Die ou mens van vlees sal nooit in die geestelike koninkryk van God bestaan nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
God het nie die vlees, of dit wat by die vlees belangrik is, uitgekies nie:
1Kor 1:26-29 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
Die vleeslike mens bedink vleeslike dinge en dink geestelike dinge is dwaasheid:
Rom 8:5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Wie is hierdie vleeslike of natuurlike mens? Wel sommige dink dat dit iemand anders is behalwe hulself. Want waar het iemand ooit self erken dat die geestelike dinge dwaasheid is! Nooit, nie ek nie, sê die skynheiliges hardop. Wel hulle kan nie sien wat hierdie woorde van Jesus beteken nie:
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Elke mens sal uiteindelik hierdie woorde kan sien en hoekom Jesus sê dat “hierdie geslag” skuldig is aan die dood van Abel.
Mat 23:34-36 Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.
Oor almal kom die “regverdige bloed” van Abel as hulle God se ware profete verafsku en die ware boodskap van God nie glo nie. Hierdie geslag wys uit na almal wat sy broeder haat en slegte dinge van ander mense dink en sê. Geen mens kan regtig verantwoordelik gehou word vir sy fisiese skepping en dit wat God in sy boek geskryf het wat in die persoon se lewe moet plaasvind nie. Tog wys ons natuurlike mens so maklik vinger na ons medemens en word selfs vergelykings tussen mense gemaak op grond van subjektiewe persepsies wat as waarheid voorgehou word:
1Jn 3:15 Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.
Kain het vir Abel doodgemaak omdat Abel reg gedoen het en Kain nie, soos deur God bepaal!
1Jn 3:10-13 Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig. Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.
Kain was uit die bose – uit die duiwel, omdat sy werke boos was. Kain verteenwoordig diegene wat uit die duiwel is – almal met vleeslike of natuurlike denke want die vlees is ‘n vyand van God:
1Jn 3:8 Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.
Rom 8:7-8 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Nou wie kan dan nou onskuldig pleit? Niemand! Niemand vanaf Adam en wat uit Adam kom, kan onskuld pleit nie:
Rom 3:10 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.
Rom 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
Slegs deur Jesus word almal geregverdig SONDER verdienste:
Rom 3:24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
Sonder verdienste beteken regtig dit wat dit sê. Niemand kan enigiets doen om geregverdig te word in God se oë nie – niks. Jy kan nie eens na Jesus toe kom op jou eie nie al murmureer sommige nog tot vandag onder mekaar omdat hulle hierdie waarheid net nie kan aanvaar nie:
Joh 6:43-44 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Moenie onder mekaar murmureer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Kain was nie deur die Vader die vermoë gegee om Hom te behaag nie, maar Abel wel. Hierdie jaloesie is tot vandag toe in die mensdom:
Gen 4:8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.
Maar Kain het nie geweet dat dit was God wat alles beplan het van die begin af nie. God was van alles bewus en Kain, soos alle natuurlike mense, kan dit eenvoudig nie sien nie:
Gen 4:9-10 Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter? En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.
Almal is van dieselfde bloed van Adam. Alhoewel sommige baie sterk daarmee verskil, is die waarheid maar altyd onmoontlik vir die natuurlike mens om te hanteer:
Hand 17:26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,
Ongeag dat God alles bewerkstellig in almal se lewens, moet die mens rekenskap gee oor sy eie doen en late in die oordeel van God:
Gen 4:11-12 Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang. As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; ‘n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.
Die mens oor die algemeen kan nie sien dat God se oordeel vir hom voordelig is nie want sodoende leer hy God se geregtigheid:
Jes 26:8-9 Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit. Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Kain was en is almal van ons in ons natuurlike denke wat God se werke net nie kan verstaan nie:
Gen 4:13-14 Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra. Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: ‘n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.
Die mens wil die dood ten alle koste vermy terwyl hy onbewus is dat die dood van die ou mens eintlik die wedergeboorte van die nuwe mens na vore bring:
Joh 3:5-6 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Joh 12:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.
Die Here het die ou mens gemerk – om nooit geestelike lewe te kan ontvang nie. Kain het weggegaan van die aangesig van die Here en so is elkeen wat uit die bose gebore is. Ons almal het deel aan die bloed van Abel en sal die oordeel daarvoor ontvang op die tyd soos deur God bepaal:
Gen 4:15-16 Maar die HERE sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En die HERE het ‘n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie. Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.