Soos ons weet is Jesus die Woord van God – dit is dieselfde Woord wat ook God se gees is en wat in ons kom woon en ons vervul:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Enigeen wat die gees op ‘n ander manier ontvang, ontvang ‘n valse gees wat die vlees vereer. Hierdie valse gees gaan baie keer gepaard met wat mense as “hoendervleis” of “hoendervel” beskryf. Dit is voorwaar ‘n teken van ‘n verleidende vleeslike gees. Is daar opgewondenheid betrokke as God Sy Woord aan ons openbaar en ons met Sy waarheid vervul word? Verseker is daar geweldige blydskap betrokke, maar as dit net daar bly is ons nog nie geanker in Sy diepte nie!
Luk 8:13 En dié [saad of dan God se Woord] op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.
Ons bly dus nie by die “hoor” van die Woord nie, maar gaan voort om dit te doen – dan word ons geanker teen die storms en verleiding:
Mat 7:24-25 Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. 25 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.
God se gees is Sy Woord. En so word ons vervul met die gees van die Vader want die Woorde (dit is presies wat geskryf is in die Skrifte) is die ware gees want kom van die Vader:
Joh 14:7-11 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. 8 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. 9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. 11 Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.
Baie assosieer die gepraat in brabbeltaal as ‘n teken van die vervulling van die gees van God. Nee dit is nie wat die Skrifte leer nie. Baie ploeter voort in onkunde omdat hulle ‘n gevoel ervaar as hulle in die brabbeltaal praat asof die Skrifte hiervan praat as dit noem van die spreking in “ander tale”. Almal wat met die gees van God gevul was in die Nuwe Testament het gepraat in ‘n taal wat bekend is aan die hoorders! Die sprekers het wel nie geweet wat hulle sê nie, maar die hoorders kon hoor hoe hulle God prys. En daar is die rede vir die praat in tale – dit is ‘n teken vir die ongelowige. Hulle moet kan hoor dat God geprys word want die taal wat gespreek word is vir die ongelowige se ore bedoel:
1Kor 14:22 Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges….
Kyk wat die Skrifte sê oor die ongelowige Jode wat die tale gehoor het wat die 120 dissipels gepraat het op die Pinksterdag:
Hand 2:5-12 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. 6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; 7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? 8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? 9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, 10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, 11 Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. 12 En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees?
Die tale wat hier gepraat was, was BEKENDE tale wat selfs deur die Skrifte duidelike genoem word – sestien bekende tale om presies te wees. Dit is die tale wat die eerste dissipels op Pinksterdag ontvang het en wat die ongelowige Jode daar in die tempel kon hoor en VERSTAAN!!! Om in tale te praat is dus niks te make met dit wat in sekere sogenaamde pinkster- en charismaties denominasies gebeur nie. Emosionele opwellings het niks te doen met die vervulling en lewe in die gees van God nie.
Afrikaans is een van die tale wat God aan ons gegee het om God mee te prys sodat hulle wie Afrikaans verstaan, wat nog nie glo dat Jesus die Redder van ALLE mense is nie, wel kan hoor! Hopelik skenk God ook aan die wat hierdie Woord lees op hierdie webtuiste, Sy geloof:
Rom 10:14-18 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? 15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! 16 Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo? 17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. 18 Maar ek sê: Het hulle miskien nie gehoor nie? Ja, seker! Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.
Dankie Vader vir die voorreg wat ek gehad het om U Waarheid te hoor oor redding van alle mense in Christus!!! Ek prys U Naam en bid dat ons wat die Waarheid ontvang het, tydig en ontydig U goeie nuus sal verkondig. Ek bid vir genade dat ons staande sal bly en getrou bly tot die einde. Ek bid vir Larry en dank U Vader vir U leiding. ek loof U Here dat U liefde geen einde ken nie!!
Dankie D_______ en Amen op alles wat jy bid. Die Here seën jou suster.