Die hele Skrif beeld ons eie lewe en geestelike ontwikkeling uit:
2Ti 3:16-17 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
Ook die Ou Testament is belangrik in ons “onderwysing in die geregtigheid” om ons volkome te maak in elke geestelike of goeie werk van God:
Rom 15:4 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
God skep niks sonder ‘n spesifieke doel in gedagte nie. Alles wat God skep word ingespan om Sy doel met alle mense spesifiek te bewerkstellig en te bereik:
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.
Ja ook die onheil, die donkerte en selfs die goddelose is deel van Sy plan en geen aksie van ‘n skepsel kan God se plan van koers bring nie. Die skepsel self het egter geen idee dat alles saamwerk om die plan van God te dien nie:
Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Al die mense en gebeure in die twee geslagslyne van Kain en Seth het saamgewerk om die man Noag op die toneel te bring. Deur Noag het God die tipe van Sy finale oordeel op alle vlees na vore gebring. Maar uit die geslagte van Noag se seuns, Sem, Jafet en Gam, wat uit die globale vloed voortgespruit het, het God weereens dieselfde patroon herhaal, maar hierdie keer met baie meer detail. Uit al die mense en gebeure na die globale vloed het God een man na vore gebring wat die tipe van die gelowige in Christus so voorstel:
Gen 11:26-29 Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran. En dit is die stamboom van Tera: Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran van Lot. En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy geboorteland, in Ur van die Chaldeërs. En Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka, die dogter van Haran, die vader van Milka en die vader van Jiska.
Abram word nou die fokus van die Skrifte en sy vrou, Sarai, was aanvanklik onvrugbaar:
Gen 11:30 En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie.
Dit is enige vrou se begeerte om ‘n kind, of dan ook kinders, vir haar man voort te bring. Maar die mens van vlees het geen vermoë om geestelike vrug vir God voort te bring. God maak ons eers onvrugbaar en die onvrugbaarheid van die vlees is wat hier deur Sarai se onvrugbaarheid uitgebeeld word. Ons natuurlike mens is geestelik onvrugbaar en ons kan nie enige geestelike vrug voortbring nie. Die enigste manier wat God bepaal het dat ons geestelike vrug kan dra, is om die ou mens in ons, die eerste Adam, te laat sterf:
Mat 10:39-40 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.
Hierdie verwys nie net om jou aardse lewe te verloor in die algemene sin van die woord nie, maar verbind spesifiek aan die “koringkorrel”, of dan Jesus Christus. Dit beteken om jou lewe te verloor “om My [Jesus] se ontwil”. Jesus se dood op die kruis het die nuwe lewe na vore gebring vir almal in die eerste Adam. Hierdie nuwe geestelike lewe kom deur daardie geestelike saad dan wat ons moet bevrug en ons bemagtig om ons eie vleeslike lewens af te lê deur ons eie kruis op te neem en SAAM met Hom te sterf:
Joh 12:24-25 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Niemand kan sy eie lewe vir Jesus ontwil opgee as die nie vir hom of haar gegee word deur God self nie. Niemand kan dus eintlik sy lewe vir Christus gee nie – net God maak dit moontlik!!!
Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Alles begin dus met ‘n saad en hierdie “Saad” word getipeer deur die lewe van Abram en God se beloftes aan Abram:
Gen 22:17-18 dat Ek jou [Abram of Abraham] ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.
Hier sê Paulus baie duidelik wie hierdie “Saad” is:
Gal 3:16 Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.
Christus is die Saad vir die eerste fisiese skepping sowel as die Saad vir die nuwe geestelike skepping.
Open 1:17 En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste.
Joh 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Die bevrugting van Sarai sou dus hierdie beloftes van ‘n Saad na vore bring en alles wat daarmee sou gepaardgaan, volgens God se beloftes. Maar voor dit gebeur moet ons deur ‘n fisiese proses geneem word en dit is ook wat die lewe en omswerwinge van Abraham vir ons help uitbeeld:
Hand 7:2 En hy [Stefanus voor die Joodse Raad] sê: Broeders en vaders, luister! Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotámië was, voordat hy in Haran gewoon het, en vir hom gesê: Trek uit jou land en uit jou familie, en kom na die land wat Ek jou sal wys.
Volgens Stefanus het God aan Abram verskyn en hy het in gehoorsaamheid uit die plek waar hy grootgeword het weggetrek na ‘n “vreemde land” wat ook as ‘n “stad” beskryf word waar God almal heen sal lei op die bepaalde tyd:
Heb 11:8-10 Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
Hier begin die proses om ons lewens te verloor om Jesus ontwil. Abram moes uit sy land, uit sy familie, uit sy vader se huis trek. Alle vleeslike, natuurlike en bekende dinge word dus verlaat en opgeoffer. Maar die proses begin by Abram se vader, Tera, wat die familie uit Ur van die Chaldeërs, laat trek het. God het nie met Tera gepraat nie (volgens die Skrifte), maar met Abram. Maar Tera se optrede is ook belangrik om van kennis te neem. Die vleeslike Christus neem ons eerste uit die wêreld van sonde soos die Israeliete ook eers almal uit Egipte deur die Rooi See tot in die wildernis gegaan het. Dit word geestelik gekoppel aan ons eerste wond wat een van die dier se sewe koppe dodelik wond:
Open 12:18 tot Open 13:3 En ek het op die sand van die see gaan staan. En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering. En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan.
Maar soos ook met Israel kan die ou mens(e) nie tot in die beloofde land gaan nie. Net die nuwe geslag, wat verwys na die nuwe mens in Christus, sal die nuwe geestelike lewe kan ontvang:
Num 14:28-30 Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen. Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het. Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.
Haran verteenwoordig dus ook hierdie geestelike wildernis waar die ou man geskei word van die nuwe man in Christus. Ons leef dus vir ‘n tyd hier in Haran, halfpad na Kanaän waar Tera, die ou man, ook dan sterf:
Gen 11:31-32 En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. En hulle het tot by Haran gekom en daar gaan woon. En die dae van Tera was twee honderd en vyf jaar, en Tera het in Haran gesterwe.
Dit alles wys ons dat die ou man, die eerste Adam, altyd saam met ons wil gaan en selfs voor loop by die begin. Dit is wanner ons Christus na die vlees ken en op ‘n uiterlike godsdienstigheid konsentreer:
2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
Maar die Tera in ons, dit is die ou man in ons, kan nie heel pad saam gaan na die beloofde land nie! Hy moet totaal uit ons lewens geneem word en dit is waarom ons deur talle vervolgings en beproewinge gaan om die ou mens uit te sorteer!
1Pe 4:12 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie.