Soos ons weet is God se Woord te doen met geestelike dinge en duiwels (bose geeste) behoort ook tot daardie dimensie – op ‘n negatiewe manier. Ons weet ook dat alle geeste onderworpe is aan die Vader wat aan alle geeste hul spesifieke opdragte gee:
Heb 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?
God is “die Vader van die geeste” – alle geeste – die goeies en die bose geeste. Kyk net hier hoe God ook die bose geeste stuur:
Rigt 9:22-23 Toe Abiméleg drie jaar oor Israel geheers het, 23 het God ‘n bose gees gestuur tussen Abiméleg en die burgers van Sigem, en die burgers van Sigem het troueloos gehandel teen Abiméleg…
1Sa 16:14 Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.
1Kon 22:20-23 En die HERE het gesê: Wie sal Agab oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so. 21 Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee? 22 En hy sê: Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so. 23 En nou, kyk, die HERE het ‘n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee, en die HERE het onheil oor u gespreek.
Wie sal hierdie Skrifte kwoteer as hulle glo God kan nie onheil oor mense spreek en bose en leuenagtige geeste stuur nie. Kyk net wat sê hierdie bose gees aan die sewe seuns van Skeva:
Hand 19:14-15 Dit was sekere sewe seuns van Skeva, ‘n Joodse owerpriester, wat dit gedoen het. 15 Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?
Bose geeste ken God en hulle ken Jesus. Om die waarheid te sê, hulle glo ook God is een:
Jak 2:19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.
Duiwels of bose geeste staan direk onder God se beheer. Hulle kan nie ‘n vinger verroer as Hy hulle nie krag gee om ook net te doen wat Hy hulle opdrag gee om te doen. Geen duiwel het sy eie krag nie en geen duiwel het ‘n “vrye” wil nie. Net God se wil seëvier oor alles en almal. Diegene wat aan die duiwel en sy engele soveel mag gee asof hulle self hul eie krag en lewe genereer, is geestelik blind en ontken God se soewereiniteit oor alles en almal in Sy skepping. Sommige dink God sit daar ver op fisiese planeet, of iets soos ‘n planeet met goue strate, en goue hekke, en goue huise, en al die derglike dinge wat hulle dan ook die “hemel” noem. Hulle sien God as fisies verwyderd van wat in hierdie skepping, of op die aarde aangaan. Maar God is nie paniekbevange oor wat Satan en sy duiwels aanvang nie. Net diegene wat God nie ken nie, dink sulke onsinnigheid waarmee hulle ook ander verkeerdelik beïnvloed. Tragies.
Kyk maar gerus in die Skrifte hoe Satan sy opdragte presies kry by God om Job aan te val in Job 1 en Job 2. Dit was ook God wat Satan se aandag op Job gevestig het en ook hom presiese grense gegee het om sy verwoestingswerk in Job se lewe te doen. Alles met God se goedkeuring. Die valse leraars kry pyne as hulle hierdie waarhede hoor. Maar dit is omdat hulle ook nie eens weet waar al hierdie dinge gebeur nie. Wat sê die Skrifte oor waar die bose geeste besig is:
Efes 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
Hulle werk “in die lug” volgens die Afrikaanse Bybel. Die Afrikaanse vertalers het die Griekse woord “epouranios” hier vertaal met die woorde “in die lug”, waar hulle dit ten minste 16 keer op ander plekke in die Bybel dieselfde Griekse woord vertaal het as “hemel” of “hemele” of “hemelse”. Hier is ‘n paar voorbeelde:
Joh 3:12 As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse [“epouranios”] vertel?
Efes 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele [“epouranios”], in Christus.
Fil 2:10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel [“epouranios”] en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is.
MIN weet hoe die bose geeste “in die lug” opereer. Watter lug? Die lug om die aarde…die lug waar die ander planete is….die lug in die breë kosmos? Waarvan praat die mense? Die jammerte is dat “baie” geleerdes in die wêreld self nie weet nie. Die vertalers van Bybels is sekerlik baie eerlike mense en hulle doen baie, baie goeie werk wat elkeen van ons moet waardeer. Maar hulle kan ook net binne die raamwerk werk wat aan hulle gegee word. En die raamwerk is ook verder beperk tot hul eie insigte. Hulle sou nooit kon skryf dat die bose geeste in die hemel opereer nie. Toe skryf hulle maar “in die lug”. Hulle sou hulle werk verloor want selfs hul werkgewers verstaan nie al die dinge nie! Dit is waarom die vertalers gevra word om te help met die uitleg van die woorde. Maar hulle is beperk in hul insigte deur God self, en daarom is daar ook so baie vertalings – niemand kry dit altyd reg nie. Alle vertalings is maar foutief op hul eie manier. Dit is net letters, maar die Woord van God is eintlik gees. So…..agter elke Woord van God wat geskryf is, is ‘n geestelike betekenis wat diep weggesteek is waar al die geleerdheid van alle mense saam dit nie sal ontdek nie:
1Kor 1:19-20 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. 20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?
God se geestelike dinge is ‘n “verborgenheid” wat bedek is vir die natuurlike denke in ons:
1Kor 2:7 Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,
Maar God openbaar wel Sy geestelike verborgenhede aan ‘n paar, volgens God se keuse:
1Kor 1:26-29 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
Dit is hulle wat nooit deur die wêreld erken sal word nie, want wat hulle sê is dwaas in die ore van die geleerdes:
1Kor 2:9-10 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.
Maar aan hulle wie God oë gee het om die geestelike verborgenhede te sien, en ore gegee is om God se stem te hoor, weet waar die duiwels of bose geeste optree. As ons kan sien wat en waar die hemel is, sal ons ook kan sien of daar in mense self bose geeste of duiwels is. Jesus het ook so gesê want Hy self het duiwels voor mense se aanskoue uit mense gedryf. Hier is twee getuies:
Mat 8:28-32 En toe Hy aan die oorkant kom, in die land van die Gergeséners, het twee duiwelbesetenes [twee mense wat deur duiwels besit geneem was] Hom ontmoet, wat uit die grafte uitgekom het en baie kwaai was, sodat niemand met daardie pad kon verbygaan nie. 29 En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig? 30 En ver van hulle af het ‘n groot trop varke gewei. 31 En die duiwels het Hom gesmeek en gesê: As U ons uitdryf, laat ons toe om in die trop varke te vaar. 32 En Hy sê vir hulle: Gaan! Toe gaan hulle uit en vaar in die trop varke in; en daar storm die hele trop varke van die krans af die see in en kom in die water om.
Mat 17:14-18 En toe hulle by die skare kom, gaan daar ‘n man na Hom en val voor Hom op die knieë en sê: 15 Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water. 16 En ek het hom na u dissipels gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie. 17 Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom hier vir My. 18 Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af.
Die hemel waar die geeste opereer is IN mense!!! Selfs God se gees kom woon IN mense:
Joh 14:16-18 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en IN julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
Jesus kom in gees IN sy volgelinge woon – deur Sy Woord:
Joh 14:7-10 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. 8 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. 9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? 10 Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat IN My bly, Hy doen die werke.
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Maar voor die gees van God, wat ook IN Jesus is, in ons harte (ons hemel) kom woon, is ons hemel eers onder die beheer van die duisternis waarin die bose geeste hul werke doen.
Gen 1:1-2 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.
Nog ‘n voorbeeld van die werking van bose geeste is in die geval van siektes. Alhoewel dokters en die mediese praktyk allerhande name vir siektes het, noem God dit eenvoudige ‘n “onreine gees” wat mense aanval:
Mar 9:25 En toe Jesus sien dat ‘n skare bymekaar stroom, het Hy dieonreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.
Die persoon is nie verantwoordelik vir die onreine gees nie – dit kom alles van God en ons moet mense wat ook siek is respekteer en hulp aanbied waar ons kan help. Bid tot God vir genesing en kry die siekes by ‘n dokter om ‘n diagnose te verkry, en luister na goeie mediese raad. Ons self word ook siek en ons wil altyd so gou as moontlik gesond word…maak nie saak hoe nie. Dit is die gang van die natuurlike mens en sy bestaan in ‘n liggaam van sonde en dood. Dank die Here vir die dokters wat ons help – hulle gawes is ook van God:
Jak 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.
Niemand van ons is dus vry van die beïnvloeding deur onreine geeste van die vlees nie. Selfs nie eens die eerste volgelinge van Jesus was uitgesonder of gevrywaar toe Hy op die aarde bedien het nie. Een van die uitverkore twaalf apostels wat Jesus meer as drie jaar gevolg het, wonderwerke in Sy Naam gedoen het, en selfs siekes gesond gebid het, het ook geval vir die verleidelike bose gees van Satan:
Luk 22:3 En die Satan het in Judas gevaar, wat Iskáriot genoem word en wat uit die getal van die twaalf was.
God het ook vir Paulus ‘n engel van Satan, dit is ‘n bose gees in sy vlees, gegee waaroor hy die Here drie keer gebid het om verlossing te kry:
2Kor 12:7-9 En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. 8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. 9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.
As ons dus weet hoe en waar duiwels opereer, sal ons ook kan sien hoe om ons voor God te verneder en nie onsself te verhef nie. God se genade is genoeg vir ons want Hy weet wat ons kan dra. God maak nie ‘n fout as Hy bose geeste na ons stuur nie. God is altyd doelgerig:
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Maar God bevry ons ook (op die tyd soos deur Hom alleen bepaal) van die invloed van bose geeste in ons lewe en Hy verhoog ons om met Sy gees gevul te word sodat ons die Waarheid kan hoor. Bose geeste hou hulle besig om die Waarheid van ons weg te hou, soos deur God self bewerkstellig, deur die god van hierdie wêreld:
2Th 2:10-12 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
2Kor 4:4 naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.
Rom 11:8 Soos geskrywe is: God het hulle [fisiese Israel en almal wat nie geestelike dinge kan oordeel nie] gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.
Net God maak blinde oë oop om saam met Hom te kan sit en dinge te kan sien soos Hy dit sien – deur Sy Woord:
Efes 2:4-6 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,