Die subtiele werking van waarsêer-geeste

Alhoewel God almal wat Sy Naam en Woord bely ook waarsku om weg te bly van waarsêery, kom baie mense egter onder die beheer van die tipe geeste tot hul eie nadeel:

Deu 18:9-12 As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie. 10 Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, 11 of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. 12 Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit.

God is in beheer van alle geeste – ook alle bose geeste wat waarsêer-geeste insluit:

Heb 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

1Sa 16:14 Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.

God stuur alle misleidende dwalings  d.m.v. bose geeste na diegene wat nie die waarheid kan aanvaar nie:

2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo.

Die grootste ding wat mense nie kan insien nie, is dat dit wat die waarsêer-geeste aan mense oordra, wel sal gebeur – dit is waarom dit mense mislei! Mense glo leuens omdat elke leuen ook waarheid bevat – die waarheid word as lokaas gebruik en sleep die persoon dan binne-in die leuen sonder dat die persoon dit kan sien. Geen leuen is 100% onwaar nie. ‘n Groot deel van ‘n leuen moet waarheid bevat anders gaan dit niemand oortuig nie.

Kyk na wat die slang vir Eva (en Adam) gesê het wat vir ons reg aan die begin in Genesis uitwys hoe leuens saamgestel word:

Gen 3:4-5 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

Twee dinge word in die woorde van die slang uitgewys vir ons – een is ‘n leuen en die ander is die waarheid. Maar kyk hoe word mense gevang om die twee om te ruil – die leuen word as die waarheid gesien en die waarheid in die woorde van die slang word as ‘n leuen gesien! Hierdie vers in Genesis is ‘n perfekte voorbeeld daarvan.

Die slang het ‘n openlike leuen vertel – die leuen is in die woorde “julle sal gewis nie sterwe nie” – maar hierdie leuen kom voor in meeste godsdienste, insluitend die afvallige Christendom. Hulle glo dat mense nie regtig sterwe as hulle hul laaste asem uitblaas nie. Hulle glo in die valse leer van “die onsterflikheid van ‘n siel” en dat mense wat dood is voortlewe op ‘n ander plek net na die fisiese dood ingetree het. Hulle kan nie die waarheid in die volgende Skrifte sien nie:

Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. 6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.

Wie glo hierdie woorde? Baie MIN!

So kom ons keer terug na die waarheid wat die ou slang, Satan, in Eden gebruik het om die leuen mee te meng:

Gen 3:4-5 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

Daar staan die waarheid en baie glo dit nie – “….God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken”. Kyk wat sê God self oor wat gebeur het met Adam en Eva toe hulle van die verbode vrug geëet het:

Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!

Dit stem 100% saam met wat die slang gesê het!!! Hoekom kan baie nie die woorde glo nie? Omdat die waarheid as ‘n leuen vir hulle aangebied word. Mense word vertel dat hulle reeds in die beeld van God is!!!! Nee, dit is nie waar nie. God is gees en Adam was gemaak van stof:

Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Enigeen kan tog sien dat stof, of vlees nie gees is nie – die twee is teenstrydig!

Joh 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Maar as die leuen jou visie versper, dan kan mens nie die waarheid sien nie, al staan die reg voor jou. Vlees kan ook nooit God in gees en waarheid aanbid nie:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Wat baie min kan sien is dat God besig is om die mens in Sy beeld te maak en die proses word in Jesus Christus voltooi:

Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Rom 8:29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders.

Die eerste stap om soos God “te word” is om goed en kwaad te ken, maar dit is nie ‘n geestelike volwasse persoon nie. Adam en Eva was nie geestelik of geestelik volwasse nie. Hulle was aards en hul wysheid was aards soos hulle lewenswandel ook van getuig!

Jak 3:14-16 Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. 15 Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; 16 want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.

“allerhande gemene dade” is wat almal in die eerste Adam aan skuldig is – sondige dade:

1Kor 15:45-46 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.

Dit is net in die “laaste Adam”, Jesus Christus, wat geestelike lewe verkry word wanneer ons “geestesvermoëns” besit om  goed en kwaad van mekaar te kan onderskei DEUR ONS LEWENSWANDEL – nie net deur wat ons ken en praat nie!

Heb 5:14 Maar vaste spys [geestelike dinge] is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Daar is nog ‘n baie lang pad voor almal in Adam soos God in gees sal wees. Ons moet dus die waarsêer-geeste kan uitken al kom hulle na ons in die vorm van ‘n engel van die lig:

2Kor 11:14-15 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke.

Waarsêer-geeste se boodskap kom ook in vervulling en dit oortuig mense dat hulle reg is, net soos Job gedink het van homself:

Eseg 14:7-10 Want elke man uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom, dat dié My vir hom kan raadpleeg—hom sal Ek, die HERE, self antwoord gee. 8 Ek sal my aangesig rig teen dié man en hom tot ‘n teken en ‘n voorwerp van spot maak, en Ek sal hom uitroei uit die midde van my volk; en julle sal weet dat Ek die HERE is. 9 En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek—Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel. 10 En hulle moet hul ongeregtigheid dra: soos die ongeregtigheid van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees.

Job 1:1 Daar was ‘n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad.

Dit was die Here self wat dit van Job getuig het:

Job 1:6-8 En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. 7 Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. 8 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.

God verlei die mens deur die mens te laat glo in sy eie oortuigings en so ook doen Hy aan hulle wat na diegene luister wat God se Woord verdraai!!! Hier is ‘n teks wat dit vir ons baie duidelik uitbeeld hoe God wil hê ons Sy werke in ons eie harte (ons denke) moet verstaan, sodat ons kan sien wat die proses (“die hele pad”) behels om ons soos Hy te maak:

Deu 8:1-2 Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. 2 En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.

Volgens hierdie vertaling klink dit of dit God is wat wil uitvind wat in ons harte is. Absurd! God WEET alles en Hy ken ons harte. Dit is ons wat dit nie ken nie:

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Soos Adam en Eva moet ons uitvind hoe bedrieglik ons harte is en dit is ‘n vernederende proses wat almal sal moet deurgaan. Daarom stuur die Here ons vyande na ons toe – daarom stuur Hy valse geeste om ons te wys hoe verleidelik ons vlees is:

Deu 13:1-4 As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, 2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, 3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. 4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.

Daar is dit!!! As die woorde van die valse profeet waar kom, dan moet ons dit meet aan net EEN maatstaf. Wat is die enigste maatstaf waaraan ons elke woord van elke profeet moet meet?

Deu 13:4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Dit is hoe ons bevryding kry van ons eie vleeslikheid. Ons moet binne die raamwerk van die hele Skrif bly….”om nie te dink bo wat geskrywe is nie”.

1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

Ons bid God dat Hy ons gedurig sal herinner aan hierdie Goddelike raamwerk waarbinne ons altyd veilig sal wees al is die verleidende geeste ook hoe oortuigend vir ons vlees.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Die subtiele werking van waarsêer-geeste

  1. Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s