Ons gaan voort met ons studie in Genesis 3:
Gen 3:6-7 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.
Ons word deur Satan versoek deurdat ons deur ons eie begeerlikhede weggesleep en verlok word:
Jak 1:14-15 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.
Ons eie begeerlikhede is in onsself, want Adam en Eva het reeds gesondig voordat hulle aan die vrug geraak of geëet het. Kyk weer wat was reeds in hulle harte voordat hulle geëet het:
- Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en…
- dat hy ‘n lus was vir die oë….
- ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry.
Klink dit bekend? Dit behoort bekend te klink want al hierdie dinge is in almal se harte vanaf hul skepping – soos dit daar deur God self geplaas was:
Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?
Die voetstappe of handelinge van almal, ook die van Adam en Eva, was nie deur hulle self bepaal nie, maar deur God. Ons handelinge word vanuit ons harte geïnspireer en die Here het selfs beheer oor elkeen se hart, elkeen se denke, vir hulle wat dit kan aanvaar:
Spr 21:1 Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.
Psa 139:1-4 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.
Die Vader skep dit wat onheilig is in ons, maar dit maak Hom geensins onheilig nie:
Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
Kyk hoe stem hierdie dinge wat in die wêreld is ooreen met wat in Adam en Eva se hart was voordat hulle van die vrug geëet het:
- goed om te eet = die begeerlikheid van die vlees;
- ’n lus vir die oog = die begeerlikheid van die oë;
- begeerte om verstand te verkry = die grootsheid van die lewe.
Almal wat in vlees gebore word het hierdie dinge van die wêreld van nature in hulle omdat almal in sonde gebore is – ook Adam en Eva:
Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
Rom 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
Johannes praat hiervan as alles wat “in die wêreld is”. Adam en sy vrou was dus “in die wêreld” soos die wêreld in hulle was. Hulle was nie geestelik soos baie valse leraars beweer nie – hulle was uit die aarde, nie van die hemel:
Gen 3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
Jesus was aan presies dieselfde versoekings as almal in die vlees onderhewig, maar Hy het oorwin en daarom is Hy die verlosser van alle mense:
Mat 4:3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.
Mat 4:5-6 Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.
Mat 4:8 Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,
Jesus het in dieselfde vlees gekom as Adam en Eva en het al die versoekinge wat elke mens aan onderworpe is ervaar, sonder om te sondig!!!
Heb 2:14-18 Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom. Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.
Jesus was deur God as Verlosser van die wêreld aangestel voordat Adam en Eva geskep was want God het geweet Adam en Eva gaan verkeerd doen omdat Hy dit so bewerkstellig het!!!
1Pe 1:18-20 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
Jesus was die lam van God om geslag te word vir Adam se sonde en ook almal se sondes…VOOR die grondlegging van die wêreld!!! God het alles geweet voordat hy Adam en Eva geskape het. Die versoekings van die slang was ook deur God beplan want God werk alles volgens Sy wil:
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
Adam en Eva het ‘n wil gehad om dit te doen wat hulle moes doen, maar hulle wil was nie onafhanklik of “vry” van God se wil nie. Niemand het ‘n “vrye” wil soos die afvalliges dit preek nie. Dit is ‘n valse leerstelling wat die mens op God se troon plaas asof die mens of enigeen van God se skepsels kan maak en breek soos hulle wil. NEE! Niemand maak of breek soos hy wil nie. Alles word beïnvloed alles en dit breek die natuurlike mens se hart as hy uitvind hy is nie so in beheer soos hy gedink het nie. Adam en Eva het dieselfde oorgekom en uitgevind dat hulle naak is! Maar kyk wat doen hulle om weereens hul eie oplossing voor te stel – sonder om God te raadpleeg – tipies mens:
Gen 3:7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.
Hulle gebruik vyeblare om hul naaktheid te bedek! Ons almal doen dit elke dag as ons ons eie oplossings uit ons eie natuurlike denke volg. Maar God is barmhartig en reik uit na ons in ons sondige toestand. God kom na ons volgens ons natuurlike denke (“in die aandwindjie” = die gees van die donker wêreld in ons) en hanteer ons op daardie vlak want natuurlik dink ons God is onbewus van wat ons doen en dink:
Gen 3:8-9 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?
Adam en Eva se geestelike blindheid is nou baie duidelik vir ons om te sien – as ons kan sien. Hule dink regtig God kan hulle nie sien nie, en Adam antwoord God om sy blindheid vir ons met sy eie mond te bevestig:
Gen 3:10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.
Adam lig God in oor dinge wat God reeds weet! Mense doen dit elke dag as hulle bid. Ons moet bid, maar ons moet ook weet dat God alles weet. Dan bid ons volgens Sy wil en nie volgens ons welluste nie:
Jas 4:3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.