Elke hoë berg en hoë heuwel in ons sal vernietig word

Deu 12:1-3  Dit is die insettinge en die verordeninge wat julle sorgvuldig moet hou in die land wat die HERE, die God van jou vaders, jou gegee het om dit in besit te neem al die dae wat julle op die aarde lewe.  Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom.  En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.

Noag en sy drie seuns was die manlike voorsate van almal op die aarde na die globale vloed wat alle mense en diere (landdiere en voëls) wat nie in die ark was nie, totaal uitgewis het. Hierdie uitwissing van die “ou wêreld” is ‘n geestelike tipe van die totale uitwissing van vleeslikheid in ons eie lewe. Net met die totale uitwissing van die ou lewe kan die nuwe lewe in Christus kom. Die nuwe lewe word ook voorgestel deur die syfer agt:

2Pe 2:5  en [God het] die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het. 

1Pe 3:18-20  Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;  in wie [dit is in Noag] Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,  wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is.

Dit was dieselfde gees van Christus wat gepreek het deur Noag aan die “geeste in gevangenis…in die dae van Noag”.

Heb 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

Almal wat in sonde leef is in ‘n geestelike gevangenis wat net deur Jesus se lewendmakende gees bevry kan word:

Gal 3:22  Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.

1Kor 15:45  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

God het vir Jafet ruimte gegee en hierdie ruimte is ‘n tipe van die nuwe geestelike lewe (“lewe in oorvloed”) wat in Jesus Christus kom. In Christus is alle mense van die aarde geseënd omdat Hy almal hierdie geestelike lewe gaan skenk, sonder verdienste, op die bestemde tyd!

Fil 2:9-11 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

1Kor 12:3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

Hy is die versoening en losprys vir almal se sondes, soos Hy Hom aan almal sal openbaar “op die regte tyd”:

1Ti 2:5-6  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,  wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,

1Jn 2:1-2  My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.  En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Jafet se sewe seuns en hul nageslagte het die kuslande van die nasies bewoon en word kortliks in die Skrifte genoem:

Gen 10:5  uit hulle het verdeeld geraak die kuslande van die nasies, in hulle lande, elkeen na sy taal, volgens hulle geslagte, in hulle nasies.

Gam se familie daarenteen word met meer detail in die Skrif beskryf, veral ‘n persoon met die naam van Nimrod. Hierdie Nimrod kom deur die geslagslyn van Gam wie sy vader se naaktheid gesien het en dit nie bedek het nie. Nimrod se naam beteken “rebel” en dit is duidelik as ons die gedeeltes oor hom in die Skrifte van nader beskou. Nimrod was die kleinkind van Gam en word as ‘n “geweldenaar” beskryf. Hy was ‘n “geweldige jagter”:

Gen 10:6-12  En die seuns van Gam was: Kus en Misraim en Put en Kanaän. En die seuns van Kus was: Seba en Háwila en Sabta en Raéma en Sábtega. En die seuns van Raéma: Skeba en Dedan.  Kus was ook die vader van Nimrod. Hy het begin om ‘n geweldenaar op aarde te wees.  Hy was ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE. En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear.  Uit hierdie land het hy getrek na Assur en gebou: Ninevé en Réhobot-Ir en Kalag  en Resen, tussen Ninevé en Kalag—dit is die groot stad.

Nimrod was ‘n geweldenaar “voor” die aangesig van die Here. Die woord “voor” kom vanaf die Hebreeuse woord “pânıym” (uitgespreek as “paw-neem”) wat onder andere “opponent” beteken. Die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, bevestig dit. In Grieks is die Afrikaanse woord “voor” as “enantion” vertaal (wat aan die neutrale basiswoord “enantios” gekoppel word), wat “teenstander” of “antagonis” beteken!  Nimrod het teen God gewerk en het ‘n groot aardse ryk na vore gebring wat die stede soos Babel en Ninevé ingesluit het. Die name Babel (vir Babilon) en die ander stede in Sínear (Ereg en Akkad en Kalne), sowel as Assur (vir Assirië met sy hoofstad Ninevé) word dwarsdeur die Skrifte met goddeloosheid, geweld en onderdrukking verbind:

Miga 5:5 En hulle sal die land Assur met die swaard afwei en die land van Nimrod by sy ingange. So sal Hy ons dan van Assur bevry, wanneer hy in ons land kom en ons grondgebied betree.

Die ander naam wat hier uitstaan onder die seuns van Ham is Kanaän, wat weereens met goddeloosheid en vervloeking verbind word:

Gen 10:15-19  En Kanaän was die vader van Sidon, sy eersgeborene, en Het  16  en die Jebusiete en Amoriete en Girgasiete  en die Hewiete en Arkiete en Siniete  en die Arwadiete en Semariete en Hamatiete. En daarna het die geslagte van die Kanaäniete hulle versprei.  En die gebied van die Kanaäniete was van Sidon af in die rigting van Gerar tot by Gasa, in die rigting van Sodom en Gomorra en Adma en Sebóim tot by Lesa.

Dat hierdie historiese figure en nasies was, is verseker. Maar die aardse of vleeslike dinge (soos geslagsregisters) is van geen nut nie want dit moet net as geestelike tipes gesien word omdat daarin lê geestelike waarhede opgesluit wat in ons lewens opereer (vir die wat dit kan sien):

1Ti 1:4  en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is. 

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. 

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; 

Geestelik moet ons hierdie seuns en nageslagte van Ham dus sien as die sondige drifte wat in ons eie vlees  woon en ons vir ‘n tyd lank beheer en ons in slawerny wegvoer:

Rom 7:18-21  Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.    Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.  Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig.

Die plekke en nasies soos Egipte, Babilon en Assirië is van die belangrikste geestelike tipes waar ons woon en waarna ons weggevoer word in ons slawerny en gevangenskap in sonde. Dit is waar ons die begeertes van die vleeslike wêreld met oorgawe dien en tog bitter ongelukkig is en uiteindelik uitroep na God vir verlossing:

1Jn 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.   Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Ons is almal is Nimrod en ons werk teen God en teen God se gees van nature. Dit is wat die gees in die natuurlike mens is – ‘n vyand van God vanaf sy skepping:

Rom 8:6-7  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.

Die Nimrod in ons is ons hoogmoedige hart wat op gewelddadige, veglustige en oorlogsugtige maniere mense van ons siening wil oortuig. Dit is wanneer ons net nie kan sien dat God alles werk volgens een perfekte plan nie –die goed en die kwaad vir Sy doel:

Spr 16:4-5  Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil. Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE ‘n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie. 

Efes 1:11  in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.

[Distansiëring: Advertensies word geplaas deur WordPress.com]

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s