Satan is ‘n geestelike wese wat God goddeloos of boos geskep het ‘van die begin’ van sy skepping af vir God se behae of doel:
Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
In dele 1 tot 6 van ons reeks oor die identiteit en rol van Satan in God se skepping het ons gekonsentreer op ‘n paar van sy karaktereienskappe. Hier is ‘n paar karaktereienskappe wat die slang het wat baie betekenisvol vir ons is:
Die ou slang; die vinnige (of vlugtende) slang; die Leviátan; die kronkelende slang; die groot draak; die Satan; die duiwel; die teëstander; die verderwer; die mensemoordenaar; sondaar, die versoeker; die verleier, leuenaar.
Ons het ook die volgende oor die slang, of Satan dan, reeds bewys uit die Woord van God:
- Hy is ‘n definitewe geestelike persoonlikheid wat apart van God en die mens bestaan;
- Hy is aangestel om die aarde, dit is die natuurlike denke van elke skepsel, te deurkruis – Hy het dus spesifieke en duidelike afgebakende terreine waarbinne hy mag opereer;
- Hy is vernuftigheid gegee om aan mense dwalings te gee wat hulle dan glo;
- Hy doen hom dus voor as ‘n engel van die lig en oortuig mense van valse leerstellings;
- Hy het beperkte mag wat alles onder God se totale beheer is;
- Hy het geen “vrye” wil nie, maar is vas onder die oortuiging dat hy dit wel het;
- Hy het geen respek vir Godse heilige ordes nie en slaan toe op die mens se swakpunte;
- Hy opereer in die geestelike hemele en is God se instrument om mense onder andere te verlei, te mislei, en te versoek;
- Hy is aangetrokke tot die mens se natuurlike inherente trots en welluste en dit ontbloot die mens se natuurlike denke en vyandskap teen God;
- Hy is boos en onheilig geskep deur God vir spesifiek doeleindes want niks wat God skep is doelloos en oorgelaat om selfvervullend te wees nie.
Adam en Eva het dus geen geestelike insigte gehad toe die slang met hulle kom gesels nie. Hulle het nie geweet dat die slang besig was om geestelike saad te saai deur die woorde wat hy tot hulle spreek. Alle woorde is geestelike saad – die goeie saad en die slegte saad. Valse profete se valse geeste word aan hul woorde uitgeken wat nie ooreenstem met die woorde van God nie:
1Jn 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.
1Jn 4:5-6 Hulle is uit die wêreld; daarom PRAAT hulle uit die wêreld, en die wêreld LUISTER na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.
Hieruit ken ons die gees van waarheid en die gees van dwaling of leuens – deur wat hulle uit hul monde kom. Die saad wat in die wêreld is, is Satan se saad want Satan het nog nooit goeie saad gesaai nie, want hy het nie goeie saad by God gekry nie:
Mat 13:24-25 ‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan.
Mat 13:36-39 Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.
Satan saai sy saad as ons na hom luister soos Eva dan juis hier doen.
Gen 3:4-5 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
In hierdie verse word die waarheid gemeng met die leuen – dit is die modus operandi van die slang! Hy sal nooit ‘n leuen koelbloedig voorhou nie, Nee hy meng dit; hy verbloem dit. Ons sal in ‘n volgende uitsending meer praat oor die waarheid wat in verse 4 en 5 gebruik was deur die slang om sy leuen te verbloem. Maar kom ons isoleer eers die leuen uit hierdie woorde van die slang. God het gesê dat hulle sal verseker sterwe, maar Satan sê dat hulle gewis nie sal sterwe nie. Hierdie leuen word vandag nog net so kragtig gepreek soos toe dit die eerste keer gespreek was. Die afvallige Christendom preek hierdie leuen net so hard as wat Satan dit doen. Hulle sê dat diegene wat hulle verdraaiings glo nie sal sterwe nie, maar onmiddellik by hulle sterfte na die hemel sal gaan. Natuurlik sal diegene wat nie hul valse evangelie glo nie na ‘n ewige helse vuur gaan by hul dood. Wel hulle kan net nie God se woorde glo die mens sal sekerlik sterwe nie:
Jak 1:14-15 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.
Adam en Eva is deur die slang of Satan versoek. Hul eie begeertes word hierdeur na vore gebring. As die begeerlikheid ontvang het, bring dit die dood mee. God se woord het nog nooit verander nie. Die dood is die uiteinde van elke sonde! Maar hoe is die dood?
Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
Dooie mense ‘weet glad niks nie’! Hoeveel mense in die afvallige Christendom hoor hierdie waarheid? Waar was Lasarus toe hy gesterf het? In die hemel of in die hel? Kom ons laat Jesus self antwoord:
Joh 11:11-14 Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek. En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.
Lasarus was dood! Jesus noem die dood ‘n slaap omdat mense wat dood is ‘glad niks’ weet nie! Jesus noem dat Hy Lasarus gaan wakker maak. Lasarus se opstanding was uit die dood. Hy was nie terugroep van ‘n hemel of ‘n hel nie, nee! Dit is wat God met Jesus gedoen het en ook met elke dooie persoon gaan doen by die opstanding van die dode, ja ook die gelowiges wat reeds gesterf het SAL opgewek word want hulle ‘slaap’ nou nog:
1Kor 15:52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, BY DIE LAASTE BASUIN; want die basuin SAL weerklink, en die dode SAL onverganklik opgewek word; en ons SAL verander word (Alles dui op ‘n definitiewe gebeurtenis in die toekoms!!!)
1Kor 15:16-24 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heersappy en alle gesag en mag vernietig het.
Satan is ‘n leuenaar en ook die vader van hulle wat glo dat mense gewis nie sal sterwe nie!