“Dissipels” teenoor “ware dissipels” van die ware Jesus

Ons moet die volgende woorde van Paulus as baie belangrik sien as ons wil uitvind wie ‘n ware Jood is volgens God se definisie. Hierdie onderskeid sal ons ook verder help om die verskil tussen “dissipels” van Jesus en die “ware dissipels” van die ware Jesus te kan sien. Alles het te doen om God se ware uitverkorenes in Christus Jesus uit te kan ken:

Rom 2:28-29  Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie;  29  maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.

Die ware Jode is hulle wat verborge is vir die vlees – want die ware Jode is hulle wat God in die gees dien. Waar ook al ons lees in die Bybel van die fisiese Jode, dien dit slegs as ‘n simbool van die hedendaagse onderskeid tussen diegene wat hulself as “Christen” klassifiseer en die wat die “ware Christene” is:

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Hier gee Jesus ons die lakmoestoets om die vleeslike “dissipels” en die ware dissipels te onderskei:

Mat 5:43-48  Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.  44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;  45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.  46  Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie?  47  En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie?  48  Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Die ware Christen bewe vir God se Woord en respekteer God se werke in mense – die wat goed doen en die wat sleg doen. Soos die ware Jesus ook sy vyande liefhet, so sal Sy ware volgelinge doen want hulle bewe vir Sy Woord deur dit te doen!

Jes 66:2  Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.

Alle fisiese konsepte en dinge word deur die denke van die vlees gekonseptualiseer en beheer – soos God dit ook dan bepaal. Maar dit is juis hierdie vleeslike denke wat God weerstaan – so dom soos dit klink, gebeur dit in ons almal se lewens totdat ons sien wat ons in ons blindheid aanvang op die tyd soos deur God bepaal!

Rom 8:5-8  Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.  6  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,  7  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.  8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Hierdie vleeslike denke is in teenstand met God, nie mense nie:

Efes 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Die vleeslike denke kan nie God werke sien of verstaan nie – al staan dit reg voor hulle oë:

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Die vleeslike denke van die valse dissipels gebruik dus fisiese metodes want dit kan net nie sien dat ons in ‘n geestelike oorlog betrokke is nie. Die ware dissipel gebruik alleenlik God se geestelike wapens met groot sukses!

2Kor 10:3-7 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; 4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, 5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, 6 en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is. 7 Kyk julle na wat voor oë is? As iemand by homself vertrou dat hy aan Christus behoort, laat hy dit by homself weer oorweeg, dat net soos hy self aan Christus behoort, ons ook so aan Christus behoort.

Hier praat Jesus met die fisiese Jode wat in Hom geglo het:

Joh 8:30-32  Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo.  31  En Jesus sê: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.  32  En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Hier sien ons dus uit die Skrifte dat daar wel “dissipels” en “ware dissipels” van Jesus is. Dit is ‘n belangrike onderskeid wat ons elkeen sal moet kan sien. Daar is “dissipels” wat Jesus net volg met fisiese oortuiginge want vir hulle gaan alles net oor hul eie denke en eie insigte. Hierdie einste gelowige Jode wat Jesus hier mee praat val onder die gewone “dissipels” en hier is dit dan ook uitgebeeld dat hulle in ‘n geskil met Jesus raak – soos gewoonlik sal dit ook in ons lewens gebeur as ons die ware Jesus volg:

Mat 10:14 En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.

Mat 10:16-17 Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. 17 Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel.

Mat 10:22 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

Wel daar staan dit wat Jesus self sê met enige ware dissipel van Hom SAL gebeur. Sodra die vleeslike “dissipel” nie meer bevredig word nie, word aggressie uitgestal – selfs Jesus het nie hierdie haat van Sy eie vleeslike “dissipels” ontsnap nie. Luister na hul redenasie en mens sien dit vandag nog by diegene wat regtig dink hulle dien God. Maar Jesus het skokkende nuus vir die vleeslike dissipels:

Joh 8:39-44  Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen;  40  maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie.  41  Julle doen die werke van jul vader. Toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God.  42  En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur.  43  Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.  44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Jesus klassifiseer diegene wat onder die beheer van vleeslike denke opereer, as “kinders van die duiwel”. Wel daar is dit vir almal om te lees! Hy noem Sy eie vleeslike dissipels “kinders van die duiwel” – hulle wat Hom volg om hulself te bevredig. Dit is die “dissiples” wat Jesus dus  nie ken na die gees nie en het nog nie verby die vleeslike Jesus gegroei nie:

2Kor 5:16  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.

Die ou vlees is nog in volle swang en haat en bitterheid word openlik by die “dissipels” opgemerk. Hulle stuur selfs hul weermagte na ander lande om daar hul verwronge Christelike waardes los te skiet. Daar is geen begrip oor wat die volgende woorde regtig beteken nie:

2Kor 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Mat 5:38-39 Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. 39 Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.

Almal wat Jesus se Woorde nie as gees en waarheid kan sien nie is kinders van die duiwel – hulle haat hul vyande en glo in die vleeslike wet van “oog vir oog en tand vir tand”. Daarom verlaat hulle Hom, maar gaan voort onder Sy Naam:

Joh 6:63-66  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.  64  Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai.  65  En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie.  66  Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.

Hulle beweeg dan saam met die sewe vroue (die valse kerke) wat Sy Naam gebruik maar hulle “eie brood” eet en hul “eie kleed” van selfgeregtigheid en selfregverdigheid uitstal. Hulle glo ook nie in die leer van die lyding van die Christus nie:

Jes 4:1 En in dié dag sal sewe vroue een man aangryp en sê: Ons eie brood sal ons eet en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg.

GEEN fisiese nasie is of was ooit die geestelike uitverkorenes van God nie. Kyk wat sê Paulus van die fisiese Jode – sy eie broers in die vlees:

Rom 11:7-8  Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard.  8  Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe. 

Rom 11:11-12  Ek vra dan: Het hulle [fisiese Israel] miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak.  12  En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!

Die fisiese Israel het gefaal in die sin dat hulle nooit God se geestelike volk was nie. Dit is die delusie wat die wêreld glo en selfs vandag word Israel (of dan die politieke stelsel van die politieke Sioniste) deur lande soos die VSA en Brittanje as die uitverkorenes gesien en kry groot hoeveelhede geld en wapens om ander nasies rondom hulle te terroriseer om ‘n sogenaamde seën op hierdie nasies te bring wat al die geld en ondersteuning gee. Selfs nasies soos Egipte en Jordanië ontvang massiewe somme geld om nie die fisiese Israel aan te val nie. Alles is deel van die komplot om mense te mislei en nie die Skrifte te glo dat die fisiese Israel reeds baie lank gelede al verwerp is deur God omdat Hy net een ware Israel het en ook “ware dissipels” – die ware kerk van Jesus Christus.

Die leer van “replacement theology” is wat juis hierdie vervanging van die fisiese Israel met die geestelike Israel beklemtoon want dit is waar, volgens die Skrifte!

Gal 6:14-16  Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.  15  Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.  16  En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!

Die “Israel van God” is die “ware dissipels” van Jesus want dit is hulle wat in Jesus leef en Hom in gees en waarheid aanbid. Soos God almal gaan red, net so sal Hy ook die fisiese nasie van Israel red. Die Skrifte sê duidelik wanneer hierdie redding van die fisiese Israel gaan gebeur – en dit is ‘n groot skok vir diegene wat hierdie tekste in God se onfeilbare Woord totaal ignoreer asof dit nie daar staan nie:

Rom 11:25-26  Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;  26  en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend. 

Eseg 16:1-2  Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 2  Mensekind, maak aan Jerusalem sy gruwels bekend. 

Eseg 16:55  En jou susters, Sodom met haar dogters, sal na hulle vorige toestand terugkeer; en Samaría met haar dogters sal na hulle vorige toestand terugkeer; en jy met jou dogters sal na julle vorige toestand terugkeer [na al die heidinne gered is!!!!].

Sodom en Samaria is die simbool vir die heidinne soos Paulus dit mooi verduidelik. God gaan EERS AL die heidinne red voordat die fisiese Jode gered gaan word. Dit sluit aan by die punt hoe ons die “dissipels” van die “ware dissiples” van Christus moet kan onderskei. Daar is ook vandag die afvallige Christendom wat hulself as God se sogenaamde uitverkore volk sien en met haat en geweld omgaan om mense in hul valse leerstellings te laat glo. Hulle woorde is vol venyn en hulle kan nie wag om hul vyande te sien skree van pyn in hulle “ewige hel” nie. Dit is hul eie bose harte wat openbaar word en hulle kan dit self nie eens sien nie.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s