Ons is besig om deur middel van die eerste boek in die Bybel, naamlik Genesis, sekere beginsels uit te lig wat God neergelê het vir die wat oë gegee is om dit kan sien. Een van die beginsels is dat die aardse mens sekerlik sterwe want ‘die loon van die sonde, is die dood’. Sonde is die toestand van ‘n aardse liggaam uit die hand van die Skepper :
Gen 2:17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
Rom 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
Die valse toepassing van die gelykenis van Lasarus en die ryk man om ‘n ewige hel as die loon vir sonde te verdraai, is een van die skokkendste mistastings deur hierdie afvallige Christendom en dien terselfdertyd as ‘n vangnet en strik vir hulself. Hier is die gelykenis volledig:
Luk 16:19-31 En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur— want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. 30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.
In dele 1 tot 3 van hierdie skrywes oor hierdie gelykenis van Lasarus en die ryk man, het ons reeds die volgende vasgestel deur geestelike met geestelike:
- Jesus het die gelykenis op die Fariseers gemik omdat hulle geldgierig was;
- Alle gelykenisse is van begin tot einde figuurlik en bevat belangrike geestelike waarhede wat die natuurlike mens se denke nie kan verstaan nie omdat dit geestelik beoordeel moet word;
- Die ryk man verteenwoordig hulle wat deur God verblind word om te dink dat hulle geseënd is deur na hul fisiese besittings en posisie te kyk;
- Die rykes se ‘tafel’ is inderwaarheid gedek met valse “seëninge” en leerstellings terwyl hulle niks dink van die “krummels” (die ware leerstelings van God) wat van hul tafels gevee word;
- Die ryk man verteenwordig dus hulle wat God se Woord verdraai vir tydelike en persoonlike gewin;
- Lasarus, staan teenoor die ryk man in hierdie gelykenis. Hy verteenwoordig hulle wie die ware kinders van God is al lyk dit nie so vir hulle wat tans in hierdie wêreld geseën word met fisiese dinge;
- Lasarus word met honde geassosieer wat sere lek omdat hy as laer en onbelangrik gesien word deur diegene wat hulleself verhoog en bestempel as God se uitverkorenes;
- Lasarus verteenwoordig hulle wat verwerp word omdat hulle min in getal is en derhalwe nie geestelik verhewe kan wees as die baie hooggerespekteerde populêre leiers met hul kwalifikasies en ooglopende groot getal volgelinge nie.
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Die gees van God leer ons om geestelike met geestelike vergelyk en slegs dan kan ons die waaarheid oor die gelykenis van Lasarus en die ryk man begryp:
1Kor 2:12-13 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Lasarus eindig egter in ‘n baie beter posise as diegene wat nou hul “rykdom” wil uitstal en die goue strate in hierdie wêreld wil gewandel. By sy dood word Lasarus deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. Ons weet dat engele die boodskappers van God verteenwoordig:
Psa 104:4 wat van die winde (Hebreeus: “malâk” = engel of boodskapper) sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars.
Gen 16:7 En die Engel (Hebreeus: “malâk” = engel of boodskapper) van die HERE het haar by ‘n fontein in die woestyn gevind, by die fontein op pad na Sur,
Die ware boodskappers of engele van God bring altyd die waarheid na ons deur die prediking van die Woord van God. Deur na die prediking van die Woord te luister kry ons geloof:
Rom 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
Die afvalliges wat beweer dat hierdie gekykenis as letterlike geinterpreteer moet word loop hulle self vas teen ‘die boesem van Abraham’. Gaan alle “goeie” mense na die letterlike die boesem van Abraham? Onmoontlik. Dit bewys weereens dat hierdie ‘n gelykenis is en dat die verhaal figuurlik van begin tot einde gesien moet word. Lasarus is deur die engele na ‘die boesem van Abraham’ geneem. ‘Die boesem van Abraham’ is dus ‘n geestelik konsep om die “plek” uit te beeld waar hulle is wat die woord van die boodskappers van God met geloof ontvang:
Gal 3:6-7 Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.
Efes 2:8-9 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Gal 3:29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.
Maar wat van die naam “Abraham” vra die afvalliges? Dit was definitief ‘n letterlike persoon. Maar Abraham word ook as ‘n simbool in die gelykenis gebruik omdat Abraham self nie die belofte van die Vader ontvang het nie – hy is nog steeds dood met ander woorde:
Heb 11:8 Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.
Heb 11:13 In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.
Lasarus se posisie binne-in ‘die boesem van Abraham’ verteenwoordig dus die denke en geloofsoortuigings van hulle wat daagliks sterf om verlossing te verkry van hulle vleeslikheid in alle vorms en deur God se boodkappers gedra word om deur geloof alleen hul geestelike redding as ‘n onderpand te aanvaar:
Efes 1:13-14 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.
Hierdie is ‘n geestelike “plek” of posisie wat aan hulle wat dit ontvang geweldige troos skenk. Die ryk man moes sy oë ‘ophef’ want die posisie waarin Lasarus homself bevind is ver verhewe bo elke ‘naam’ wat op die aarde genoem word.
Fil 2:9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
Paulus verwys ook van hierdie geestelike “plek” of posisie as die derde hemel of die paradys waar hulle wat as ‘swak’ deur die wêreld bestempel word, ‘weggeruk’ word deur God en nie deur enigiets wat hulle self doen nie:
2Kor 12:2-5 Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit— dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie. Oor so ‘n man sal ek roem, maar oor myself sal ek nie roem nie, behalwe in my swakhede.
Christus en Sy denke is hierdie geestelike “plek” wat ook as die paradys bekend staan waarna almal uiteindelik ‘weggeruk’ of “getrek” sal word deur die Vader:
Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Fil 2:10-11 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
In deel 5 sal ons verder kyk na wat die ander simbole in die gelykenis van Lasarus en die ryk man beteken vir hulle wat dit kan ontvang.
Hier is ‘n ander skakel oor wat en waar die hemel is:
[http://youtu.be/UeNTmgfSTUk]