Ons is steeds in die boek van beginsels, naamlik Genesis, en vandag gaan ons verder met hoofstuk 3. Satan, ‘n bose engel, kom na vore in die hoofstuk in die vorm van ‘n listige slang. Soos ons weet is Satan ‘n geestelike wese wat God goddeloos of boos geskep het ‘van die begin’ van sy skepping af vir God se behae of doel:
Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
In dele 1 tot 7 van ons reeks oor die identiteit en rol van Satan in God se skepping het ons gekonsentreer op ‘n paar van sy karaktereienskappe. Hier is ‘n paar karaktereienskappe wat die slang het wat baie betekenisvol vir ons is:
Die ou slang; die vinnige (of vlugtende) slang; die Leviátan; die kronkelende slang; die groot draak; die Satan; die duiwel; die teëstander; die verderwer; die mensemoordenaar; sondaar, die versoeker; die verleier, leuenaar.
Ons het ook die volgende oor die slang, of Satan dan, reeds bewys uit die Woord van God:
- Hy is ‘n definitewe geestelike persoonlikheid wat apart van God en die mens bestaan;
- Hy is aangestel om die aarde, dit is die natuurlike denke van elke skepsel, te deurkruis – Hy het dus spesifieke en duidelike afgebakende terreine waarbinne hy mag opereer;
- Hy is vernuftigheid gegee om aan mense dwalings te gee wat hulle dan glo;
- Hy doen hom dus voor as ‘n engel van die lig en oortuig mense van valse leerstellings;
- Hy het beperkte mag wat alles onder God se totale beheer is;
- Hy het geen “vrye” wil nie, maar is vas onder die oortuiging dat hy dit wel het;
- Hy het geen respek vir Godse heilige ordes nie en slaan toe op die mens se swakpunte;
- Hy opereer in die geestelike hemele en is God se instrument om mense onder andere te verlei, te mislei, en te versoek;
- Hy is aangetrokke tot die mens se natuurlike inherente trots en welluste en dit ontbloot die mens se natuurlike denke en vyandskap teen God;
- Hy is boos en onheilig geskep deur God vir spesifiek doeleindes want niks wat God skep is doelloos en oorgelaat om selfvervullend te wees nie;
- Hy is die vader van leuens maar sy modus operandi is nooit om ‘n leuen koelbloedig voor te hou nie, Nee hy meng dit of verdoesel dit binne in die waarheid;
- Hy saai geestelike saad deur sy woorde wat nie goed is nie want dit weerspreek en verdraai God se Woord.
Maar watter waarheid het die Satan gemeng met die leuen? Kom ons lees weer wat hy gesê het:
Gen 3:4-5 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
Ons het reeds in deel 7 uitgewys dat die leuen wat Satan hier saai is dat mense gewis nie sal sterwe nie. Baie mense volg vandag nog die leuen – sommige bewustelik en ander onbewustelik. Een van die maniere waarop die leuen geglo word is deur te glo aan die valse leerstelling dat mense ‘n onsterflike siel het. Die valse profete en leraars in geestelike Babilon vertel aan hulle baie volgelinge dat mens eintlik bestaan uit drie dele, naamlik ‘n gees, liggaam en ‘n siel omdat die teks so sê:
1Th 5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
Wel Paulus noem die drie in hierdie een teks, maar wat baie mense vergeet is dat die waarheid in die hele inhoud van God se woord gevind word. Met ander woorde een teks moet met nog een of twee getuies bevestig word want geen profesie van die Skrif het sy eie privaat of aparte uitlegging nie:
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.
2Pe 1:20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;
Een teks sal nooit ‘n ander teks weerspreek nie want die Skrifte sê dat die mens van stof gemaak is en dat God asem in sy neus geblaas het – net twee dinge:
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Hierdie twee dinge, naamlik stof en asem het ‘n lewende siel na vore gebring – dit is wat ‘n mens is – ‘n lewende siel. Hy het dus nie ‘n lewende siel nie, maar dit is wat sy wese is – alles ingeslote. Die liggaam bestaan uit baie dele (‘n brein ingesluit) wat saamwerk, maar as dit nie asem kry nie beteken die beste brein en persoonlikheid niks nie. As een van die twee hoofdele dele weggeneem word, dan sterf die siel – die persoon en alles wat aan hom gekoppel was bestaan nie meer nie! Dit is hard en onmoontlik vir die natuurlike mens om te hanteer. Maar die groot troos in alles is dat God alleen die vermoeë het om ‘n siel te ‘verderwe’ of totaal te vernietig en dan weer lewend te maak:
Eseg 18:4 Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.
Mat 10:28 En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.
1Kor 15:45-46 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.
So die leuen wat Satan tot vandag toe preek is baie duidelik vir die wat dit kan sien. Die waarheid wat hy met die leuen meng kom in dieselfde gedeelte voor:
Gen 3:4-5 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
‘Julle [sal] soos God…wees deur goed en kwaad te ken’. Deur goed en kwaad te ken en dit van mekaar te kan onderskei is ‘n uiters belangrike eerste stap in die proses om in God se beeld gemaak te word. Ja, elke mens van stof en asem word in die beeld van God gemaak, maar dit is ‘n proses want God is gees, nie vlees nie. Geen vlees kan voor God ‘roem’ nie want God moet in gees en waarheid aanbid word:
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
1Kor 1:29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
God het dit alles so bewerkstellig want God werk met een perfekte plan om almal in Sy beeld te vorm. Satan en die bose en alle vlees is deel van die plan:
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
Die afvalliges verkoop Satan se leuen op groot skaal, maar ignoreer die waarheid waarmee hy sy leuen gemeng het! Die HERE God bevestig hierdie waarheid nadat die mens Satan se leuen geglo net:
Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
‘Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken’. Dit was alles deel van die plan want God wet alles voor die tyd. Niks en niemand betrap God onkant nie. Hy wil mense soos hy maak en God gaan dit 100% regkry! Wat min mense kan sien is dat dit ‘n pynlike proses vir die natuurlike mens is wat aan die gang is vanaf ons geboorte. Jesus het self gesê dat Hy en Sy Vader nog nooit opgehou het om die werk te doen nie:
Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.
Hierdie werk wat hulle begin het, sal voltooi word:
Fil 1:6 omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;