Is Satan verslaan of nie – hoekom woel hy dan nog so?

Daar is ‘n siening dat Jesus vir Satan op die kruis totaal verslaan het asof daar ‘n geveg was tussen God en die Satan, en dat God net nie kon beheer kry oor Satan nie. Dit klink of Satan tot die koms van Jesus alles beheer het op die aarde (selfs in die hele fisiese skepping soos sommige dit wil hê) en dat God nie in beheer van Satan was nie. Wel baie glo so en word so voorgegaan deur die valse herders.

Dit alles is vals. Hierdie leerstelling is nie net onskriftuurlik nie, maar ook godslasterlik. Satan se mag is van die begin af vanaf God – net God is alleenlik almagtig en Hy werk en bestuur die hele skepping volgens EEN perfekte plan:

Open 1:8  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

God is in totale beheer van alles wat Hy geskep het van die begin af en niks in sy skepping het nog ooit disfunksioneel opgetree nie. Dit wil sê alles werk nog volgens die oorspronklike plan van God, ten spyte van hulle wat valshede oor God versprei:

Efes 1:11  in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.

Valse leraars en valse profete ken nie God se plan en raad nie, en hulle verlei “baie” deur hulle valshede en hulle bring sodoende groot eer en verheffing aan Satan, wetend of onwetend. Hulle aanbid Satan op hierdie manier en hulle is nie eens skaam om dit te doen nie. Kyk maar self hoeveel keer word Satan gebruik in preke om mense die skrik op die lyf te jaag, eerder as wat God se liefde en totale beheer oor alles te beklemtoon. Die media hardloop voor en die afvalliges hardloop agterna – asof die wêreld regtig nie in ‘n vervalle toestand geskep is deur God nie:

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

God is so duidelik oor wie in beheer is dat Hy self  mense moet verblind om die teenoorgestelde te sien en dit dan te glo en vol bravade te verkondig:

2Th 2:10-12 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.

God verlei die valse profeet wat met sy eie verdoemenis gevang word in ‘n strik:

Eseg 14:7-9 Want elke man uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom, dat dié My vir hom kan raadpleeg—hom sal Ek, die HERE, self antwoord gee. Ek sal my aangesig rig teen dié man en hom tot ‘n teken en ‘n voorwerp van spot maak, en Ek sal hom uitroei uit die midde van my volk; en julle sal weet dat Ek die HERE is. En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek—Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel.

Die valse profete kom “in die Naam van Jesus” en hulle is “baie” en hulle is populêr. Hulle verlei ook sodoende “baie”:

Mat 24:4-5  En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.

Die Skrifte is duidelik dat Satan (en sy volgelinge met dieselfde gedagtes as hy) deur God as moordenaar, bedrieër en leuenaar geskep was (Jes 45:7; Spr 16:4):

Joh 8:44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Sommige beweer dat die “begin” in die teks verwys nie na die begin van die skepping nie! Wel dan is daar baie “begin-ne” wat dan allerhande valshede kan inbring. Soos dat Satan eers goed was en toe op sy eie sogenaamde “vrye wil” gesondig het! Absurd! God is in beheer van alles en niemand was ooit deur God ‘n onskriftuurlike “vrye” wil gegee nie. Daar is, volgens die Skrifte, net EEN “begin” en in Hom is alles geskep soos dit nou bestaan en NOU deur Hom bestuur word:

Open 1:8  Ek is die Alfa en die Oméga, DIE BEGIN en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Open 3:14 En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God.

Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

God het Satan self aangestel as die god van hierdie wêreld om juis hierdie taak te doen – om mense te verlei en te verblind:

1Jn 5:19  Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê. 

2Kor 4:3-4  Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan,  naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.

God gebruik dus Satan (en sy dienaars) om dwaling te bring SODAT die verlore mensdom regverdig geoordeel kan word. Die mense se behae is eerstens in ongeregtigheid en mislukking, soos God dit bepaal het:

2Th 2:11-12  En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,  sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid. 

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Jer 18:4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Vir die natuurlike mens is dit die grootste klomp bog en dwaasheid om te sê dat God die bose self geskep het en dat Hy die einste booshede wat rondom en in ons gebeur vir Sy GOEIE doel aanwend. Maar daar staan dit geskrywe!!! Die natuurlike mens kan daardie woorde lees, maar glad nie verstaan nie omdat dit geestelik beoordeel moet word:

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Die valse leraars verkondig aan hulle volgelinge dat God se oordeel ten alle koste vermy moet word omdat hulle glad nie weet nie wat God se oordeel behels nie. God se oordeel is vir ons belangrik om te ervaar:

Jes 26:9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Almal sal van God se geregtigheid leer deur Sy skool wat “oordeel” genoem word. Ons is almal hier geplaas om soos God te word – in Sy ewebeeld – ons is nog nie in Sy ewebeeld nie want ons word deur ‘n geestelike proses geneem!!! Sy ewebeeld is NIE dit wat ons hier op aarde sien nie – NIKS op aarde is soos God nie. God is gees en almal wat Hom aanbid sal Hom in gees en in waarheid aanbid – nie vlees en bloed nie: 

Joh 4:24  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. 

1Kor 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Wie glo hierdie verklaring van Paulus! Baie min! Maar almal sal dit weldra kan sien. Maar voor daardie dag moet ons eers met die vrees deel wat ons almal natuurlik het – die vrees om te sterwe!!!! Net die volmaakte of volwasse liefde van God kan die vrees verdrywe:

1Jn 4:17-18 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. 18 Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

Niemand in die vlees wil die vlees prysgee nie. Ons klou vas aan die aardse en dan word dit nog aan ons gepreek dat daar ‘n soortgelyke fisiese “hiernamaals” is. Daarom klou ons vas vir lewe en vir dood aan hierdie aardsheid. Daar is wel ‘n lewe na die dood, maar dit is totaal anders as wat hier aan ons vertel was. Die valse beelde wat deur valse leraars aan ons voorgehou was, maak niemand opgewonde om te sterf nie. Hulle gebruik juis die vrees vir die dood en die sogenaamde “ewige hel” leerstelling om so veel as moontlik volgelinge (en hul geld natuurlik) in te boesem in hierdie wêreld. As iemand eers sterf dan kan hy nie bydraes lewer nie en die getalle daal. MAAR Jesus het juis gesterf sodat ons kan sterf om ons te bevry VAN ONSSELF (ons grootste vyand is onsself – ons ou mens) en ons word dan ook bevry van die valse aardse gedagtes en die leer van Satan en sy dienaars:

Heb 2:14-15  Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—  en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

Wel daar staan dit weereens oop en bloot vir die wat oë gegee is om dit te sien! Satan word juis verslaan vandag….as ons verlos word van die vrees vir die dood deur SAAM met Jesus te sterf vir ons eie ou aardse mens!!!

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

3 Responses to Is Satan verslaan of nie – hoekom woel hy dan nog so?

  1. baie leersaam God seen u

  2. mag wysheid van bo u leidsman wees

Lewer kommentaar op T___________ Kanselleer antwoord