Ons weet dat die oorspronklike Nuwe Testament soos vervat in die Bybel in Grieks geskryf was. Dit is dus goed om sommige woorde wat in vertalings voorkom in die oorspronklike taal na te slaan indien sekere vrae ontstaan oor dit wat oor jare aan ons voorgehou was. Om vrae te stel is skriftuurlik:
Mat 5:42 Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.
Mat 16:13 En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?
Maar die Skrifte sê ook dat ons alle geeste moet toets, ook in die vrae wat gevra word:
1Jn 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.
1Ti 6:3-5 As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 4 dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 5 nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.
Jesus se eerste dissipels, en al sy volgelinge deur die eeue, vra vrae. Kyk na hierdie vraag wat vier van sy eerste apostels aan Hom gevra het:
Mar 13:3-4 En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik: 4 Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?
Hier is Mattheus se weergawe:
Mat 24:3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld (Gr. aion)?
Hulle vraag was drieledig en al die dele gaan hand aan hand:
- wanneer sal hierdie dinge wees, en
- wat is die teken van u koms en
- van die voleinding van die wêreld?
“Hierdie dinge” verwys terug na hierdie woorde van Jesus:
Mat 24:1-2 En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. 2 En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
Jesus verwys na die afbreek van die tempel. Die afbreek van die tempel hou direk verband met Sy koms en die einde van die wêreld! Om dus te verstaan wat Jesus met die afbreek van die tempel bedoel, moet ons die res van die dissipels se vraag nie as apart hanteer nie:
‘…wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld (Grieks. aion)?’
Maar daar is ‘n probleem wat elke diepdenke Christen in die teks moet kan sien. Die tempel in Jerusalem was in 70 nC vernietig deur die Romeine, en tog was dit nie die einde van die wêreld nie en Hy het nie gekom nie.
Open 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!
Het Jesus dit verkeerd gehad?
NEE.
Vir hulle wat weet van God se ware tempel en die afbreek daarvan, is die woorde van Jesus 100% in die kol. Lees mooi hoe Paulus dieselfde gebeurtenis verduidelik:
1Kor 3:11-17 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. 16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? 17 As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.
Die afbreek van die tempel gaan gepaard met die koms van ons saligheid en die einde van ons “wêreld” – ons redding!
Daar is twee Griekse woorde wat groot probleme veroorsaak en wat misbruik word deur die afvalliges om baie mense in die donkerte van hul leuens te hou. As mens hierdie leuens glo, dan is dit onmoontlik om die ware konteks en betekenis van Jesus se woorde oor die afbreek van die tempel en die tyd van die afbreek van die tempel reg verstaan nie. Vir diegene wat opreg soek, klop en vra, sal die lig van God se waarheid deurskyn.
Die Griekse woorde is “aion” en “aionios”. Valse leraars het die onkunde oor die twee woorde uitgebuit (tot vandag) om miljoene te mislei en hulle laat glo dat God met die twee woorde “ewigheid” of “ewige” in gedagte gehad het.
“Aionios” is die byvoeglike naamwoord van die selfstandige naamwoord “aion”. Altwee het dus dieselfde kernbegrip. Die betekenis van die twee Griekse woorde is beskikbaar in Griekse woordeboeke en op die internet, maar word goed verduidelik deur Dr James Strong, ‘n gerespekteerde kenner van albei die Hebreeuse en Griekse tale. In sy konkordansie oor die betekenis van die twee Griekse woorde vind ons die volgende:
G165 (αἰών – aiōn) verwys na ‘n tydperk… en G166 (αἰώνιος – aiōnios) Van die betekenis van G165
Alhoewel Dr Strong die betekenis “tydperk” eerste aan die woord koppel, gaan hy egter verder en verduidelik dat die woorde ook “ewig”, “ewige”, en selfs “wêreld”, onder andere, kan beteken. Dr Strong was soos almal van ons in ons natuurlike denke daarvan oortuig dat die begrippe “tydperk” en “ewige” versoenbaar is. Dit is nie.
Hoekom maak Dr Strong en almal van ons dan die soort afleiding? As ons kyk na ‘n paar tekste wat in die Afrikaanse Ou Vertaling van die Bybel gebruik word om die woorde “aion” of “aionois” te vertaal, dan kom iets anders na vore (die woord “aion” staan langsaan sy Afrikaanse woord waarmee dit vertaal is):
1Ti 1:17 Aan die Koning van die eeue [Gr. aions], die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid [Gr. aions van die aions]. Amen.
In die eerste geval is die woord “aion” as “eeue” vertaal wat redelik korrek is. Maar in dieselfde vers spring die vertalers om en sê nee die woord “aion” beteken eintlik “ewigheid” of self “alle ewigheid” – wat dit ookal beteken. Regtig, is Jesus koning vir ewig oor God se koninkryk? Kom ons kyk wat sê die Skrifte!
1Kor 15:24-28 Daarna kom die einde, wanneer Hy [Jesus] die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy [Jesus] moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Jesus gaan die koninkryk oorgee aan Sy Vader want dit is die Vader s’n! Jesus self behoort aan die koninkryk, en die Vader heers oor alles, ook oor Jesus. Jesus se immers self so:
Joh 14:28 Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek.
Dit is dus nie “verewig nie”, maar vir ‘n tydperk wat God Jesus aanstel oor Sy Koninkryk. Jesus was as die Skepper van die fisiese skepping aangestel deur die Vader en Hy was opdrag gegee om hierdie skepping deur ‘n proses te neem waar Hy, onder andere, almal wie in Adam geskep was in vlees moet neem tot geestelike volwassenheid. Die taak het dus ‘n begin en ‘n einde wanneer Hy ALMAL in Adam geestelik lewendig sal stel voor die Vader. Jesus sal 100% suksesvol wees:
1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;
Hier is nog een van die 129 keer wat die woord “aion” deur die Gees van God in die oorspronklike taal van die Nuwe Testament gebruik was:
Mat 24:3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld (Gr. aion)?
Lees asseblief die hele hoofstuk (Matt 24) om ‘n volle begrip te kry van al die dinge wat gaan gebeur voor die “voleinding van die wêreld”. Jesus sê ook toe iets wat die Christendom (met al sy vertakkinge) in ‘n legio van maniere verduidelik. Maar vir hulle wat kan sien praat Jesus hier spesifiek met ‘n paar van Sy apostels (Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas afsonderlik) oor iets baie intiem en persoonlik:
Mat 24:33-35 So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
Hoe het daardie vier apostels alles gesien gebeur wat in Mattheus 24 beskryf was? Dat hulle wel alles van Mattheus 24 sien gebeur het is waar – hulle het alles sien gebeur. Maar min kan dit glo want hulle kyk uiterlik. Alle ware dissiples van Jesus (wat genoem word “hierdie geslag” in Mattheus 24 vers 34) ervaar “al hierdie dinge” intens en innerlik in elke geslag, nasie en taal sedert hierdie woorde geskryf was net soos Jesus gesê het!!!
Die voleinding van die “wêreld” verwys dus na die einde van die vleeslike tydperk in ons eie lewens. Dit is die tydperk toe ons oorheers was deur vleeslike drange en begeertes. Paulus beskryf die “aion” of tydperk in ons lewens as volg:
Efes 2:2-3 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, 3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.
Daar is die eerste “aion” waarbinne almal in Adam eers moet leef volgens God se opdrag. By die “voleinding” van hierdie tydperk word dit aan die kind van God gewys wat en waar die koninkryk van die hemel is. Hier noem Jesus self wat gebeur in die tyd van ontwaking:
Luk 17:21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
Ons kan dus nou innerlik sien dat alles in die Skrifte geskryf was is op ons indiwidueel van toepassing. Alles van Genesis tot Openbaring is ons boek van ons lewe (die goed en die kwaad) en Jesus het dit ook so genoem:
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Dit is die boek wat voor ons geboorte geskryf was toe elke oomblik reeds bepaal was!
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Ons lewe dus eers die “aion” of tydperk waar die kwaad of bose van die wêreld oor ons regeer, voordat ons oorgebring word tot die “aion” of tydperk van lewe in God se koninkryk onder Jesus:
1Pe 2:9-10 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, 10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
Die woorde “aion” en “aionios” is alleenlik korrek vertaal as dit na ‘n beperkte of bepaalde tydperk verwys, soos alleenlik deur God bepaal. Dit het ook geweldige implikasies op valse leerstellings soos die “ewige hel” leerstelling. Daarom sal God se vyande die valse leerstelling met alles verdedig omdat dit hulle eie haat vir hulle vyande regverdig. Dit is egter godslastering op groot skaal want God het Sy vyande lief en gaan hulle ook deur Jesus Christus red. Dit is hoe elke kind van God volmaak word as ons die ware evangelie van Christus kan glo, soos God wil:
Mat 5:43-48 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.
Elke oog sal Jesus sien in gees en waarheid, en elke knie sal buig voor Hom as Heer! Hulle sal almal dit doen nadat hul aardse tempel afgebreek is en hulle geoordeel is om deur God se gees in hulle te kan bely dat Jesus die Heer is:
Open 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
1Kor 3:11-15 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Fil 2:10-11 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, 11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
1Kor 12:3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.