Die beginsels van geloof (Deel 8)

Abram (hy is eers later Abraham genoem) is ons Ou Testamentiese tipe van wat die geloof van Christus in ons bewerkstellig. Abram se reise beeld ons eie reis uit soos ons deur God gelei word tot geestelike volwassenheid in die geloof van Christus na ons geestelike stad – Christus Jesus:

Heb 11:8-10  Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.  9  Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.  10  Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.

Abram was nie net bekend vir sy tente nie, maar ook vir sy altare. In die Skrifte word vier altare genoem wat Abram gebou het tot eer van God. Ons is besig om te kyk wat hierdie altare vir ons beteken want elke woord in God se Woord is uiters betekenisvol in ons eie lewe. Al die woorde wat geskryf is in God se Woord is nie slegs historiese waarhede nie, maar dit beskryf eintlik diep geestelike dinge in ons eie lewe – vir die wat dit kan sien:

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. 

Mat 24:35  Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. 

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Toe Abram in Kanaän kom, het hy sy eerste altaar gebou in Sigem, by  by die terpentynboom by More:

Gen 12:6-7  En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kanaäniete was toe in die land.  7  Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.

Kyk gerus watter geestelike betekenisse weggesteek is agter hierdie altaar en die plek waar dit gebou was, by die skakel:

https://4windkoinonia.wordpress.com/2014/08/29/die-beginsels-van-geloof-deel-6/

Die tweede keer dat Abram ‘n altaar gebou het, was toe hy verskuif het van Sigem na ‘n berg tussen Bet-el en Ai:

Gen 12:8  En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste— en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ‘n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep.

Kyk ook gerus watter geestelike betekenisse ook in hierdie gedeelte weggesteek is, by die volgende skakel:

https://4windkoinonia.wordpress.com/2014/09/05/die-beginsels-van-geloof-deel-7/

‘n Hongersnood in die land Kanaän het toe veroorsaak dat Abram en sy familie suidwaarts getrek het, en hulle beland toe in Egipte (Gen 12:9-10). Egipte verwys na ons eie vlees as die plek van slawerny as ons deur al ons sondige drifte beheer word. Egipte is dus die geestelik plek waar die vleeslike dinge hoogty vier in ons lewens voor ons verlossing kom – hierdie slawerny in Egipte word in talle tekste in die Bybel uitgewys:

Deu 15:15 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipteland was, en dat die HERE jou God jou verlos het; daarom beveel ek jou vandag hierdie saak.

Hand 7:9-10  En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom  10  en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis.

Egipte word ook met Sodom gekoppel en dan ook met die aardse Jerusalem (die valse kerk) waar Jesus gekruisig word. Jesus se Woord word hier verdraai en vervals en almal Sy ware getuies word ook hier in die plek verwerp en gekruisig:

Open 11:3  En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer. 

Open 11:8  en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is.

Dit is dan ook hier in Egipte waar Abram dieselfde doen – hy verloën sy eie vrou uit vrees vir sy eie lewe:

Gen 12:11-13  En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien.  12  As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe.  13  Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. 

Hier in Egipte neem die wêreld beheer van jou vlees en jy beskerm liewer jou eie selfsugtige belange as om vir die waarheid te staan:

Gen 12:14-16  Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was.  15  Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem.  16  En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het.

Gen 13:2  En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud. 

Dit is hier in Egipte waar ons ‘n kompromie aangaan en Goddelike standaarde verontagsaam. Ons word in Egipte gewoond aan aardse goedere wat ons dan versamel ten nadeel van die geestelike dinge van God in ons lewens. Maar God sal Egipte (of die aardse en valse Jerusalem) besoek met plae omdat hulle God se waarhede (hier verteenwoordig deur Sarai) vir hulself gebruik:

Gen 12:17 Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram.  

Egipte is egter ook ‘n plek van vernedering as die wêreld jou sonde aan jou moet uitwys: 

Gen 12:18-20  Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie?  19  Waarom het jy gesê: Sy is my suster—sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg.  20  En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.

Die kind van God sal deur die wêreld weggewys word want die lig is nie welkom in die duisternis nie. Alhoewel God se kinders struikel en val, sal God hulle self oprig. God sal nie toelaat dat Sy kinders se woonplek vernietig word nie:

Spr 24:15-16  Loer nie, o goddelose, op die woning van die regverdige, verwoes sy verblyfplek nie.  16  Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk.

Dit is in Egipte waar daar geen plek vir ‘n altaar om God te eer in Abram se lewe voorkom nie.  Dit is weer by Abram se terugkeer uit Egipte dat hy weer kom by die laaste altaar wat hy gebou het voor hy na Egipte gegaan het. Dit is hier by hierdie altaar waar God weer Abram se verhouding met Hom herstel:

Gen 13:1-4  So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom.  2  En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud.  3  En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai,  4  na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep.

Advertisements
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s