Om van ons troon af te kom is die grootste verhoging wat mens kan beleef!

Job het ‘n groot probleem gehad wat elkeen van ons het. Maar ons is, soos Job, onbewus van die bedrieglikheid van hierdie sonde in ons. God het Job deur geweldige beproewinge geneem om hierdie euwel in sy lewe uit te wys. Beproewinge is dus nie vir God se kennisname nie – Hy weet ALLES en bewerkstellig ALLES!

Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Psa 139:1-4 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.

Nee, God makeer nie om na die jongste nuus te kyk nie en Hy hoef nie ingelig te word oor ons probleme nie. Hy bewerkstellig dit!!! Dit is ons wat nie weet nie wat Hy doen nie. Beproewinge kom van God en Hy stuur dit na ons sodat ons onsself kan ontdek en sien wie en wat hierdie skepping is wat God na vore gebring het, ook in ons. Kyk na hierdie vers en sien waarom fisiese Israel deur beproewinge moes gaan:

Deu 8:1-2 Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. 2 En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.

Baie lees woorde soos hierdie en sien dan dat God wou uitvind of mense gehoorsaam sal wees of nie. En so sal die Skrifte dan mense ook verblind om die tipe denke oor God te glo! Maar vir diegene wat God as die werklike soewereine alleswetende en alomteenwoordige God ken, hulle sal weet wat daar geskryf staan! Hulle sal hul beproewinge en verootmoediging ook dan anders hanteer as diegene wat dink God is afwesig en dat Hy koud staan teenoor ons probleme. Nee, God weet alles van ons en Hy bring ons deur ‘n proses om Sy denke en karakter in ons te ontwikkel en ten einde te vestig. Ons vind uit dat ons van nature nie weet wat in ons is nie en dat ons NOG NIE in God se ewebeeld is nie. Ons is in die proses om in God se ewebeeld gemaak te word en dit is wat die Hebreeuse werkwoord “âśâh” en die gepaardgaande tydsaspek van hierdie werkwoord aandui in Genesis:

Gen 1:26-27 En God het gesê: Laat [Hebreeus: “âśâh”] Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Dit is baie maklik om te sien dat God besig is met ‘n proses om mense in Sy geestelike beeld te vorm want God is nie stof nie, maar gees. Die mens is van stof gemaak en is verganklik gemaak omdat God die mens weer sal herskep nadat die mens die aardse tipe van Hom kon ervaar.

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Die pot (die mens in sy natuurlike vorm) het eers misluk “in die hand van die Pottebakker” en daarna het Hy dit weer gemaak soos wat reg was in die “oë van die Pottebakker” – in gees!!! God is dus die antitipe van wat ons nou is omdat ons leer deur teenoorgesteldes – ons leer deur vergelykings te tref. Byvoorbeeld, om goed en kwaad te kan onderskei moet ons aan albei blootgestel word:

Heb 5:14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Adam en Eva was geestelik onvolwasse en kon nie goed van kwaad onderskei nie want hulle kon nie eens eet van die boom wat die nodige kennis bevat het nie. Maar daar is ‘n rede waarom God die wet vir hulle (en vir ons) gemaak het.

Om God (die goed) te kan ken moet ons eers die teenoorgestelde van Hom ken – die kwaad. Dit is waarom Hy ook die Skepper van beide die kwaad en die goed is. Baie valse leraars maak die Duiwel of Satan die skepper van kwaad en gee hom dus baie eer in die proses. God alleen is Skepper van ALLES en Hy het die goed en die kwaad SAAM geplaas in die boom met die verbode vrugte:

Gen 2:9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad [Hebreeus: “ra”].

Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil [die kwaad – Hebreeus: “ra”] skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Dit is die storie van Adam en Eva…die storie van Job….en ons almal se storie – die ontdekking van hierdie verbode kennis. Ons moet dus uitvind wat “in [ons] hart is, of [ons God] se gebooie sal hou of nie”. Maar hoe kry ons ‘n begeerte om die soektog te begin? Ja, deur ‘n reël of gebod te maak en ons weet wat maak mens as daar reëls en wette is. Ons breek dit en dit is presies God se plan van die begin af. Hy het ons so gemaak en in Sy wysheid weet Hy die uitkoms van wat Hy maak!!!

Elkeen is op soek na die antwoord oor hom- of haarself. Dit is waarom die mense so bedrywig is -almal soek na hierdie een saak – wie is ek en wat maak ek hier!!!

Die antwoord word deur onsself ontdek net soos Adam en Eva dit moes ontdek met groot vernedering en alles wat daarmee gepaardgaan. Het fisiese Israel God se gebooie onderhou? Nee! NIEMAND kan God se gebooie onderhou nie al dink hulle ook so. En dit is wat hierdie vers vir ons wil sê:

Rom 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.

Dit is wat God vir Adam en Eva wou uitwys deur hulle ‘n wet te gee wat hulle nie in hul natuurlike toestand kon gehoorsaam nie. God het dit geweet! Dit is ook die doel waarom God die fisiese gebooie deur Moses aan die fisiese Israel gegee het – om hierdie sondige natuur in hulle en dan ook in ons almal uit te wys:

Rom 3:19-20 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

“….deur die wet is die kennis van sonde” want so ontdek elkeen op sy eie tyd (soos deur God bepaal) dat hy of sy in sy natuurlike vorm en menslike strewe altyd “doemwaardig” sal bly voor God. Die vlees en alles wat die vlees doen, ja selfs die beste en mooiste pogings wat ons doen, sal ons nie voor God regverdig nie:

Rom 3:21-22 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie;

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Daar is wel ‘n aardse geregtigheid, en dit is so oortuigend!!! Maar dit is die verblinding wat ons weghou van die ware geregtigheid deur geloof in Christus se geestelike geregtigheid. Job was ons voorbeeld van hoe ons in hierdie aardse geregtigheid opreg kan wandel en tog deur God verwerp word – iets wat vir die meeste mense as onregverdig gesien word. Hoe kan ek al die mooi dinge doen en tog deur God verwerp word en deur Sy pynlike oordeel moet gaan!

Mat 7:21-23 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Ons geregtigheid is juis ongeregtigheid! Wat ‘n teenstelling vir die natuurlike denke. Hoe kan dit wat goed is dan kwaad wees? Ons is vlees en geen vlees kan geestelike geregtigheid doen nie! Vlees is doemwaardig!

1Kor 1:29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Dit is God se reëls en so sal ons maar moet afklim van ons hoë troontjies – of ons nou wil of nie. Dit is juis ons houding om nie af te klim nie wat ons so ongelukkig maak! Want die waarheid is ons kan eens afklim op ons eie nie. Dit is ook van God en net op die tyd soos deur Hom bepaal sal ons van ons troontjies moet af. Dit is wat met hierdie “verborgenheid van die ongeregtigheid” gebeur – dit kan self nie eens besluit om af te klim nie:

2Th 2:7-8 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.

Maar God sal aan elkeen die voorreg gee om hierdie onttroning te ervaar op die tyd soos Hy self bepaal het. Kyk wat sê die Skrifte self van Job:

Job 1:1 Daar was ‘n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad.

Job was die ideaal wat baie van ons na streef in ons menslikheid. Wie wil nie so ‘n getuigskrif kry van God nie en hierdie getuigskrif van Job staan opgeteken in die Skrifte vir almal om te sien. Maar o wee….net soos dit hier staan, so moes Job ook voor die oë van die wêreld verneder word. Jou soeke na aansien is ook jou vlak van vonnis.

Tog was hierdie menslike vroomheid en opregtheid nie die maatstaf waarmee God enigeen in sy geestelike koninkryk sal laat ingaan nie. En dit moes Job uitvind deur ‘n baie lang en pynlike proses. Daar is geen ander manier hoe ons die dinge uitvind nie – daar is nie ‘n kortpad nie. Die boek van Job is juis geskryf om ons in te lig dat die pad van selfontdekking bitter lank en pynlik sal wees. Enigeen wat anders sê maak God en Sy Woord leuenaars. Hier is maar net twee getuies om die waarheid te onderstreep:

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

Job moes self hierdie les leer en die lengte van die boek van Job is ook baie insiggewind in die verband – 42 hoofstukke waarin Job die meeste gepraat het! Wat sê die Skrifte van ‘n dwaas?

Pred 10:12-14 Die woorde uit die mond van ‘n wyse is aangenaam, maar die lippe van ‘n dwaas verslind homself. 13 Die begin van die woorde van sy mond is dwaasheid, en die einde van sy mond is skadelike onverstandigheid. 14 En die dwaas gebruik baie woorde; maar die mens weet nie wat daar sal gebeur nie; en wat ná hom sal wees, wie kan hom dit te kenne gee?

Hier is die rede waarom Job so baie moes praat en praat en praat….

Job 27: 6 Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae as Ek leef.

Dit was sy eie geregtigheid wat Job in gevangenis en blindheid gehou het! Klink dit bekend vir jou? Toe Job dit ontdek het, toe soek hy uitkoms en kyk wat doen hy:

Job 39:36-38 Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: 37 Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond. 38 Een maal het ek gespreek, maar sal nie meer antwoord nie; ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie.

“Ek lê my hand op my mond”. Ons eie woorde (dit sluit in ons eie hart se oortuiginge en gedagtes) maak ons vas aan hierdie sonde van self-regverdiging. Om uit te vind dat ek al die jare verkeerd was oor myself, die mense om my en dat ek valse leerstellings van God geglo en bely het, is tegelykertyd die grootste vernedering wat mens sal ervaar, maar ook die grootste oorwinning!!!

Mat 10:39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Dit was net deur die totale verlies van alles wat hy gehad het, en die interne stryd wat hy daarna moes verduur, ook die redenasies met sy sogenaamde vertroosters, ja dit alles het bygedra dat Job hierdie diep bedrieglike donkerte in hom kon ontdek:

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Wat ‘n pad om te loop en wat ‘n God wat Job ten einde van sy donkerte van self-regverdiging kom verlos het! Toe Job besef waar sy probleem was en die probleem met die wêreld was (by homself), het hy sy woorde gebruik en gebid vir sy vriende en God het alles in sy lewe verander:

Job 42:10 En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; ook soveel as wat hy voorheen gehad het en die HERE het Job twee keer.

Ons is ‘n gevange van ons eie hart en denke – ons eie idees – en ons moet pleit by die Here om ons te bevry van die leuengeeste in ons eie hemel (ons gedagtes):

Efes 6:12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug [die hemel].

Dankie Vader vir die verlossing vir almal wat aanhoudend roep na U barmhartigheid!

Mat 15:22-28 En ‘n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete. 23 Maar Hy het haar nie ‘n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan. 24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. 25 Daarop kom sy en val voor Hom neer en sê: Here, help my! 26 Maar Hy antwoord en sê: Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. 27 En sy sê: Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval. 28 Toe antwoord Jesus en sê vir haar: o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê. En haar dogter het gesond geword van daardie uur af.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s