Die waarheid oor Lasarus en die ryk man (Deel 5)

Die gelykenis van Lasarus en die ryk man is een van ‘n reeks van vyf gelykenisse in Lukas 15 en 16 wat Jesus aan die Fariseers en ander vertel het omdat mense, en veral die Fariseers, baie hoog van hulself gedink het en nie omgegee het vir die “verlorenes” en “vervloektes” – die uitgeworpenes soos die sondaars en tollenaars:

Luk 15:1-2  En al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te luister.  En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.

Joh 7:47-49  En die Fariseërs antwoord hulle: Julle is tog nie ook mislei nie?  Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!

Die tema in hierdie vyf gelykenisse hanteer ook die ongoddelike liefde vir aardse dinge soos die opbou van rykdom, die soeke na menslike aansien en die welluste van die vlees. Maar elke sonde in ons sal geoordeel word op die bestemde tyd sodat ons die geregtigheid van God kan leer ken:

Jes 26:9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Die nodige en belangrike oordeel van God kom nadat ons gesterf het:

Heb 9:27  En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,

Die gelykenis van Lasarus en die ryk man bevestig hierdie waarheid en sê dat die ryk man wel gesterf het en toe daarna geoordeel is om die geregtigheid van God te leer. Hier is die gelykenis volledig:

Luk 16:19-31  En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.  En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.  En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.  En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.  En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.  En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.  Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.  En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.  En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—  want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.  Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.  30  Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.  Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

In dele 1 tot 4 tot dusver het ons die volgende vasgestel:

  • Jesus het die gelykenis op die Fariseers gemik omdat hulle geldgierig was;
  • Alle gelykenisse is van begin tot einde figuurlik en bevat belangrike geestelike waarhede wat die natuurlike mens se denke nie kan verstaan nie omdat dit geestelik beoordeel moet word;
  • Die ryk man verteenwoordig hulle wat deur God verblind word om te dink dat hulle geseënd is deur na hul fisiese besittings en posisie te kyk;
  • Die rykes se ‘tafel’ is inderwaarheid gedek met valse “seëninge” en leerstellings terwyl hulle niks dink van die “krummels” (die ware leerstelings van God) wat van hul tafels gevee word;
  • Die ryk man verteenwordig dus hulle wat God se Woord verdraai vir tydelike en persoonlike gewin;
  • Lasarus, staan teenoor die ryk man in hierdie gelykenis. Hy verteenwoordig hulle wie die ware kinders van God is al lyk dit nie so vir hulle wat tans in hierdie wêreld geseën word met fisiese dinge;
  • Lasarus word met honde geassosieer wat sere lek omdat hy as laer en  onbelangrik gesien word deur diegene wat hulleself verhoog en bestempel as God se uitverkorenes;
  • Lasarus verteenwoordig hulle wat verwerp word omdat hulle min in getal is en derhalwe nie geestelik verhewe kan wees as die baie hooggerespekteerde populêre leiers met hul kwalifikasies en ooglopende groot getal volgelinge nie;
  • Die konsep van ‘die boesem van Abraham’ bewys weereens dat hierdie ‘n figuurlike verhaal van begin tot einde is, en as geestelik gesien moet word want niemand wat sterf kan na die letterlike boesem van Abraham gaan nie;
  • Abraham homself het volgens die Skrifte self nog nie enige van God se geestelike beloftes ontvang nie en die naam Abraham in die verhaal is dus ‘n simboliese verwysing na hulle wat slegs deur geloof geregverdig word en nie deur eie werke nie.

Ons weet ook dat die Skrifte nie mekaar weerspreek nie. Die Woord van God verklaar dat mense wat dood is regtig in die doderyk is en slaap en dus geen kennis het van enigiets op aarde nie:

Pred 9:5 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.

Joh 11:11 Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.

Wat is die ‘doderyk’ wat hier in Lukas 16:23 genoem word. Dit is nie die “hel” soos die afvalliges dit wil hê nie, maar wel die doderyk soos die Afrikaanse vertalers die 100% korrek vertaal het uit die oorspronklike Grieks. Ons weet ook uit die Woord van God dat die geestelike betekenis van die konsep “dood” veral betrekking het op die aardse of natuurlike denke is:

Rom 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,

Omdat geen persoon in die doderyk iets weet, nog minder iets kan sien of kan praat nie, is dit duidelik dat hierdie gedeelte verwys na die tyd wanneer hulle wie in die doderyk is, geoordeel sal word. Alle dooies se “oë” gaan weer oopgemaak word. Die enigste plek in die Skrifte waar hulle wie in die doderyk is weer hul oë gaan oopmaak terwyl hulle IN die doderyk is, word gevind tydens die ‘groot wit troon’-oordeel. Dit is die plek waar die ryk man in die gelykenis sy oë gaan oopmaak:

Open 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.  En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Almal in die “tweede dood” is nog steeds in die “dood en doderyk” en word in die poel van vuur gewerp. Hulle is dus nog almal geestelik dood op hierdie stadium. Hier word hul boeke (en hul oë) geopen. Die ryk man is dus in die tweede opstanding waar almal in geestelike liggame is en hul oordeel ontvang oor al die vleeslikheid in hul denke:

1Kor 15:44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.

Net soos die ryk man hiervan getuig, is die oordeel van God ‘n geweldige pynigingsproses vir ons vleeslike denke, maar dit is al manier waarop ons kan leer van God se geregtigheid:

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Job 36:8-10  Maar as hulle in kettings geklink is, gevang word in bande van ellende,  dan gee Hy aan hulle hul dade te kenne en hul oortredinge, dat hul gedrag hoogmoedig was;  dan open Hy hulle oor vir die tugtiging en sê dat hulle moet terugkeer van ongeregtigheid.

God se oordeel het dus ‘n doel – God doen niks doelloos nie!

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s