Almal word gewaarsku om weg te bly van die vuur van God – die skokkendste is dat hierdie waarskuwing kom van leiers wat voorgee dat hulle God ken. Die profeet Jesaja het hierdie mense se vrese in die volgende woorde saamgevat:
Jes 33:14 Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê: Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur, wie van ons kan woon by ‘n ewige gloed?
Dit is ‘n vraag wat beantwoord moet word deur elkeen wat dit lees. Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur? Jesaja gee die antwoord want daar is wel hulle wat weet hoekom die verterende vuur ‘n baie belangrike rol in hulle speel:
Jes 33:15 Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie—
Die verterende vuur is baie nodig vir elkeen wat God wil leer ken…. “want onse God is ‘n verterende vuur.” (Heb 12:29). Hulle wat in geregtigheid wil wandel soek God se vuur! Vir hulle wat in hul eie geregtigheid wil wandel, is God se vuur nie welkom nie.
Let op dat dit die sondaars “in Sion” is wat hierdie vraag vra. Hier is Jesaja 33 vers 14 weer:
“Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê: Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur, wie van ons kan woon by ‘n ewige gloed?”
Dit is hulle wat sê dat hulle kinders van God is, maar op dieselfde tyd ook God se vuur met alle mag wil vermy. Maar elkeen se werke sal wel deur God se vuur openbaar word – vroeër of later:
1Kor 3:13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag [die oordeelsdag] sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
Net God se vuur is die egte en ware maatstaf om ons werke mee te meet. Die “sondaars in Sion” gebruik egter hul eie maatstawe om goddelikheid of geestelike volwassenheid te meet in hulself en ander.
Maar ten spyte van die verontwaardigende aanmerkings en beskuldigings van die “sondaars in Sion” is daar wel hulle wat woon met die Verterende Vuur en gered word – dit is Sy ware Kerk!
1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Ons kan net gered word as ons deur hierdie vurige oordeel van God gaan:
1Kor 3:14-15 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
God se vurige oordeel leer ons van God se geregtigheid en laat ons afsien van ons eie geregtigheid:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Kom ons kyk hoe leer ons God se geregtigheid uit die woorde van Jesaja en hoekom hierdie ware kerk van Christus tuis voel in Sy verterende vuur:
Jes 33:15 Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie—
Kom ons breek dit op om te sien wat met die woorde van Jesaja bedoel word in die beantwoording van die vraag: “Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur?” Hier is die hoofpunte:
• Dit is net hulle wat in geregtigheid wandel;
• Hulle wat reg spreek;
• Hulle wat persoonlike gewin deur afpersing versmaad;
• Hulle wat nie omkoopgeld aangryp nie;
• Hulle wat hul ore toestop om nie van bloedskuld te hoor nie;
• Hulle wat hulle oë sluit vir dit wat sleg is.
Kom ons prober om duidelikheid te gee deur die getuienis van twee of meer skriftekste in te roep sodat hulle wat die vuur kan ontvang in blydskap eer kan betoon aan God wat getrou is:
2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.
Wie is hulle wat in geregtigheid wandel?
Wat is geregtigheid? Daar kom ‘n tyd in ‘n mens se lewe waar jy lewe volgens dit wat reg is in jou eie oë, en hierdie tipe denke en oortuigings verblind mens om die waarheid te sien:
Rigt 21:25 In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.
Dit is die dae wanneer ons nie die ware Jesus as Koning in ons lewens het nie, en wanneer ons ‘n “ander Jesus” ken wat die valse Jesus is – en dit alles lyk “reg” in ons oë. Hierdie “ander Jesus” is baie populêr en mense volg hom alte gewilliglik:
2Kor 11:4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.
Onthou die “ander Jesus” is ‘n kragtige dwaling wat God self stuur om hulle wat nie die waarheid kan hoor nie, mee te verlei:
2Th 2:11-12 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
Dit alles gebeur sodat hulle later geoordeel kan word om dan die waarheid en geregtigheid te leer. Niemand word mislei om daarin vir ewig te bly nie. Nee, almal sal die Lig van die Waarheid ontvang op die tyd soos God bepaal het – deur God se regverdige oordeel. Baie volg hierdie “ander Jesus” en sal eendag met skok uitvind dat hierdie “ander Jesus” die verkeerde “Jesus” was:
Mat 7:22-23 Baie sal in daardie dag vir My [die ware Jesus] sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Kyk weer – hierdie mense was opreg in hul eie oortuiging en het met groot ywer gewerk vir hierdie “ander Jesus”…maar sonder die kennis van die ware Jesus:
Rom 10:2 Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.
Dit is juis ons ywer en goeie werke wat die blindheid in ons bewerkstellig!
Maar kom ons kyk hoe ons eie werke in God se oë lyk en dan sien ons, soos God wil, dat ons die verwaandheid gehad het om in ons verdwaalde ywer en geestelike blindheid hierdie vuil en stink werke van “ons geregtighede” aan God aan te bied:
Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.
Hoe praat ons reg?
Tydens ons tyd van geestelike blindheid glo ons vas dat ons nie so sleg is soos ander nie – sommer net so – en ons sê ook so – openlik, sonder skaamte! Ons glo en bely valse leerstellings en noem dit God se Woord en Sy evangelie. Wat ‘n dikvellige verwaande idioot is die natuurlike godsdienstige mens in onsself nie. In hierdie siek toestand kan ons dus nie “reg spreek” soos die ware kinders van God nie.
As die verterende vuur met ons woon dan is ons nederig en weet ons dat alles van God kom – ook die bose is Sy werktuig ook hier in ons eie lewe. Ons kyk nie na ander se boosheid en vergelyk ook nie bose met bose nie – nee, die ware kind van God kyk binne en weet dat God die kwaad wat die bose aan sy kinders doen, sal vergeld:
1Pe 3:9-14 Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe. 10 Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. 11 Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag. 12 Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners. 13 En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie? 14 Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie.
Ons kyk dus nie (angstig) rond nie – “kyk hier!” en “kyk daar nie”….nee, as ons reg praat, dan sal ons bely dat die grootste euwel baie nader bly as wat ons voorheen gesien het….
2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
Hoe versmaad ons persoonlike gewin deur afpersing?
As ons in en met die Verterende Vuur leef, dan weet ons ook waar God werk en hoe Hy alle eer moet kry – in alles (lees weer Lukas 17 vers 20 en 21 hier bo)! Ons doen dan niks vir persoonlike gewin nie, maar verloor ons lewens eerder in Hom:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Hoe gryp ons nie omkoopgeld aan nie?
Hulle wat met die Verterende Vuur woon soek nie die kortste pad nie – hulle soek nie wat is geoorloof nie, maar hulle soek dit wat nuttig is – vir God en vir ander:
1Kor 6:12 Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.
1Kor 10:23 Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.
Die pad na die koninkryk van God kom slegs deur baie beproewinge – baie verliese. Dit is ‘n lang pad waarlangs ons die belangrike Goddelike geduld en langmoedigheid leer:
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Hulle wat met die Vuur woon weet dat ons beproewinge ons toegangskaartjies is tot dieper dieptes in God se geestelike dinge. Beproewinge stimuleer ook die noodsaaklike groei in ons allerheiligste geloof. Die lang pad lyk dan op die einde na ‘n baie “kort tydjie” as ons die heerlikheid sien en oorwinning smaak:
1Pe 1:6-9 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
Die Here maak nie ‘n fout as Hy ons die probleme en beproewinge stuur nie. Hy wil ons deur dit vat en ons daardeur oorwinaars maak. Geeneen wat nie oorwin nie sal in die voordele van die geestelike Koninkryk van God kan deel nie. Hier is ‘n paar voordele:
1Jn 4:4 Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.
1Jn 5:4 Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.
Open 2:7 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.
Open 2:11 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.
Open 2:26 En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee,
Open 3:5 Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.
Open 3:12 Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.
Open 3:21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
Open 21:7 Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.
Hoe stop ons die ore toe om nie van bloedskuld te hoor nie?
Dit is hulle wat regverdiglik oordeel oor wat goed en kwaad is. Hulle oordeel is geldig omdat hulle self eers geoordeel is omdat hulle self skuldig was aan alle sonde:
Rom 2:1-3 Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. 2 En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen. 3 En meen jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug?
Hulle het die balk in hul eie oog gesien, dit verwyder deur God se pynlike en tydsame oordeel, en toe die splinter in ander se oog met groot liefde en nederigheid help verwyder:
Mat 7:2-5 Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. 3 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4 Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! 5 Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.
Hulle wat met die Verterende Vuur kan leef sien hulself as die grootste sondaar in elke opsig, wat deur God se genade gered word:
1Ti 1:15 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.
Die wat woon met die Verterende Vuur ken God se Almag in alles, ook in Sy reddende genade VIR ALMAL. As hy die grootste sondaar kan red, dan sal God ook ALMAL red:
1Ti 2:1-6 In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; 2 vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. 3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.
Hoe sluit ek my oë vir dit wat sleg is?
Hulle wat saam met die Verterende Vuur woon sit nie in die raad van die goddelose en neem nie deel aan hulle gesprekke net om in tel te wees of om intelligent en kundig voor te kom nie:
Psa 1:1-6 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; 2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. 3 En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. 4 So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi. 5 Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie. 6 Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.