Belangrike aspekte van die geloof van Christus – om waarlik ‘Christen’ te wees (Deel 7)

Abram was bekend vir sy tent en sy altaar. Hy was ons voorbeeld van wat die geloof van Christus in ons beteken. Die tent verteenwoordig ons soeke na die dinge wat ewig is want die aardse het vir ons betekenisloos geword: 

2Kor 4:16-18  Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.  17  Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid;  18  omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. 

Die altaar is die plek van opoffering. Dit is waar ons saam met Jesus ons eie kruis opneem en sterf vir ons eie idees, begeertes en aardse bande: 

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind

Toe Abram in Kanaän kom, het hy sy eerste altaar gebou:

Gen 12:5-7  En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom.  6  En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kanaäniete was toe in die land.  7  Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het. 

(Kyk gerus na van die geestelike betekenisse wat weggesteek is agter al hierdie simbole by die skakel:

 https://4windkoinonia.wordpress.com/2014/08/29/die-beginsels-van-geloof-deel-6/)

Die tweede keer dat Abram ‘n altaar gebou het, was toe hy verskuif het van Sigem na ‘n berg tussen Bet-el, wat in die weste van die berg was, en Ai aan die oostekant: 

Gen 12:8  En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste— en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ‘n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep. 

Die woord “daarvandaan” in die vers is vertaal van die Hebreeuse woord “âthaq” wat dui op die groeiproses na volwassenheid. As ons leef van elke woord uit God se mond is ons altyd ywerig om meer te wil weet van God se denke oor dinge. Ons leer dan ook dat ons geloof net kan groei deur groot verdrukkinge wat dan ons drange na die vleeslike dinge in ons lewens wegneem geleidelik, soos God wil:

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

‘n Berg in die Skrif stel altyd voor, óf ons eie natuurlike verstand se verhewendheid, óf die verhewendheid van die denke van Christus. Een van die twee “berge” is in beheer in elkeen se lewe: 

Jes 55:8-9  Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.  9  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. 

Abram toon weer sy begeerte na God en Sy denke deur te reis van oos na wes. Hy kom van die ooste, Ur in die land van die Chaldeërs en kom die land Kanaän (wat wes van Ur geleë was) binne vanaf die oostekant en is dus nog steeds besig om weswaarts te beweeg. Hy kom nou by ‘n berg tussen Ai (aan sy ooste kant) en Bet-el (in die westekant). Hy kyk dus weswaarts na Bet-el wat baie betekenisvol is. Bethel beteken “huis van God” en dit word dus verbind ook met die berg waar hy nou sy tweede altaar bou. Ai beteken “puinhoop” (ook ‘n tipe berg, maar baie kleiner en amper niksseggend). Die plek Ai hou dus verband met ons nikswerd ou mens, Adam. Ons eerste aardse woning en alles op die aarde is inderdaad ‘n puinhoop van stof wat in ‘n vervalle toestand geskep was deur God: 

Gen 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. 

Gen 3:19  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. 

Jer 18:4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak

Die eerste pot was nooit perfek geskep soos baie valse leraars voorhou nie. Dit was ‘n mislukking “in die hand van die pottebakker”. Wie wil dit erken? MIN. God het nie die mens Adam perfek geskep soos baie die Skrifte verdraai nie. God is besig om mens in sy geestelike beeld te skep – God is immer gees en nie stof nie en lyk GLAD NIE soos ‘n mens nie. Hier is Jesus se eie woorde wat wys dat geen mens NOOIT God in gees en waarheid aanbid het nie:

Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Dit is wel die tweede pot wat perfek gemaak word. Dit is deur die opstanding uit die dode dat enige mens God se gees sal deelagtig word:

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.

1Kor 15:42 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid;

Die apostel Paulus verduidelik dan ook verder wat die verskil is tussen die aardse liggaam en die opgewekte liggaam wat uit die dood sal kom en hoekom ons na die tweede pot moet kyk en die eerste pot as ‘n “oneer” of “swakheid” gesien moet word want so het God self dit geskep!!! God is nie skaam om dit te erken nie – net die afvalliges dink hulle moet God se eer beskerm – belaglik! 

1Kor 15:43-46  daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.  44  ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.  45  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 

Dit is wat ons teëkom in ons reis van oos na wes, ook soos die son opkom – die Lig van God se openbaring in ons eie lewe kom eers nadat ons die donkerte beleef het. Waarom sal hierdie verse reg aan die begin van Genesis staan?

Gen 1:1-3 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.

Dit bevestig weereens God se orde. Ons ervaar eerste die duisternis en daarna die lig. Dit was altyd eers aand en dan môre op elke dag van die skeppingsdae, vir hulle wat dit kan ontvang:

En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.

En dit was aand en dit was môre, die derde dag.

En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.

En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.

En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

Die ingang in God se fisiese tempels in die Ou Testament was in die ooste en die allerheiligste in die tabernakel of tempel was dan in die weste. Ons beweeg dus ook in daardie rigting deur eers in stof en donkerte te kom en dan eers by die opstanding van die dode sal ons in God se ewebeeld, dit is gees, gemaak word:

Rom 8:29  Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders.

Selfs nou word ons vernuwe tot die denke van Christus deur ‘n proses van afsterwe vir die vleeslike denke in ons: 

Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Die mens beweeg altyd egter in die teenoorgestelde rigting – hy volg sy eie lig wat eintlik donkerte is maar hy kan dit eenvoudig nie sien nie:

Mat 6:22-23 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. 23 Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!

Dit is ook dan vir sommige gegee om nou reeds, deur die geloof van Christus in hulle, te kan inbeweeg agter die voorhangsel van hul eie vleeslike opvattinge om die kosbare skatte van God reeds nou al te ontdek wat die wêreld met al sy tydelike skaduwees sommer vaal laat lyk:

 Heb 10:19-25  Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus  20  op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,  21  en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het,  22  laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.  23  Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;  24  en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;  25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. 

Kom gesels met my as jy ook hierdie pragtige dinge wil deel wat God aan jou openbaar deur Sy Woord.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Belangrike aspekte van die geloof van Christus – om waarlik ‘Christen’ te wees (Deel 7)

  1. Terug pieng: Die beginsels van geloof (Deel 8) | Om die Waarheid te ken!

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s