Kain, die eerste geborene van die eerste mens Adam en sy vrou, kon sy natuurlike haat en jaloesie vir sy broer Abel nie wegsteek nie en het hom doodgeslaan omdat God “regverdige Abel” se offer aanvaar het en nie Kain s’n nie. So word almal God se ware “profete en wyse manne en skrifgeleerdes” deur die wêreld behandel tot vandag. Hierdie “wêreld” verwys na hulle wat hulself voordoen as leiers van God se kinders en diegene (die massas) wat hulle volg omdat hulle populêr en welbekend is:
Mat 23:34-35 Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.
Met die dood van Abel het God weer vir Adam en Eva ‘n seun gegee “in die plek van Abel”. Set was die “nuwe begin” of wedergeboorte van die geslag wat die Naam van die Here aangeroep het:
Gen 4:25-26 En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ‘n seun gebaar en hom Set genoem. Want, het sy gesê, God het my ‘n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het. En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.
Hier vind ons weereens in Set en sy nageslag ‘n tipe van hulle wat gedood word (deur sy eie vleeslike broer) en dan opstaan in ‘n nuwe lewe, eweneens Jesus Christus:
Hand 4:8-10 Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, as ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het, laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.
Petrus sê dit duidelik dat Jesus deur sy eie broers – sy eie mense, die Jode, gekruisig was, net soos Abel deur sy eie broer doodgeslaan is. Dit was wel deur die hande van die Romeine wat die teregstelling uitgevoer was, maar dit was die HARTE en WOORDE van die Jode wat Hom verwerp en gevonnis het. Die geslag van Set was teenoor die geslag van Kain geplaas om ons die twee geslagslyne van die saad van die vrou en die saad van die slang (Satan) onderskeidelik aan te dui:
Gen 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.
Hierdie vyandskap is binne-in elkeen van ons te vind as ons oë gegee is om dit te sien. Ons is eers die saad van die slang voordat ons die saad van die vrou, die bruid van Jesus, (Sy Kerk), kan wees. Die saad van die slang (duiwel) kan nie Jesus se woorde of “spraak” ken nie:
Joh 8:42-45 En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.
Adam en Eva het na Set gebore was nog seuns en dogters gehad. Uit hierdie dogters het die seuns van Adam en Eva vroue geneem. Daar was in daardie stadium geen wet wat ondertrouing tussen broers en susters verbied het nie:
Gen 5:3-4 Toe Adam honderd en dertig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agt honderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad.
Ons het reeds gesien dat die geslag van Set die Naam van die Here aangeroep het. Hulle was die tipe van “die saad” van die vrou:
Gen 4:26 En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.
Kain se geslag was die tipe van hulle wat die duiwel as vader het want Kain het “weg van die aangesig van die Here” gegaan:
Gen 4:16 Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.
Daar was dus duidelik ‘n lyn tussen die twee geslagslyne van Set en Kain deur God geplaas vir diegene wat dit kan sien. Set se kinders was dus hulle wat tipeer die “seuns van God”. Maar die manlike geslag binne hierdie “seuns van God” was deur hul eie fisiese welluste “weggesleep en verlok” en het gesien dat die “dogters van die mense” (dit is die vroulike geslag van Kain se nakomelinge) mooi was:
Jak 1:14-15 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.
Gen 6:1-2 en vers 4 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. (4) In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.
Die “reuse” word duidelik beskryf as “die manne van naam” – beroemd en geëer deur mense! Hierdie is nie net slegs ‘n beskrywing van hierdie mense se fisiese liggaamsbou nie, maar het meer te doen met die toestand van hul harte. Hulle was hoogmoedig en die boosheid was “groot” – soos hoë berge:
Gen 6:5-6 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.
Elke hoogmoedige hart is vir Here ‘n gruwel. God is heilig en Hy het geen boosheid in Hom nie. Daarom is Sy hart smartvol as Hy boosheid aanskou. Alhoewel God die bose self gemaak het volgens die Skrifte, het Hy dit gemaak om ‘n doel te bereik. Dit is iets wat die natuurlike mens net nie kan verstaan nie en daarom glo hulle dat boosheid op ‘n ander manier in God se skepping ingekom het. Hulle blameer Satan en die mens se sogenaamde “vrye wil” vir die “skepping” van die boosheid!!! Hiermee sê die afvalliges dat God nou besig is met “skadebeheer” en dat Jesus deur God afgevaardig was om te kom red wat te redde is. Jesus as redder is ‘n soort van nagedagte want Satan en die mens het God heeltemal uitoorlê. Satan gaan, volgens hierdie verdraaiings, uiteindelik meer siele as Jesus wen!!! Absurt! Hierdie soort van denke is nie net godslasterlik nie, maar toon groot onkunde oor God se een perfekte plan wat Hy voor die grondlegging van die wêreld klaar uitgewerk het:
Jes 46:9-10 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;
God gaan alle boosheid in almal en in Sy skepping weereens totaal vernietig:
Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Spr 16:4-5 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil. Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE ‘n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie.
God het egter altyd ‘n klein groepie wat Hyself heilig en rein hou om Sy uiteindelike doel, dit is om boosheid uit te wis, te gebruik. Net een gesin uit die “seuns van God” het nie met die dogters van Kain se geslag getrou nie:
Gen 6:8-9 Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE. 9 Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.
Noag het genade in die oë van die Here gevind deurdat God hom regverdig en opreg laat lewe het. Dit was nie Noag se “vrye wil” wat God se genade op hom gebring het nie! Nog Noag, nog Satan, nog geen skepsel het ‘n sogenaamde “vrye” wil nie. Dit is ‘n valse leerstelling wat die hele “wêreld” aan vaskleef soos niks anders nie. Nee, dit was nie Noag wat op sy eie kon besluit om regverdig en opreg te lewe nie want geen mens kan sy eie voetstappe rig nie – net die Here kan dit doen:
Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?
Psa 139:1-4 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.