Die boek van Genesis handel oor beginsels – op die natuurlike vlak, maar veral ook op die geestelike vlak. Sonder ‘n korrekte fondasie kan geen gebou stand hou nie. Ook gee Genesis vir ons die beginsels of fondasie van alles wat God met mens doen:
Sag 8:9 So sê die HERE van die leërskare: Laat julle hande sterk wees, julle wat in hierdie dae sulke woorde gehoor het uit die mond van die profete op die dag toe die fondament gelê is van die huis van die HERE van die leërskare, die tempel, om gebou te word.
As ons nie Genesis reg benader of verstaan nie, sal die res van die Bybel geslote bly. Ons het reeds in Genesis hoofstuk een gesien hoe God stelsematig alles in ons lewens (natuurlik en geestelik) skep en bestuur. Alles in die natuurlike wêreld bied vir ons innerlike geestelike begrip. Anders bly die Bybel ‘n historiese boek met verhale wat oor ander mense handel wat vir ons geen persoonlike betekenis of toepassing het nie. Maar al die woorde in die Bybel is vir ons neergeskryf om ons in te lig van ons eie lewens:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Luk 4:4 Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing (Grieks: “tupos” = tipe) aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Ons lees dus waarhede wat eintlik direk betekking het op ons as ons oë gegee is om dit te sien. Alles wat met die karakters in die Bybel gebeur, byvoorbeeld, is “tipes” van ons – dit is ons “skaduwee” as ek dit so kan noem!!! Ons is die anti-tipe of vervulling as ons geloof gegee is om dit te kan aanvaar (Mattheus 4:4) Ons begrip van ons eie lewens word met elke woord en vers in God se Woord verder uitgebou, soos die volgende verse ook sal uitwys:
Gen 2:5-6 was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig.
Ons het reeds in Genesis 1:2 gesien dat die aarde aanvanklik doelbewus woes en leeg gemaak is, en hier word dit bevestig deurdat daar selfs nie eens reën geval het nie. Daar was slegs ‘n mis wat opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig het. Hierdie “mis” bevestig ook weereens die dieper beginsel van hoekom God alles tydelik en kortstondig op die aarde maak. Alle aardse dinge was nooit veronderstel om vir ewig te bestaan nie:
1Pe 1:24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
Jak 4:13-15 Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.
Die aarde (soos ons lewens) was eers woes en leeg en slegs tydelike aardse dinge word gegee wat die lewe op aarde moet aan die gang hou. Niks in die tydelike skepping is vir ewig nie. Die aarde is net soos die eerste mens Adam reeds van sy skepping in die hand van die Pottebakker onderworpe aan mislukking of nietigheid:
Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Adam het dus nie self sy skepping en nietigheid gekies nie, net soos niemand sy geboorte en vleeslike kwaliteite self kan bepaal nie. God is in beheer van Sy hele skepping van begin tot einde en dit sluit ook die geestelike wêreld in, Satan inkluis. ‘Woes en leeg’ verteenwoordig dus dieper geestelike begrippe as ons oë gegee is om dit te sien. Adam was uit die aarde en het dus dieselfde kwaliteite van die aarde en is aangewese op dit wat die aarde voorsien. Die oorsprong van die Hebreeuse woord vir Adam is dieselfde vir “grond” of “aarde” in Hebreeus:
Gen 2:7 En die HERE God het die mens (Hebreeus: “âdâm”) geformeer uit die stof van die aarde (Hebreeus: “ădâmâh”) en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Die eerste man en sy vrou was gesamentlik bekend as “Adam” – dit is die naam van die fisiese mensdom:
Gen 1:26-27 En God het gesê: Laat Ons mense (Hebreeus: “âdâm”) maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens (Hebreeus: “âdâm”) geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
Die aardse mens (‘die eerste mens Adam’) was nog nooit geestelik nie, maar was en is nog altyd die teenoorgestelde van die geestelike. Daar sal altyd ‘n stryd tussen dit wat aards is en dit wat geestelik is:
Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
Die aardse mens speel egter ‘n kardinale rol in God se skeppingsplan en alles wat God in die fisiese skep maak wentel eerste alles rondom hierdie aardse mens. Die hele fisiese skepping is slegs ‘n eerste fase in God se plan om alle aardse mense uiteindelik geestelik te maak. Die nuwe geestlelike skepping is dus in groot afwagting vir die aardse om totaal vernietig te word en daar is geen vergelykings nie:
Rom 8:18-22 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.
Enigeen wat dus sê dat hierdie fisiese skepping perfek was en veronderstel was om vir ewig te bestaan, is totaal verblind en ken nie die waarheid nie. Fisiese dinge was nog nooit en kan nooit geestelik wees nie:
Joh 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
God het vir die mens natuurlike dinge op aarde geskep om tydelik te geniet en daarvan te leef en afhanklik daarvan te wees:
Gen 2:8-9 Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.
Hierdie twee bome was reg in die middel van alles geplaas om altyd Adam en Eva se aandag te kry. Maar daar was ook ‘n gebod gegee – die eerste gebod wat mens ontvang het:
Gen 2:16-17 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
Daar is altyd ‘n baie goeie rede waarom God aan die mens ‘n gebod gee. God weet alles en daarom weet Hy wat Hy doen. Hy het geweet watter een van die twee bome hulle belangstelling sou uitlok. Paulus gee vir ons die antwoord waarom God ‘n gebod bring:
Rom 7:7-13 Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood. En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe. En die gebod wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees. Want die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en my verlei en daardeur gedood. Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word.
Adam en Eva het geen kennis gehad van goed of kwaad nie. Hulle het dus nie God geken nie want God is goed, en hulle het ook nie hulself geken nie. Hulle het nie hulle eie kwaad, d.w.s hul bose ‘begeerlikhede’ as sulks geken nie. Slegs deur ‘n gebod of wet word ons bewus gemaak van die ‘goed’ en die ‘kwaad’ en alles wat in ons harte skuil:
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
God het dus ‘n baie goeie rede gehad om die boom van kennis van goed en kwaad reg in die middel van die tuin te plaas en dan ‘n gebod te gee om nie daarvan te eet nie. Het God Adam en Eva hiermee versoek? Jakobus help ons nog verder:
Jak 1:13-15 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.
Daar is die proses waaraan Adam en Eva onderwope was duidelik uitgespel. Hulle het begeertes gehad en die gebod wat God gemaak het ‘maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie’ het die begeerte ‘aanleiding’ gegee! Maar om hulle verder te help om nie net hulle self te ontdek nie maar ook wie God is, het God ook ‘n versoeker gemaak om hulle te versoek:
Gen 3:1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?
Die Hebreeuse woord “ârûm” in die teksvers beteken “wys of vernuftig” in ‘n negatiewe wyse. Die ou slang, Satan of duiwel, was ook gemaak met dieselfde begeertes as wat die “Adam” mee gemaak is. Hy was egter ook as ‘n mensemoordenaar en leuenaar gemaak om mense (die fisiese Adam) te mislei en te versoek:
Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Selfs Jesus in sy aardse vorm moes onderwerp woord aan dieselfde versoeking waaraan ‘almal in Adam’ onderworpe is:
Mat 4:1 Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.
Jesus, ‘die laaste Adam’, was egter anders as ‘die eerste mens Adam’ omdat Hy die gees in volheid gekry het en elke versoeking kon weerstaan. Dieselfde Jesus sal aan elke aardse mens hierdie oorwinningsgees of ‘lewenmakende gees’ skenk op die tyd soos die Vader bepaal het:
1Kor 15:45-50 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.