Belangrike aspekte van die geloof van Christus – om waarlik ‘Christen’ te wees (Deel 4)

Vir diegene wat onder die nuwe geestelike verbond van God lewe, is dit wat onder die ou verbond gebeur en neergeskryf was, ook baie belangrik vir ons saligheid:

Rom 15:4  Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

Dit was ook Paulus se raad aan die jong Timotheus voordat die Nuwe Testament geskryf was:

2Ti 3:14-15  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,  en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 

Die Ou Testament is vir ons neergeskryf om as tipes of skaduwees van ons eie geestelike ontwikkeling te dien:

Heb 10:1  Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.

Die sigbare dinge of natuurlike dinge is egter “nie die beeld self van die [geestelike] dinge nie”. God gebruik natuurlike beelde om vir ons die geestelike dinge van God verstaanbaar te maak.  Die natuurlike besit slegs verborge geestelike kwaliteite wat niks te doen het met “die gelykvormigheid van die beeld” self nie:

Rom 1:20-23  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;  omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.  Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword  en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. 

So was die lewe van Abram (later Abraham) neergeskryf en word gebruik as ‘n beeld van die ware geloof wat net in Christus beskikbaar is. Abram moes uit sy land en uit sy vader se huis trek na ‘n land wat totaal onbekend aan Abram was. Die eerste plek wat Abram gaan bly het in Kanaän was Sigem waar Abram sy eerste altaar vir die Here gebou het. Sigem beteken “skouer” – die deel waar ‘n juk geplaas word op diere se skouers. Die juk in Abram se lewe was die Kanaäniete wat dan ook al ons eie vleeslike afgode uitbeeld. Hier is die drie hoofgroepe waaronder alle vleeslike afgode in ons lewens resorteer:

1Jn 2:16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Hier is dit weer:

  • die begeerlikheid van die vlees;
  • die begeerlikheid van die oë;
  • die grootsheid (of trots) van die lewe.

‘n Altaar is die plek waar offers gebring word en dit word in die Nuwe Testament as ‘n “kruis” voorgestel waar min kan eet op die stadium:

Heb 13:10 Ons het ‘n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie.

Hierdie altaar is vir baie ‘n groot probleem en word as dwaasheid bestempel want aan hulle word gesê dat iemand anders in hulle plek gesterf het sodat hulle nie hulself moet offer nie:

1Kor 1:18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

Dit is egter nie die volle waarheid nie. Die Skrifte leer dat ons self ook SAAM met Jesus moet sterf en ons eie lewens as ‘n “welgevallige offer” moet gee:

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Rom 12:1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

Die altaar is dus nie ‘n historiese plek of eenmalige gebeurtenis nie – dit is wat ons daagliks moet doen soos Paulus ook geskryf het:

1Kor 15:31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.

Hierdie daaglikse altaar word ook in Abram se lewe uitgebeeld wie bekend gestaan het as ‘n man met ‘n tent en ‘n altaar. Oral waar hy gereis het, het Abram geoffer aan die Here:

Gen 12:8  En daarvandaan [van Segem] het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste— en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ‘n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep. 

Dit alles hou verband met  ons groei in geloof en die soeke wat God in ons plaas om Sy ewige rus en permanente verblyf te verkry. Abram was altyd op soek na die (geestelike) stad van God:

Heb 11:8-10  Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.  Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.  Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.

Sy rondtrekkery was deur God gereguleer om ons eie soektog en groei in die geloof uit te beeld:

Gen 12:9-10  Daarna het Abram al verder na die Suidland weggetrek. En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land. 

Egipte beeld uit die land van vleeslikheid waar ons dink ons honger gestil en dors geles sal word. Maar ons komprimeer ook in die proses:

Gen 12:11-13  En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien. As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. 

Sarai was wel Abram se halfsuster, maar ‘n halwe leuen is nog steeds ‘n leuen. Die leuen is deel van ons hoerery met die valse kerk wanneer ons die ware kerk van Christus verloën en ontrou is aan die ware leer van Christus. Ons verruil die ware stad van God vir die stad van die hoer waar die ware leer van Christus vervals word deur die valse herders – die diewe en populêre leiers wie hulself voorhou as dienaars van God:

Jes 1:21-23  Ag, hoe het die getroue vesting ‘n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag—en nou moordenaars!  Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water. Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie.

Alles wat Abram voorsien het, het toe gebeur. Soos Judas verkoop ons die ware getuie van God vir persoonlike veiligheid en kort termyn voordeel:

Gen 12:14-16  Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was. Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem. En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het. 

God egter sal Sy kinders, ter wille van Homself, ook uit die verleiding red tot groot vernedering vir onsself as die wêreld ons moet wys op wat reg en verkeerd is. As die wêreld se morele standaarde beter is as die van die kind van God, dan is daar groot probleme in ons lewens:

Gen 12:17-19  Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram. Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie? Waarom het jy gesê: Sy is my suster—sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg.

Die wêreld het nie plek vir God se kinders nie en deur ons ontwikkeling en groei in ons geloof, sal ons dit ook gou agterkom:

Gen 12:20  En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.

 

 

 

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s