Belangrike aspekte van die geloof van Christus – om waarlik ‘Christen’ te wees (Deel 5)

Ons geloof in God is ‘n geskenk van God en niemand kan daarmee spog en dink hy of sy is beter as ander nie, of dat sy of haar geloof sterker is omdat hulle iets gedoen het nie: 

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Geloof het inderdaad werke, maar die werke spruit UIT die geloof soos God dit bewerkstellig IN ons:

Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Jak 2:19-20 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. 20 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?

Die duiwels glo ook, maar hulle kan nie goeie werke voortbring wat strook met hul geloof in God nie. Baie mense sal nie eens sidder as hulle die woorde lees nie – die duiwels sidder wel! Om net te praat van God en te sê jy het geloof in God is eenvoudig net nie genoeg nie. Dit is deur jou dade en leefwyse wat jy uitgewys word as ‘n geveinsde huigelaar en bedrieër:

Mat 15:7-8 Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: 8 Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.

In die Ou Testament het God baie voorbeelde laat neerskryf om aan ons te wys hoe die geloof in God kom na ons en hoe God dit laat groei in ons. Maar almal hierdie geloofshelde het nie die beloftes van geestelike lewe ontvang nie:

Heb 11:13 In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.

Hierdie teks word baie gehaat deur hulle wat oortuig is dat die Ou Testamentiese geloofshelde nou in ‘n hemel lewe terwyl die Skrifte duidelik sê dat hierdie mense dood is, en nie die beloftes van geestelike lewe al ontvang het nie. En wat nog minder ontvang kan word dat alle dooie mense regtig dood is:

Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. 6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.

Hier sê Jesus self dat geen van die Ou Testamentiese profete die geestelike lewe in Hom gekry het nie:

Mat 11:11 Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.

Selfs Johannes, die grootste onder almal uit vroue gebore is vanaf Eva, is nie in die geestelike koninkryk van die hemele nie. Hulle almal is dood en wag op die opstanding uit die dode, ook hulle wat in Christus ontslaap het sê die apostel Paulus na Jesus se dood en opstanding:

1Kor 15:16-20 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. 20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.

Net Jesus alleen het tot op hierdie oomblik onsterflikheid ontvang – die res wag nog!

1Ti 6:14-16 dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus 15 wat OP SY EIE TYD VERTOON SAL WORD deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, 16 wat ALLEEN ONSTERFLIKHEID BESIT en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.

Hierdie waarhede kan net deur geloof in Christus aanvaar word – met Sy verskyning aan elkeen “op sy eie tyd”. Een van die belangrikste geloofshelde in die Ou Testament is Abram (later Abraham genoem). Abram was bekend as ‘n man met ‘n tent en ‘n altaar – hierdie twee simbole beeld Abram se geloof in God uit. Hy het nie die wêreld as sy tuiste gesoek nie en het sy eie idees opgeoffer en God ten volle vertrou en in alle gehoorsaamheid gevolg:

Heb 11:8-10 Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. 9 Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. 10 Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.

Van sy eerste stad Ur in die Chaldeërs tot sy dood en sy graf in die spelonk van Magpéla in Kanaän, is Abram se lewe neergeskryf vir ons wat dit kan sien en ontvang om ons te leer hoe ons self die proses van geloof sal moet deurgaan – daar is geen kort paaie:

Rom 4:16 Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees; aan die einde van die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham; is, die vader van ons almal.

Gal 2:16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie, want deur die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.

Dit is die ware altaar van God, wat baie min mense in hierdie tyd kan by eet. Die boodskap van die kruis (waar ons ook moet sterf) is inderdaad dwaasheid vir baie – hulle glo dat Jesus alleen moes sterf vir hulle sodat hulle nie hoef te sterf nie en net ‘n gebedjie kan opsê en siedaar – hulle is gered. Leuens! Bedrog! Hulle kan nie Skrifte soos die volgende hanteer nie en lees sommer vinnig daaroor:

Mat 10: 38-39 En hy wat nie sy kruis opneem en My volg, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor. En wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Heb 13:10 Ons het ‘n altaar waarvan hulle het geen reg om te eet wat die tabernakel bedien.

Hoeveel mense kan die verwysing na hulself in die woorde sien? –

Heb 9:22-23 En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie. 23 Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.

 “….hemelse dinge self” – wat beteken dit? Wie of wat is die “hemelse dinge” wat gereinig word deur beter offers as die bloedvergieting van aardse diere? Wie sal die woorde van God glo en wie sal hul eie dier opoffer?

Pred 3:18 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.

Open 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n MENS; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

Die woord “altaar” verskyn elf keer in die boek van Genesis en vyf keer is Abram in verband met ‘n altaar genoem. Vyf is inderdaad die getal van genade deur die geloof in die Skrif – veral hulle wat hul lampe vol gehou het en gereed is om die bruidegom te ontmoet:

Mat 25:1-2 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. 2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.

Ons gaan volgende keer meer gesels oor die vier altare wat Abram gebou het en wat dit vir ons beteken.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s