Die doop is die dood van die ou mens

Vir diegene wat dit kan aanvaar is die storie van die globale vloed in die Skrif ‘n letterlike gebeurtenis wat aan ons ook dieper geestelike waarhede inhou waarmee ons die wêreld om ons en veral in ons kan verstaan. God gee om vir Sy skepping en het een plan met dit en hierdie plan is van die begin af 100% op koers.

God se aandag was voortdurend op Noag en die mense en diere wat saam met hom binne die ark was tydens die vloed wat veertig dae en veertig nagte op die hele aarde was:

Gen 8:1  En God het gedink aan Noag en aan al die wilde diere en al die vee wat saam met hom in die ark was; en God het ‘n wind oor die aarde laat waai, sodat die waters gesak het.

Die wind is ‘n Skriftuurlike simbool vir die gees van God wat oor die hele aarde is soos dit altyd was sedert die skepping (Hand 2:1-4):

Gen 1:2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

Alle waters en -vloede, ook die duisternis en onheil is onder God se perfekte beheer, vanaf die skepping tot nou!

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Vloede en onheil kan niks doen wat God nie oor besluit het nie:

Gen 8:2  Ook die fonteine van die watervloed en die sluise van die hemel het toegegaan, en die stortreën uit die hemel het opgehou. 

Die waters en al die strome is weerens simbole van ons hart en ons weë. God beheer die waters soos Hy ook elke regeerder en elke mens se hart regeer:

Spr 21:1  Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.

Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?

Na die globale vloed moes die droë grond weer sy Godgegewe plek inneem:

Gen 8:3-5  Toe het die waters geleidelik van die aarde teruggegaan, en die waters het afgeneem aan die end van honderd en vyftig dae. En die ark het in die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, op die gebergte van Ararat gerus. En die waters het geleidelik afgeneem tot die tiende maand. In die tiende maand, op die eerste van die maand, het die toppe van die berge sigbaar geword.

Dit het “geleidelik” gebeur en dit is anders as in die begin toe God alles “skielik” na vore gebring het.

Jes 48:3  Die vorige dinge het Ek lankal verkondig, en uit my mond het dit uitgegaan, en Ek het dit laat hoor; skielik het Ek dit volbring, en dit het gekom.

Die vloed wys ons dat God se oordeel oor die ou skepping en die redding tot ‘n nuwe lewe ‘n geleidelike proses is – net soos fisiese Israel ook moes leer dat die vyandige stamme en ongediertes (geestelik verwysend na ons eie vleeslikhede = welluste en trots – 1John 2:16) in die beloofde land nie in een jaar uitgewis gaan word nie: 

Eks 23:29-30 Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie. 30 Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe.

Die “langsamerhand” beklemtoon net weer dat die nuwe geestelike skepping van God is baie meer waardevol as die huidige fisiese skepping. God neem Sy tyd met die nuwe skepping in ons. Hierdie ou skepping weeg geensins op met wat God vir ons voorberei in die gees nie:

1Kor 2:9  maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.

Aan die einde van die veertig dae vloed was die venster aan die bokant van die ark, Noag se eerste sig op dinge buite die ark:

Gen 8:6  Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het. 

Eers nadat ons deur die strydte en beproewinge gegaan het, wys God vir ons die rede vir dit alles. Alles maak sin op die einde van die dag. As ons ‘n geopende hemel sien wys dit na dieper geestelike insigte, veral oor God se oordeel in ons lewens:

Open 19:11 Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.

Na die oordeel – na elke beproewing – word die dinge van God se koninkryk net soveel duideliker:

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Dit word ook uitgebeeld in die twee voëls wat Noag afsonderlik uitgestuur het. Die eerste een was ‘n kraai wat volgens die (komende) wet van Moses as onrein of gruwel geklassifiseer is:

Gen 8:7  en ‘n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af.

Lev 11:13-15  En die volgende moet julle van die voëls vir ‘n gruwel hou hulle mag nie geëet word nie, ‘n gruwel is hulle: die arend en die lammervanger en die aasvoël;  en die kuikendief en die valk volgens sy soorte; elke kraai volgens sy soorte.

Die kraai het “heen en weer” gevlieg en nie na Noag teruggekeer na die ark nie – ‘n teken van die onrustigheid in die natuurlike mens. Die mens is nooit teverede met God se werke nie. Maar die duif was anders:

Gen 8:8-9  Daarop laat hy ‘n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het. Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring.

Die duif kon nie rusplek op die aarde of in die wêreld vind nie, behalwe “in die ark”. Die duif is weereens ‘n simbool van die gees van God wat op Jesus, die ark van God, rus vind:

Mat 3:16-17  En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.  En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.

As God se gees in ons is, kom daar rus…rus van ons eie werke:

Heb 4:3 Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Die vloed van Noag word dus hier deur nog ‘n watersimbool, naamlik die doop, verbind aan die dood van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens:

Rom 6:1-6  Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?  Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Dit is waaroor die kruis gaan wat ons elkeen moet opneem. Ons moet sterf vir ons ou denke en die nuwe denke van God in Christus aanvaar deur die geloof wat Hy skenk:

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. 

Rom 12:2-3  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.  Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.

Die duif word drie keer deur Noag uitgestuur wat weereens die proses van heiligmaking voorstel. Na drie keer het daar rus gekom vir die duif wat die geestelike konsep van die derde dag vir ons uitbeeld:

Gen 8:10-12  Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark.  En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was ‘n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie. 

Jesus sê self dat Hy ook op die “derde dag” uit die dood sal opstaan – die “derde dag” is geestelik verwysend na geestelike perfeksie en rus in die Vader:

Mat 16:21 Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.

Luk 13:32 En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals [Herodus]: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar [Grieks: “teleioō” = volmaak/perfek]

Die groen olyftak is die teken van die groei van nuwe geestelike lewe – die geestelike lewe van Christus:

Psa 52:10 Maar ek sal wees soos ‘n groen olyfboom in die huis van God; ek vertrou op die goedertierenheid van God vir ewig en altyd.

Luk 23:31 Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!

Hy skenk die geestelike lewe eerste aan Sy getuies wat gedood word vir die Woord van God. Die “twee getuies” is ook verwysend na die Hoof, Jesus Christus wat van die Vader getuig, en Sy liggaam, naamlik Sy Kerk wat van Jesus getuig:

Open 11:3-12  En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer. Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan. En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil. En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is. En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en ‘n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie. Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het.  En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het. En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou.

God se ware getuies gaan deur dieselfde proses as Jesus – hulle word in dieselfde stad gedood waar Jesus gedood was – deur hul eie mense:

1Jn 4:17  Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.

Die afvallige stad is hulle wie glo dat hulle God se kinders is, maar hul werke is getuig van die bose. Hulle haat hul vyande en wil al hulle vyande in ‘n ewige helse vuur sien brand. Niks anders sal hierdie bloeddorstiges tevrede stel nie. Dit is die valse kerk (geestelike Babilon) en al haar dogters wat altyd die ware getuies van God sal veroordeel en geestelik verwerp:

Open 17:3-6 En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. 4 En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; 5 en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. 6 En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.

[Distansiëring: Advertensies word geplaas deur WordPress.com]

This entry was posted in Lees eers hier and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s