Die waarheid oor die identiteit en rol van Satan (Deel 5)

Soos die hawestad Tirus welvarend en hoogmoedig geword het, so is almal van ons in ons eie natuurlike denke vasgevang om meer te dink van onsself as van ander. Ons opinies oor dinge word dan ook hoog aangeskryf en ons ore word gesluit vir die waarheid. Maar ons natuurlike mens sal, soos alle boosheid, neergewerp word deur God wanneer ons sal leer wie en wat ons regtig is, en dat daar net EEN God is. Hierin word God se liefde geopenbaar dat Hy elke seun wat Hy aanneem tugtig deur Sy regverdige oordele!

Heb 12:6-7 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie?

In dele 1 tot 4 van ons reeks oor die identiteit en rol van Satan in God se skepping het ons gekonsentreer op ‘n paar van sy karaktereienskappe. Die Skrifte sê dat hierdie slang ‘listiger’ of dan “vernuftiger” was as al die ander diere! Hier is ‘n paar karaktereienskappe wat die slang het wat baie betekenisvol vir ons is:

Die ou slang; die vinnige (of vlugtende) slang; die Leviátan; die kronkelende slang; die groot draak; die Satan; die duiwel; die teëstander; die verderwer; die mensemoordenaar; sondaar, die versoeker; die verleier, leuenaar.

Ons het ook gevind dat die slang van die begin af al hierdie eienskappe besit het en dat God die bose of dit wat onheilig is self geskep het vir God se doel:

Spr 16:4  Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Jes 45:6b-7  Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;  7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Ons het ook die volgende oor die slang, of Satan dan, reeds bewys uit die Woord van God:

  • Hy is ‘n definitewe geestelike persoonlikheid wat apart van God en die mens bestaan;
  • Hy is aangestel om die aarde, dit is die natuurlike denke van elke skepsel, te deurkruis;
  • Hy is vernuftigheid gegee om aan mense dwalings te gee wat hulle dan glo;
  • Hy doen hom dus voor as ‘n engel van die lig en oortuig mense van valse leerstellings;
  • Hy het beperkte mag wat alles onder God se totale beheer is;
  • Hy het geen “vrye” wil nie, maar is vas onder die oortuiging dat hy dit wel het;
  • Hy het geen respek vir Godse heilige ordes nie en slaan toe op die mens se swakpunte;
  • Hy opereer in die hemele en is God se instrument om mense onder andere te verlei, te mislei, en te versoek.

Daar is diegene in die afvallige Christendom wat beweer dat die slang, of Satan dan, eers perfek was en daarna boos geword het deur sy eie “vrye” wil. Hulle verdraai dan ook Bybelse tekste soos Jesaja 14 en Esegiël 28 om hul punt te staaf. Ons het reeds die verdraaiings in Jesaja 14 kortliks in deel 3 van hierdie reeks aangeraak. In deel 4 het ons begion om hierdie verdraaiings in Esegiël 28 aan te spreek. Ons het uit die eerste 13 verse van Esegiël 28 reeds bewys dat die teks nie van Satan as sulks praat nie, maar meer spesifiek verwys na almal in die eerste Adam, ook die vors of koning van Tirus. Ons gaan hier in deel 5 verder vanaf vers 14 van Esegiël 28. Die gedeelte word nog moeiliker vir die natuurlike mens om te verstaan, veral as jy vir jare aan die valse leerstelling geluister het dat hierdie gedeelte na ‘n heilige aartsengel verwys wat dan “geval” het:

Kom ons lees verder in Esegiël 28:

Eseg 28:14-16  Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut!

Wel, sê die dwaalleraars, dit is tog duidelik dta hierdie woorde verwys na ‘n “gérub met uitgespreide vlerke wat beskut” – ‘n engel.  Maar vers 14 van Esegiël sê nie dat hierdie vors of koning van Tirus ‘n geestelike wese was nie. Hy was ‘n mens. Hierdie gérub in Esegiël 28 verwys na ‘n MENS wat gedink het hy is ‘n god buite God se raamwerk:

Eseg 28:1-3 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 2 Mensekind, sê aan die vors van Tirus: So spreek die Here HERE: Omdat jou hart hoogmoedig was en jy gesê het: Ek is ‘n god, ek bewoon ‘n godewoning in die hart van die seë—terwyl jy tog ‘n mens is en geen god nie—en jou hart gemaak het soos die hart van ‘n god; 3 kyk, jy is wyser as Daniël, alles wat verborge is, is vir jou nie te duister nie!

Hierdie verse in Esegiël 28 verwys na die woorde en oortuigings van hierdie spesifiek mens en die MENS in die algemeen….

Eseg 28:14-16  Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is,

God “antwoord” hierdie dwase mens volgens sy eie gedagtes en woorde…

Psa 18:27 by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.

Spr 26:5 Antwoord ‘n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.

As ons na ander Skriftekste kyk, sal ons sien dat die woord “gérub” of engel verwys ook na die mens en sy wese as God se skepping en boodskapper:

Eseg 10:8 En daar is aan die gérubs gesien die vorm van ‘n mens se hand onder hulle vlerke. 

Open 21:17 En hy het sy muur gemeet op honderd vier en veertig el, volgens ‘n mens se maat, wat die maat van ‘n engel is.

Die gérub met ‘uitgepreide vlerke’ verwys na ‘die vorm van ‘n mens se hand’ wat uitwys dat al ons dade deur God bestier word. God gebruik al sy engele of boodskappers, die goeies en die slegtes, vir Sy doel. Alles is vir Sy doel gemaak, selfs die bose. Selfs ons bose dade was deur God geskryf in Sy boek nog voordat ons gebore was! Deur God se Woord of ‘boek’ wandel ons tussen die vurige edelgesteentes wat almal ons dae berei en dek (‘beskut’) van ons moederskoot af:

Spr 16:4  Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Psa 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Eseg 28:13  Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei.

Ons almal is in God se hand van A to Z! As Hy sê dat Hy ons in Sy handpalms gegraveer is, dan is ons en alle skepsels ALTYD in Sy hand deurdat Hy alles in ons lewens werk – ons kan nie buite Sy ‘mure’ of grense wat Hy vir ons bepaal het, beweeg nie!

Jes 49:16 Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.

Die koning van Tirus en almal van ons is God se eiendom van begin tot einde. Soos ons weet was Tirus ‘n Feniciese hawestad en stadstaat aan die kus van Libanon vandag. Dit was en is ‘n beroemde handelssentrum. Ons lees van koning Hiram wat aan Dawid en Salomo materiaal verskaf het vir die bou van die tempel in Jerusalem. Isébel, daardie bose vrou van koning Agab van Israel, was ook ‘n dogter van ‘n koning van Tirus en Sidon. Die stad en sy mense was bekend vir hul hooghartigheid en selfvoldaanheid. Die vors of koning van Tirus is dus God se boodskapper na elkeen van ons om ons eie sondige harte te openbaar en aan ons uit te wys (as ons dit kan aanvaar en hanteer). Ons bedryf eerste alle ongeregtigheid van menswees voordat ons ons goddelike posisie kan sien:

Psa 82:1-5  ‘n Psalm van Asaf. God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode. Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en partydig wees vir die goddelose mense? Sela. Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense. Hulle weet nie en verstaan nie; hulle loop rond in duisternis: al die fondamente van die aarde wankel.

Psa 82:6 Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste—

Joh 10:34-35 Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, 

Die ‘berg van God’ is dus ‘n beeld van God se koninkryk en heerskappy waarbinne ons altyd beweeg of ons daarvan bewus is of nie! Waar is hierdie ‘berg van God’ of koninkryk van God? Vir die gérubs van God wat oë gegee is om dit te sien is dit die plek van die vurige gesteentes waar almal in die eerste Adam (die koning van Tirus en almal van ons) ‘gestel’:

Open 4:8 En die vier lewende wesens [almal God se gérubs wat dit kan sien] het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van BINNE vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!

Luk 17:20-21  En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie.  En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is BINNE-in julle.

Die uitdrukking ‘volkome in JOU weë’ sê net duidelik dat ons as mens dink dat ons is goed, of beter as ander, terwyl ons nog bitter ver van volkome is volgens die weë van God. God herhaal eintlik Tirus se eie woorde vroeër in hoofstuk 27, want met ons eie woorde sal ons geoordeel word. Kyk wat dink en sê Tirus en ons almal van onsself:

Eseg 27:3  en sê aan Tirus, wat woon by die ingange van die see, wat handel drywe met die volke na baie kuslande toe: So spreek die Here HERE: o Tirus, jy sê: Ek is volmaak in skoonheid.

Mat 12:36-37  Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.

Almal word gemaak om volkome in God se doel te pas anders weerspreek die Skrifte mekaar – en die Skrifte weerspreek nie mekaar nie! Almal (Adam ingesluit) is in ongeregtigheid geskep of gebore en almal is in sonde ontvang soos die pot misluk en nietig gemaak is in die hand van die Pottebakker. Die dag dat daar ongeregtigheid in ons gevind is, was vir ons kennisname en nie vir God s’n nie – God ken ons en hy weet hoe hy ons gemaak het – ons vind dit egter eers later uit!

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Rom 8:20  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het

Jer 18:4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Ons sluit hierdie gedeelte in Esegiël 28 af met verse 17 tot 19:

Eseg 28:17  Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.

Die hart van die koning van Tirus vergelyk baie goed met die hart van die koning van Babel in Jesaja 14 en met ons eie natuurlike harte. Hoogmoed en ‘die grootsheid van die lewe’ is deel van ons almal se natuurlike mens omdat ons almal se harte eers lief word vir die ‘dinge wat in die wêreld is’ voordat ons die liefde vir die geestelike dinge van die Vader kry. God in Sy goedheid en barmhartigheid sal ons neerwerp, en ons red en verlos van die harde hart van klip:

1Jn 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Die wêreld in ons sal verbygaan en vernietig word deur God se verterende geestelike vuur – Sy vurige edelgesteentes. Ons vlees sal vir ewig nooit weer bestaan nie. Maar voordat dit gebeur verkoop ons ons siele en onteer God se heiligdom:

Eseg 28:18-19  Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ‘n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het. Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier and tagged , , , , , , , , , , , . Bookmark the permalink.

2 Responses to Die waarheid oor die identiteit en rol van Satan (Deel 5)

  1. Terug pieng: Die waarheid oor die “sondeval” | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  2. Terug pieng: Albei ‘Adams’ is deel van God se EEN plan vir alle mense! | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s