Abram (hy is wel later Abraham genoem) is ons tipe van hoe die geloof van Christus in die gelowige se lewe deur verskillende fases en allerhande beproewinge gaan sodat daardie geloof gelouter kan word:
1Pe 1:6-7 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus.
Abram het, soos enige ware gelowige, geen blywende stad hier op aarde geken nie, want hy het die stad van God verwag:
Heb 13:14 Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.
Heb 11:8-10 Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. 9 Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. 10 Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
Nadat Abram en sy familie in Egipte vir ‘n tyd lank gebly het, het hulle teruggekeer na Kanaän:
Gen 13:1-4 So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom. 2 En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud. 3 En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai, 4 na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep.
Sodra Abram en sy familie terug is in die land Kanaän, was die altaar van die Here terug in sy regmatige plek. Dit is die derde keer dat Abram met ‘n altaar vir God te doen kry. Abram het na dieselfde altaar teruggekeer in die berg tussen Bet-el en Ai wat hy gebou het voor sy vertrek en verblyf in Egipte. Abram was nou baie ryker aan vee, aan silwer en goud en dit is wat Egipte dan ook vir ons vlees beteken. Egipte verteenwoordig die land waar die vlees verryk word en ons kompromieë aangaan om eerder die self tevrede te stel as om God en Sy gebooie eerste te stel. Dit is die land van vleeslike slawerny, voordat die Here ons daaruit lei:
Eks 20:2 Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
Die altaar wat Abram nou weer herstel en gebruik het wys dat hy die Here weer eerste stel bo vleeslike welsyn en verlustiging. Die altaar verteenwoordig die opoffering en verloëning van die self, wat ook deur die kruis in die skrifte voorgestel word:
Mat 16:24-26 Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. 25 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. 26 Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?
Die boodskap van die kruis is vir baie ‘n bitter pil om te sluk en sien dit selfs as belaglik en dwaasheid:
1Kor 1:18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.
Baie glo dat Jesus vir hulle gesterf het en dit is voldoende, want hulle sien nie dat hulle ook hulle eie kruis moet opneem nie, soos Jesus wel duidelik gesê het. Dit was ook die oortuiging van baie in die Korinthiër-gemeente en Paulus het dit ook dan duidelik gestel in die volgende woorde:
1Kor 2:1-2 En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, 2 want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.
Hierdie was nie ‘n kompliment soos baie dit wil lees nie, maar eerder ‘n bestrawwing van Paulus. Hierdie gemeente was onvolwasse in die geloof en het nie gesien dat hulle ook hulself moet verloën en hul eie kruis moes opneem nie:
1Kor 3:1-2 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie.
Selfs die kerk in Galasië het met dieselfde probleem van geestelike onvolwassenheid gesit en Paulus het hierdie belangrike woorde aan hulle geskryf wat baie min ook vandag regtig kan sien:
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Om Jesus as gekruisig te erken is net deel van die evangelie van Christus – ons moet saam met Hom sterf vir ons eie sondige natuur en drifte. Dit is waarom Hy IN ons kom woon om dit te kan doen. Dit is inderdaad ‘n verborgenheid wat God vir min laat sien:
Kol 1:27 aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.
Christus “onder julle” word beter voorgestel in die woorde dat Christus IN ons is en ons sodoende die hoop van verlossing bring. En hier is die rede waarop dit moet gebeur:
Kol 1:24 Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is.
Ons opoffering op die altaar van God is vir ander se onthalwe – die self word totaal uit die prent geneem want die vlees word in die proses vernietig. Vleeslikheid behels alles wat ons aan die geestelike dood koppel:
Rom 8:6-8 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.
En die woorde “die oorblyfsels van die verdrukking van Christus” beeld duidelik uit dat ons deel in Sy lyding ook baie belangrik is. Ons kan net heerskappy kry oor ons eie vlees as ons dit opoffer!
2Ti 2:11-12 Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. 12 As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.
Ons geloof word dus aan almal geopenbaar deur ons lewenswandel en werke. Ons geloof is dus onlosmaaklik gekoppel aan ons lyding vir Hom:
Fil 1:29-30 omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, 30 terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor.
Die leerstelling van Christus se plaasvervangende dood is dus ‘n valse leerstelling want dit preek dat die mens nie sy eie kruis moet opneem nie want hulle kan nie sien dat daar ‘n “oorblyfsel” van die lyding van Jesus is nie!!! Ons voltooi die dood van Christus in ons eie liggaam – wie kan dit glo?
2Kor 4:10-12 Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word. 11 Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. 12 So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.
Hierdie valse leerstelling dat Jesus as plaasvervanger “in ons plek gesterf het” sodat ons nie hoef te sterf deur ons EIE kruis op te neem nie, is so oud soos die mens self:
Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie.
Hierdie leuen van Satan, die ou slang, beroof ook baie vandag nog om die oorwinningslewe van die inwonende Jesus direk te kan ervaar. Jesus het nie gesterf en opgestaan uit die graf sodat ons kan rustig voortgaan in ons sonde en dan net die “bloed pleit” nie. Dit is ook onskriftuurlik om mense te leer om die bloed van Jesus te misbruik as ‘n soort middel om sonde toe te smeer! Nêrens in enige teks in die hele Skrif word ons gesê om die bloed van Jesus te “pleit” nie – dit is baie ernstig as ons die kosbare bloed van Jesus aanwend om ons eie ongoddelike verdraaiings te pas:
Heb 10:28-31 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; 29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? 30 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.
Is die boodskap van die kruis dwaasheid? Nee, nee, duisend maal NEE. Deur die geloof van Christus in ons leer ons dat die kruis is juis ons oorwinning oor die vlees en alle eer aan die inwonende Christus wat hierdie waarhede aan ons openbaar!
Heb 13:10-13 Ons het ‘n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie; 11 want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word—hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12 Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. 13 Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra.