In dele 1 tot 5 van ons studie oor die gelykenis van Lasarus en die ryk man het ons tot dusver die volgende vasgestel:
- Jesus het die gelykenis op die Fariseers gemik omdat hulle geldgierig was en hulself as hoër geag het as ander;
- Alle gelykenisse is van begin tot einde figuurlik en bevat belangrike geestelike waarhede wat die natuurlike mens se denke nie kan verstaan nie omdat dit geestelik beoordeel moet word;
- Die ryk man verteenwoordig hulle wat deur God verblind word om te dink dat hulle geseënd is deur na hul fisiese besittings en posisie te kyk;
- Die rykes se ‘tafel’ is inderwaarheid gedek met valse “seëninge” en leerstellings terwyl hulle niks dink van die “krummels” (die ware leerstelings van God) wat van hul tafels gevee word;
- Die ryk man verteenwordig dus hulle wat God se Woord verdraai vir tydelike en persoonlike gewin;
- Lasarus, staan teenoor die ryk man in hierdie gelykenis. Hy verteenwoordig hulle wie die ware kinders van God is al lyk dit nie so vir hulle wat tans in hierdie wêreld geseën word met fisiese dinge;
- Lasarus word met honde geassosieer wat sere lek omdat hy as laer en onbelangrik gesien word deur diegene wat hulleself verhoog en bestempel as God se uitverkorenes;
- Lasarus verteenwoordig hulle wat verwerp word omdat hulle min in getal is en derhalwe nie geestelik verhewe kan wees as die baie hooggerespekteerde populêre leiers met hul kwalifikasies en ooglopende groot getal volgelinge nie;
- Die konsep van ‘die boesem van Abraham’ bewys weereens dat hierdie ‘n figuurlike verhaal van begin tot einde is, en as geestelik gesien moet word want niemand wat sterf kan na die letterlike boesem van Abraham gaan nie;
- Abraham homself het volgens die Skrifte self nog nie enige van God se geestelike beloftes ontvang nie en die naam Abraham in die verhaal is dus ‘n simboliese verwysing na hulle wat slegs deur geloof geregverdig word en nie deur eie werke nie;
- Die ryk man in die gelykenis was steeds geestelik dood op hierdie stadium (‘in die doderyk’) en dit is hierdie ‘dood en doderyk’ wat in die poel van vuur gegooi word by die groot wit-troon oordeel;
- Dit is in die “tweede dood” of groot wit-troon oordeel waar die ryk man sy oë kan ophef soos almal wat nog geestelik dood geoordeel sal word om sodoende God se geregtigheid te leer.
Hier is die gelykenis van Lasarus en die ryk man volledig:
Luk 16:19-31 En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie. En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur— want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. 30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.
Almal wat opgewek word uit die dode om geoordeel te word, word in ‘n geestelike liggaam opgewek. Sommige egter sal opgewek word met hul aardse denke wat geestelike dood is, soos hierdie “ryk man” en dit wat hy sê ook dan uitbeeld. Hy het geen geestelike insigte nie en redeneer nog steeds volgens sy natuurlike denke:
1Kor 15:44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.
Rom 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede.
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Die vlam of vuur wat dus in hierdie gelykenis genoem word kan dus nooit iets fisies wees nie, maar geestelik. ‘n Fisiese vuur sal nooit ‘n geestelike liggaam of die natuurlike denke kan affekteer nie. ‘n Geestelike of innerlike foltering daarenteen doen presies dit – dit verskaf geweldige pyn en smart in die hart. Die woord “smarte” in vers 24 van Lukas 16 het as basiswoord in die Grieks “odunē” wat betrekking het op ‘n pyn wat deur ‘n innerlike wroeging veroorsaak word, eerder as ‘n fisiese pyn soos ook in die verse duidelik is:
Rom 9:2 dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart (Grieks: “odunē”) vir my hart.
1Ti 6:10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte (Grieks: “odunē”) deurboor.
Wel daar is die smarte van elke “ryk man” in die vlees volgens die woord van God. God het net een vlam of vuur wat Hy gebruik om almal te oordeel en Sy geregtigheid te leer. Dit is hierdie vuur wat innerlike smarte veroorsaak omdat dit ons vleeslike denke vernietig:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.
Mar 9:49 Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.
‘Elkeen se werk’ sal deur hierdie vuur geopenbaar word want dit is ook deur hierdie vuur wat almal gered sal word – dit is van vleeslik denke tot geestelik denke weergebore word. Een van die eienskappe van vuur is om iets se samestelling totaal en permanent te verander:
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Joh 3:5-6 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Hierdie vlam of vuur is dieselfde vuur as die wat brand in die poel van vuur waardeur hulle wat geestelik dood is (‘in die dood en die doderyk’) gered word om geestelike denke te kry. Dit is al manier hoe iemand opgeskryf kan word in die boek van die lewe, Jesus Christus:
Rom 8:6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede.
Open 20:14-15 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.