Noag se drie seuns was die voorsate van alle aardbewoners, volgens die Skrifte:
Gen 9:18-19 En die seuns van Noag wat uit die ark uitgegaan het, was Sem en Gam en Jafet. En Gam was die vader van Kanaän. Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.
Daar is net een mensras wat uit drie families bestaan, ten spyte van die rasis binne-in ons wat mense wil indeel in verskillende rasse. Alle mense is van die begin tot einde die geslag of familie van God, vir die wat dit kan ontvang:
Hand 17:26-28 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.
Dat daar wel fisiese verskille tussen mens-groeperinge bestaan is duidelik ten opsigte van liggaamsbou, etnisiteit en taal-groeperinge, onder andere. Verskille tussen die drie seuns van Noag het hul immers nie as een familie geskei nie. Ooglopende uiterlike verskille is dus beperk tot juis dit – wat die oog of sintuie wil waarneem. Verskille op hierdie uiterlike vlak kan egter nie innerlike komplekse van minderwaardigheid of meerderwaardigheid regverdig nie. Daar is dus ‘n dieper geestelike betekenis verbonde aan hoe ons mense en onsself dus ervaar. As ons glo dat ons van elke woord van God leef soos Jesus gesê het, weet ons dat hierdie drie seuns van Noag, en ook alle mense rondom ons, baie dinge van onsself weergee en openbaar!
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Die woord van God bly ons enigste maatstaf van waarheid anders sal ons die sentrale boodskap van God se een doel met alle mense totaal mis:
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
1Ti 4:9-11 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges. Beveel en leer hierdie dinge.
Noag was ‘n landbouer en het toe ‘n wingerd geplant en van sy eie wyn dronk geword:
Gen 9:20-21 En Noag het as landbouer ‘n wingerd begin plant. Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.
Die natuurlike mens is dronk van sy eie denke en die versinsels van sy eie hart:
Spr 28:26 Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Een van Noag se seuns, Gam, het toe sy vader se naaktheid gesien en dit nie bedek nie, maar eerder vir sy ander broers gaan vertel:
Gen 9:22 En Gam, die vader van Kanaän, het sy vader se naaktheid gesien en dit aan sy twee broers daarbuite te kenne gegee.
Hier is geen verdere informasie gegee oor wat hier gebeur het nie, veral nie dat daar ‘n seksuele gemeenskap plaasgevind het soos sommige hier wil invoeg nie. God waarsku ons om nie by Sy Woord dinge te voeg (of weg te laat) wat “geskrywe” is nie, maar sommige wat opgeblase of opgepof is en wat ander mense wil beïndruk met hul “ekstra” kennis, vergeet dit heeltemal tot hul eie nadeel:
1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.
Deu 4:2 Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.
Open 22:18 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.
Dat naaktheid ook te doen het met seksuele omgang is die waarheid, maar dit is definitief nie direk ter sprake in hierdie konteks van Noag en sy seun Ham nie. As ons intieme omgang het met verkeerde en vals leerstellings is dit te doen met geestelike naaktheid. Dit sluit in die waarheid dat ons met ons vader se ontroue vrou, die valse kerk, ‘n intieme verhouding het waaraan almal skuldig is op een of ander tyd:
1Kor 5:1 ‘n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.
Hos 2:1-4 Twis met julle moeder, twis; want sy is nie my vrou nie, en Ek is nie haar man nie, en laat sy haar hoerery van haar aangesig verwyder en haar owerspel van haar borste af weg. Anders sal Ek haar naak uittrek en haar neersit soos op die dag van haar geboorte en haar maak soos ‘n woestyn, ja, haar stel soos ‘n dor land en haar van dors laat sterwe. En Ek sal My oor haar kinders nie ontferm nie, want hulle is kinders uit hoerery gebore. Want hulle moeder het in ontug gelewe, sy wat met hulle swanger was, het skandelike dinge gedoen; want sy het gesê: Ek wil my minnaars agternaloop wat my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee.
Open 17:1-2 En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.
Al die bewoners van die aarde het ‘n ongoddelike verhouding met hierdie ontroue vrou. Hulle hoereer met haar en drink haar wyn en word dronk daarvan. Die meeste “bewoners van die aarde” sal dit heftig ontken en daarmee God se Woord as ‘n leuen afmaak. Wel hulle sal almal eendag op die regte tyd hierdie skokkende ontdekking wel maak:
Open 20:11-12 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.
Gam se skandelike daad moet eerder in ‘n geestelike manier gesien word want die vleeslike interpretasie van God se Woord is van geen nut vir ons nie:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Naaktheid verwys na die vlees en dit is wat sonde verteenwoordig en moet as sulks gesien word regdeur God se Woord. Naaktheid, soos die vlees, is van geen nut nie:
Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
Ons moet nie ander se naaktheid of sondige dade openbaar maak nie, maar dit bedek want dit is wat liefde doen. Ons moet dit nie toesmeer nie, maar volgens God se insettinge hanteer. Gam egter het dit nie gedoen het nie, en daarom is dit vir ons neergeskryf want dit is wat ons ook aanvanklik doen in ons onkunde oor God se insettinge:
Rom 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
Ons vertoon dieselfde liefdeloosheid as Gam as ons ander se sonde groter ag as ons eie:
1Pe 4:8 Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek.
1Kor 13:4-7 Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
As ons iemand ander sien sondig of van die waarheid afdwaal, moet ons dit in privaatheid aan hom of haar in liefde oordra:
Mat 18:15 En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin;
Jak 5:19-20 Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.
Ware liefde is om iemand wat sondig met die Woord van God te bedien eerder as om ons eie versinsels op te dis:
1Jn 5:1-2 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is. Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar.
Gam het eerder die versinsels van sy eie bedrieglike hart gevolg. Hy moes die voorbeeld van sy broers gevolg het:
Gen 9:23 Toe neem Sem en Jafet die bo-kleed en hou dit op hulle skouers terwyl hulle agteruitloop, en hulle het die naaktheid van hulle vader bedek: hulle gesig was agtertoe gedraai, sodat hulle die naaktheid van hulle vader nie gesien het nie.
Gam verteenwoordig vleeslikheid en dit is daarom dat hy verbind word met sy seun Kanaän wie se nageslagte as geestelike tipes van ons eie vlees optree. Dit sluit in al die welluste en hoogoed wat in ons eie vlees teenwoordig is:
Gen 10:15-20 En Kanaän was die vader van Sidon, sy eersgeborene, en Het en die Jebusiete en Amoriete en Girgasiete en die Hewiete en Arkiete en Siniete en die Arwadiete en Semariete en Hamatiete. En daarna het die geslagte van die Kanaäniete hulle versprei. En die gebied van die Kanaäniete was van Sidon af in die rigting van Gerar tot by Gasa, in die rigting van Sodom en Gomorra en Adma en Sebóim tot by Lesa. Dit was die seuns van Gam volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, in hulle nasies.
Daarom was Gam se seun, Kanaän vervloek deur Noag as ‘n profesie van wat in ons almal se vlees te sien sal wees wanneer ons oë gegee word deur God om dit te kan sien:
Gen 9:24-25 Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het, sê hy: Vervloek is Kanaän! ‘n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.
Gam was baie onvolwasse en dit is wat die woord “jonger seun” beteken. Die vlees is vervloek in God se oë want God se seën rus op die geestelike nageslag in Christus wat hier deur Sem en Jafet uitgebeeld word:
Gen 9:26-27 Verder het hy gesê: Geseënd is die HERE, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees. Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.
[Distansiëring: Advertensies word geplaas deur WordPress.com]