Toe Noag en sy vrou, sy seuns en hul vrouens uit die ark gaan, was dit op ‘n aarde wat heel anders gelyk het as die een voor die vloed. As God Sy oordeel bring, verander ons lewens onherroeplik. Agt mense het hierdie nuwe lewe aanskou en daarom is die syfer 8 altyd verbind aan die nuwe lewe. Die agt spruit voort uit die voltooiing van die oordeel– die dood of “besnyding” van die ou mens:
Open 17:11 En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf [die voltooiing van die vernietiging van die vlees].
Gen 17:10-12 Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word— julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle. ‘n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie—
Die verbond wat God met Noag aangegaan het (en later met Abraham op ‘n ander manier herhaal het) is die geestelike tipe van die ewige verbond met die nuwe mens:
Gen 9:8-11 Verder het God met Noag en sy seuns by hom gespreek en gesê: Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle, en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle—al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde. En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie.
Die nuwe mens spruit uit die dood van die ou mens of die eerste Adam. Dit is waarna verwys word as die opstanding uit die dood:
1Kor 15:42-45 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
Die natuurlike liggaam is “die liggaam van hierdie dood” wat totaal verskil van die nuwe geestelike “liggaam”:
Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
God het vir Noag en sy geslag ook ‘n teken gegee wat hierdie nuwe verbond uitbeeld:
Gen 9:12 En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ‘n vloed word om alle vlees te verdelg nie.
Alle fisiese dinge is tipes van geestelike waarhede, vir die wat dit kan sien. Daar was al talle vloede op die aarde sedert die globale vloed in Noag se tyd en dit maak God ‘n leuenaar vir die wat glo dat die vloed in Noag se dae ‘n lokale vloed was. Is God ‘n leuenaar soos sommige glo?
Rom 3:4 Nee, stellig nie! Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig, soos geskrywe is: Sodat U geregverdig kan word in u woorde en oorwin as U gerig hou [as God oordeel doen Hy ‘n volbragte werk!]
Die natuurlike beeld die onsienlike dinge van God uit in die volle sin van die woord. ‘n Lokale of beperkte vloed kan geensins die totale vernietiging van alle vlees uitbeeld nie. God doen nie halwe werk nie. As God mense wil red, dan red Hy hulle 100% – almal! Dit hang GEENSINS van ‘n mens se wil af nie. “Almal wat Hom aanneem” is nie uit die wil van ‘n mens gebore nie:
Rom 9:16 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.
Joh 1:12-13 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.
God se wil is dat nie een mens verlore gaan nie en God se wil is wat Hy sal kry – Hy het self so gesê:
Mat 18:14 So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.
Jes 46:10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;
Jes 55:11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.
Selfs Jesus het die wil van die Vader as verhewe bo alle mense se wil erken – net God se wil geskied (gebeur) ten all tye!
Luk 22:42 en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!
Joh 5:30 Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.
Die geestelike tipe het ‘n direkte verband met die geestelike antitipe. Dit is veral hier van toepassing en ook wat die reënboog en die wolk betref. Hier is die verduideliking van die reënboog en die wolk in die Skrifte. Die profeet Esegiël het ‘n gesig gesien toe hy in ballingskap in Babilon was:
Eseg 1:4-6 Toe het ek gekyk—en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter. En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dit was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van ‘n mens gehad; en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke;
Eseg 1:22 En oor die hoofde van die wesens was iets in die vorm van ‘n uitspansel [hemel] wat blink soos die wonderbare kristal, bo-oor hulle hoofde uitgesprei.
Eseg 1:26-28 En bokant die uitspansel wat oor hulle hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ‘n troon; en op die troongestalte ‘n gestalte wat soos ‘n mens gelyk het. Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in ‘n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met ‘n glans daaromheen. Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ‘n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek.
Die vier wesens wat Esegiël gesien het beeld die vuur-oordeel oor die ou mens en die geboorte van die nuwe mens uit en dit (die nuwe mens) is waar God se geestelike troon is. Hierdie troon of woonplek van God word deur ‘n reënboog omhul. Hier is die tweede getuie van die apostel Johannes toe hy op Patmos verban was:
Open 4:2-6 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag. En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad. En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand; en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter.
Die simbole van die “vier-en-twintig ouderlinge” en die “vier lewende wesens” beskryf die nuwe skepsel (of dan skepsels) in Christus. Dit is hulle wat die Woord van God in sy totaliteit kan aanvaar en daarvan leef. Hul insigte (“vol oë”) kom uit die somtotaal van God se Woord wat die “sewe geeste van God” is:
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Altwee hierdie getuies (Johannes en Esegiël) was in ballingskap toe hulle hierdie openbaringe ontvang het en dit is ook baie insiggewend. Dit is wanneer ons van die ou mens en sy vleeslike verbintenisse geskei word dat God eindelik met ons kan praat. God praat met ons uit Sy wolk waarin die Reënboog voorkom met al Sy glorie en heerlikheid:
Heb 12:1-2 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Eks 19:16 En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ‘n swaar wolk op die berg en die geluid van ‘n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het.
Num 11:25 Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.
1Kon 8:10 En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan, het die wolk die huis van die HERE vervul.
Mar 9:7 En daar kom ‘n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom ‘n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!
So sien ons die wolk en die reënboog van God, as ons die oë gegee is om dit te sien. Hulle is die getuies van Jesus Christus – die kerk van God met ons in ‘n intieme verhouding is. Ons sien niemand meer na die vlees nie, maar na die gees van Christus. Ons sien dat God regtig Sy verbond met alle mense sal eerbiedig – Hy het Jesus gestuur om almal te red en Jesus gaan 100% suksesvol wees!!!
Gen 9:16-17 As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is.
2Kor 5:15-19 omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 18 En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.
[Distansiëring: Advertensies word geplaas deur WordPress.com]