Die waarheid oor die identiteit en rol van Satan (Deel 9)

Satan, ‘n bose engel, kom na vore in hoofstuk 3 van Genesis in die vorm van ‘n listige slang. Satan is ‘n geestelike wese wat God goddeloos of boos geskep het ‘van die begin’ van sy skepping af vir God se behae of doel:

Jes 45:7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Joh 8:44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Spr 16:4  Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Uit die Woord van God kry ons alles wat ons moet weet oor hierdie listige slang. Hier is ‘n paar karaktereienskappe wat die slang het wat baie betekenisvol vir ons is:

Die ou slang; die vinnige (of vlugtende) slang; die Leviátan; die kronkelende slang; die groot draak; die Satan; die duiwel; die teëstander; die verderwer; die mensemoordenaar; sondaar, die versoeker; die verleier, leuenaar.

In dele 1 tot 8 van ons reeks oor die identiteit en rol van Satan in God se skepping het ons reeds die volgende oor die slang, of Satan dan, bewys uit die Woord van God:

  • Hy is ‘n definitewe geestelike persoonlikheid wat apart van God en die mens bestaan;
  • Hy is aangestel om die aarde, dit is die natuurlike denke van elke skepsel, te deurkruis – Hy het dus spesifieke en duidelike afgebakende terreine waarbinne hy mag opereer;
  • Hy is vernuftigheid gegee om aan mense dwalings te gee wat hulle dan glo;
  • Hy doen hom dus voor as ‘n engel van die lig en oortuig mense van valse leerstellings;
  • Hy het beperkte mag wat alles onder God se totale beheer is;
  • Hy het geen “vrye” wil nie, maar is vas onder die oortuiging dat hy dit wel het;
  • Hy het geen respek vir Godse heilige ordes nie en slaan toe op die mens se swakpunte;
  • Hy opereer in die geestelike hemele en is God se instrument om mense onder andere te verlei, te mislei, en te versoek;
  • Hy is aangetrokke tot die mens se natuurlike inherente trots en welluste en dit ontbloot die mens se natuurlike denke en vyandskap teen God;
  • Hy is boos en onheilig geskep deur God vir spesifiek doeleindes want niks wat God skep is doelloos en oorgelaat om selfvervullend te wees nie;
  • Hy is die vader van leuens maar sy modus operandi is nooit om ‘n leuen koelbloedig voor te hou nie, Nee hy meng dit of verdoesel dit binne in die waarheid;
  • Hy saai geestelike saad (deur sy woorde) wat nie goed is nie want dit weerspreek en verdraai God se Woord.

Die slang is listiger, dit wil sê, meer vernuftiger as enige dier deur God gemaak om ons denke te beïnvloed. Deur hierdie beïnvloeding, wat deur God self beheer word, kry Satan ‘n houvas op ons denke onder God se wakende oog. Dit veroorsaak ‘n stryd of oorlog wat ‘in die hemel gekom’ het waarin almal gewikkel is vanaf geboorte:

Open 12:7  En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;

Baie mense kan nie sien waar Satan opereer nie omdat hulle die hemele waarbinne hy opereer as ‘n geografiese plek (wat ver is) ervaar. Die sewentig dissipels wat uitgestuur was deur Jesus, het hulle teruggekom met blydskap en aan Jesus gerappporteer dat selfs die duiwels hulle in die ‘naam’ van Jesus onderwerp het:

Luk 10:17 En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.

Jesus bevestig dieselfde gebeurtenis wat hulle op daardie stadium ervaar het deur dit as volg te beskryf: 

Luk 10:18  Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.

Die “onderwerping” van die duiwels is dieselfde as die “uitwerping” of “val” van Satan uit die hemel soos ‘n bliksem! Dit is wanneer die leuens van Satan uit die hart of denke van ‘n persoon verdryf word deur die Woord van Jesus wat dieselfde is as die Naam van Jesus!!! Die “naam” van Jesus beteken dus glad nie die verbalisering van die eienaamwoord “JESUS” nie. Sy “naam” het alles te doen met Sy leer of doktrine – of ons dit glo en doen:

2Jn 1:9-10 Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. 10 As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie.

Hierdie onderwerpinguitdrywing of uitwerping van duiwels is ‘n proses. Satan en sy duiwels (boodskappers/woorde) word nie een keer uitgedryf en alles is verby nie, nee!!! Dit is ‘n stelselmatige proses en verloop oor tyd soos ons die Woord van God in ons harte kry – ‘as julle in My Woord BLY’:

Joh 8:31 En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.

Vir hulle wat oë gegee is om dit te sien, is die volgende gedeelte ‘n pragtige bekrywing van die proses van onderwerping of uitwerping uit die hemel in ons:

Open 12:3-4  En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het.

Open 12:9  En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

Soos ons reeds weet verteenwoordig “sterre” die begrip van geestelike boodskappers en hul woorde. Satan se boodskappers praat dieselfde woorde as hy. Net Jesus se woorde, d.w.s. Sy Naam of leer verdryf Satan en sy boodskappers se woorde. Die syfer drie, of in hierdie geval een derde, is die simbool wat  ‘n geestelike proses van oordeel verteenwoordig. Maar om Satan se woorde uit ons denke te kry is een kant van die saak. Om die huis of tempel van God skoon te hou met God se woorde is die ander kant van die saak – ‘as julle in My Woord BLY’: 

Mat 12:43-45  En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.  Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.  Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.

Dit is waarom ons nooit opgewonde moet wees en dink die oorlog is verby met die opsê van een “sondaarsgebed” nie – dit is ‘n groot leuen wat die afvalliges gebruik om dissipels agter hulself aan te trek:

Luk 10:20  Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.

Mat 7:21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Luk 6:46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?

Ons kan die hele dag “Here, Here” sê en selfs Sy woorde in die proses opsê, maar dit is nie waar die onderwerping of uitwerping van Satan en sy duiwels gaan plaasvind nie. As ons dink ons hemel ‘uitgeveeg’ is deur die eerste swaardwond van die Woord van God dan is ons onbewus van wat die proses om die sewe koppe van die dier uit te wis want die einde van die proses lê nog voor:

Open 12:18 tot 13:1-3  En ek het op die sand van die see gaan staan. En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering.  En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan.

Sewe is die syfer of simbool wat geestelik die voltooiing van ‘n proses aandui Die dier bekoor die hele wêreld (almal van ons op ons tyd). Die inwoners van die stad Kapérnaüm in Galilea, dit is ook ‘n tipe van geestelike Babilon in ons, het ook soos die sewentig “uitgestuurde” dissipels gedink dat hulle beter is as ander mense toe hulle wonders en tekens in hul midde sien gebeur:

Luk 10:15 En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word.  

Die aarde is wel hoër as die see, maar nog baie ver van die hemel. Ongelukkig dink mense wat wonders en tekens op die aarde sien, dat hul name geskryf is in die hemel. Dit is die dwaling wat geestelike Babilon aan haar volgelinge verkoop. En hulle volg haar in hul hordes. Nee, almal die sewe koppe van die dier in ons moet vernietig word, en dit is waar hierdie ‘baie verdrukkinge’ ter sprake kom:

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Net wanneer ons soos ‘kindertjies’ die Woord van God aanvaar dat die koninkryk van God nie kom met sigabre tekens nie, sal hierdie dieper geestelike prosess aan ons geopenbaar word:

Luk 10:21  In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.

Luk 17:20-21  En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie.  En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s