bose is nie soos die afvalliges dit wil hê, onbeheerbaar en op ‘n vrye wil aangewese nie. Nee, God werk alles volgens Sy raad en perfekte plan:
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.