God se vergifnis en Sy oordeel loop hand aan hand!

God se vergifnis van sonde word deesdae so goedkoop aangebied deur die afvallige Christendom dat die morele verval orals toeneem op ‘n skaal soos nooit voorheen gesien nie. Die wêreldgees se mantra is: “Gaan voort in sonde want jy kan agterna vergifnis vra en God sal jou vergewe”.

Sodom en Gomorra sou hulle koppe in skaamte sak as hulle sou sien wat vandag in ons samelewing aangaan. Geestelike Babilon en al haar godsdienstige instansies is voorlopers om tydelike dinge en materiële “seën” bo ‘n heilige en ingetoë lewenswandel te plaas. Die genade van God word so verdraai deur hierdie afvalliges dat dit geensins verband hou met die genade wat die SKRIFTE VAN PRAAT NIE:

Tit 2:11-12 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.

Daar word deur die afvalliges gepreek dat vergifnis al is wat benodig word om die koninkryk van God te beërwe. Jy sê net ‘n gebed, vra vergifnis en siedaar jou hart is skoon en ‘n nuwe lewe in die gees is joune. En so gaan mense elke dag voort en word herinner om nie saans te gaan slaap sonder om die gebed van vergifnis te bid nie. So leer ouers hul kinders ook en dit is alles mooi en waar, maar daar is ‘n ernstige waarskuwing in God se Woord teen so ‘n afgewaterde vergifnis.

Dat ons moet bid vir vergifnis van sonde is waar, maar daar is baie meer betrokke in die proses om die geestelike lewe te beërwe.

Kanselleer God se vergifnis Sy oordeel in ons lewens?

As ons weet wat die oordeel van God bewerkstellig, sal ons dit met oop arms verwelkom:

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Van nature leef ons volgens ons eie geregtigheid en probeer om alles reg te doen. Ons faal hopeloos in die proses, maar die ou mens sal nie sommer opgee met sy goeie werke nie. Kyk wat sê God oor ons beste werke:

Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Dit is nie ons ongeregtighede wat ‘n besoedelde kleed is nie, maar ons geregtighede.  Hoe meer ons dus probeer, hoe vuiler word die kleed. Ons almal doen dit daarom is ons bekend daarmee. Maar ons leer God se geregtigheid deur Sy oordeel en tugtiging:

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

1Kor 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.

Ons bely ons sonde en ons aanvaar God se tugtiging om die oorsprong van die probleem aan ons uit te wys – ons hart of dan ons denke. Die probleem lê op ‘n vlak waar ons eie pogings nie die  antwoord gaan bring nie. Dit kos ‘n werk van God en die werk begin by ‘n versoeking sodat die oorsprong ontbloot kan word. God versoek egter niemand nie, daarom stuur Hy die versoeker wat hierdie deel van God se werk in ons doen:

Jak 1:13  Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.

Wat gebeur in ons harte as ons versoek word en wat kom na die versoeking?

Jak 1:14-15 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

Kyk na Dawid as ‘n voorbeeld van hoe ons in die strik van versoeking val wat ons dan lei tot sonde en die oordeel van God:

2Sa 24:1  En die toorn van die HERE het weer teen Israel ontvlam, en Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: Gaan tel Israel en Juda.

Ons weet reeds dat God nie self mense aanhits of versoek nie, maar dat Hy Sy aanhitsers gebruik. In die boek van Kronieke word die waarheid oor dieselfde gebeurtenis in Dawid se lewe verder uitgebrei vir ons lering. Hoe het God vir Dawid aangehits om hierdie sonde te pleeg?

1Kron 21:1  Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.

Satan is die aanhitser en hy doen sy werk getrou. Lees gerus Job 1 en Job 2 om te sien hoe Satan presiese opdragte van God kry en hy mag nie buite daardie raamwerk gaan nie. Net die afvalliges glo dat Satan ‘n “vrye” agent is met ‘n “vrye” wil. Hulle sê so omdat hulle ook glo dat hulle dieselfde is – “vrye” agente met ‘n “vrye” wil. Onsin!

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Jes 54:16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.

Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?

God wou aan Dawid die verskuilde trotsheid in sy hart wys, soos God ook aan Adam en Eva hul sondige harte uitgewys het deur dieselfde aanhitser:

Gen 3:1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Onthou Adam het by Eva gestaan toe die slang hierdie aanhitsing doen en kyk wat in Eva se hart was nog voordat sy geëet het:

Gen 3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Hier wys Johannes dat dit dieselfde gees van die wêreld was reeds van hul skepping in Adam en Eva se harte voordat hulle tot aksie oorgegaan het:

1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees [“toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet”] en die begeerlikheid van die oë [dat die boom en sy vrugte ” ‘n lus was vir die oë”] en die grootsheid van die lewe [” ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry”]—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Eva se hart was begeerlik en was weggesleep en verlok, en Adam se hart was dieselfde en het dieselfde gedoen. Hulle harte was dus ontbloot deur hierdie versoeking en hulle kon sien dat hulle naak was. Naaktheid is nie ‘n goeie ding nie. Dit spreek van ‘n sondige toestand en dit was wat Adam en Eva en ons almal moet uitvind. Dit is waarom God ons oë wil oopmaak om die bedekking in Christus te kan sien en ervaar:

Open 3:17-18 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.

God het Adam en Eva vergewe, maar hulle oordeel was samelopend en dit het hulle die tuin van Eden gekos. Sommige bely openlik in hul onkunde dat hulle weer terug wil gaan na die lewe in die tuin van Eden om daar naak rond te loop! Nee ons nie veronderstel is om daar te bly nie of om naak te wees nie. Ons moet voortgaan en God se paradys, Jesus Christus, in die gees te ontdek en daar die Boom van die ware lewe, weereens Jesus Christus, te eet:

Open 2:7 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.

Terug by Dawid: Dawid het gedink die volk was sy eiendom waarmee hy by ander kon gaan spog. Ons dink ook soos Dawid dat ons God se ware geestelike stad kan “meet” en onsself daar kan plaas volgens ons eie denke en werke:

2Kor 10:12-13 Want ons waag dit nie om ons te reken of te vergelyk met sommige van die wat hulleself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hul met hulself meet en met hulself vergelyk, is hulle onverstandig. 13 Maar ons sal nie buite die maat roem nie, maar volgens die maat van die werkkring wat God ons as ‘n maat toebedeel het om ook julle te bereik.

Dit is waarom God Dawid se hart moes ontbloot om sy naaktheid te kan sien.  Dawid in die geval is ook ‘n tipe van ons as ons nie reg kan “meet” wie en waar die ware stad van God is sodat ons die ware boodskappers van God kan aanvaar:

Open 11:1 En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.

Rev 21:15 En hy wat met my gespreek het, het ‘n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet.

Dawid se gewete het hom egter geweldig gekwel oor die sonde wat hy gepleeg het:

2Sa 24:10  Maar Dawid se gewete het hom gekwel nadat hy die volk getel het, en Dawid het aan die HERE gesê: Ek het swaar gesondig deur wat ek gedoen het; HERE, vergeef dan nou tog die skuld van u kneg, want ek het baie dwaas gehandel.

Sy gebed vir vergifnis was beantwoord deur God se oordeel en dit is wat min vandag kan verstaan en aanvaar:

2Sa 24:11-14  Toe Dawid die môre opstaan—die woord van die HERE het naamlik tot die profeet Gad, die siener van Dawid, gekom en gesê: Gaan heen en spreek met Dawid: So sê die HERE: Drie dinge lê Ek jou voor; kies vir jou een daaruit, dat Ek jou dit kan aandoen— toe het Gad by Dawid gekom en dit aan hom bekend gemaak en aan hom gesê: Wil jy dat daar sewe jaar lank hongersnood in jou land kom, of wil jy drie maande lank vlug voor jou teëstanders uit dat hulle jou agtervolg, of moet daar drie dae lank pes wees in jou land? Ondersoek nou en sien watter antwoord ek my Sender moet bring. Daarop sê Dawid vir Gad: Ek is baie benoud; laat ons tog val in die hand van die HERE, want sy barmhartighede is groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie. En die HERE het ‘n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentig duisend man gesterwe.

Dawid se vergifnis het saam geval met die dood van 7000 man van sy eie volk. Oordeel bring die dood van ons eie ou mens wat saam met Christus gekruisig word:

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Dieselfde het gebeur toe Dawid met Batseba gehoereer het en toe hy haar man, Uria, laat omkom in die oorlog – Dawid was skuldig aan moord (verwys na 2Sam 11). Die baba wat Batseba gebaar het, het gesterwe. Maar Dawid se sonde was vergewe – teen ‘n duur prys.

Alle sonde het gevolge en die gevolge is altyd ‘n pynlike proses. Jesus se dood vir die vergifnis van almal se sonde was nog nooit bedoel om as verskoning te dien om te sondig en ook om die nagevolge van sonde vry te spring nie.

Elkeen sal deur die proses van oordeel moet gaan om te leer wat diep in die hart van elke mens is (die hart of denke is die oorsprong van alle menslike aksies). Ons vind dit nie uit op ‘n ander manier nie – net deur die vurige oordeel van God. Almal word gered, “maar soos deur vuur heen” alleenlik:

1Kor 3:12-15 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Uiterlike woorde en rituele het nog nooit die hart (dit is ons denke) verander nie – dit kos die oordeel van God om ‘n hart te reinig. Sy Woord in ons denke verwyder en vervang ons ou denke – op ‘n ander manier gestel: Sy bloed (Sy Woorde) reinig ons van sonde (ons denke)!

Mat 15:18-20  Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed [die denke], sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Fil 4:7-8 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. 8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

1Jn 1:7-9 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. 8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Psa 119:10-11 Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. 11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s