Kan ‘n siel sonder ‘n liggaam bestaan?

Is daar iets soos “ontliggaamde” siele? (die Engels is “disembodied souls”). Wel sommige skep sulke eienaardige terme en drogredes en forseer dit dan in die Bybel. Kom ons kyk weer hoe die mens ‘n “lewende siel” geword het, volgens die Bybel. Hier staan dit heel duidelik:

Gen 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

God het stof van die aarde geneem en ‘n liggaam daaruit gevorm, en toe asem daarin geblaas! Dit is hoe God ‘n “lewende siel” maak. As een van die twee, die stof of die asem, weggelaat word of as die twee geskei word, dan is daar nie meer ‘n “lewende siel” nie! Die siel (die mens in sy hele wese) sterf! Siele leef nie voort na die dood nie ondanks die leuen van die vyand wat vandag nog deur miljoene geglo word:

Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie.

DIT IS ‘n LEUEN! Die mens sterf en hou op om te bestaan! Die asem gaan terug waar dit vandaan kom (God gee dit en dit kom uit die atmosfeer) en die liggaam gaan terug waar dit vandaan kom (die aarde) – God sê self so, maar wie glo God se woorde? MIN:

Gen 3:19  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Pred 3:19-21  Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en ‘n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs.  20  Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.  21  Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?

Elke mens IS dus ‘n siel en elke mens IS ‘n sondige siel, en elke sondige siel sterf:

Rom 3:23  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,

Rom 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Eseg 18:4  Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.

Hoe het sonde in die wêreld gekom? Deur ‘n aardse sondige liggaam waarin asem geblaas was. Dit is hoe SONDE lyk. Die mens het ook in sy liggaam ‘n brien waarin DENKE ontwikkel soos ons van baba-stadium groei tot ‘n volwasse siel. Hierdie denke is van nature aards. Kyk waarmee word “aards” saamgevoeg:

Jak 3:15 Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels.

Ons aardse denke is boos van nature omdat dit vleeslik is en teen God se denke staan – van nature:

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

VOORDAT Adam of Eva aan die verbode boom geraak het en van sy vrug geëet het, was hulle reeds SONDIG!

Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Gen 3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Daar staan dit oop en bloot en tog wil sommige glo in die valse leerstellings van die prefektheid van vlees en bloed en die onsterflikheid van ‘n aardse siel. Adam (en Eva) was NIE in geestelike perfeksie geskep nie!

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Ons eerste ouers was in ‘n liggaam van sonde geskep en het reeds gesondig in hul denke nog voordat hulle geëet het van die verbode boom se vrugte. God neem volle verantwoordelikheid daarvoor! Hy het hulle so geskep!!!

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Ons lewe ‘n geestelik dood en sterf – dit is die “loon” wat ons almal ontvang en hoe dank ons God nie vir Sy genadegawe van lewe in Christus, die “laaste Adam” wie die “lewendmakende gees” aan ons almal bring!!! Ons sal almal uit hierdie doodsheid wegkom!!!

Rom 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

1Kor 15:45-46 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.

Mense wat sterf is regtig dood en hulle wag vir die opstanding UIT DIE DODE:

Pred 9:5-6  Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.  6  Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.

Die dood is ‘n tipe slaap waaruit almal wat reeds gesterf het, wakker gemaak sal word. Baie mense kan ook nie Jesus se woorde in die verband verstaan nie:

Joh 11:11-14  Dit het Hy gespreek; en daarna sê Hy vir hulle: Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.  12  Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word.  13  Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.  14  En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.

Paulus noem ook die dood ‘n tipe slaap:

1Kor 15:17-18  en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;  18  dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.

Tydens ons fisiese dood het ons egter geen bewussyn nie, soos Salomo ook onder die leiding van die gees van God geskryf het:

Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. 6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.

As ons fisies dood is, is daar geen bewussyn. Maar word ons opgewek sonder ‘n liggaam? Nee!

1Kor 15:35-44  Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle?  36  Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie.  37  En wat jy saai—jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders.  38  Maar God gee dit ‘n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam.  39  Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls.  40  En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse.  41  Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster.  42  So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid;  43  daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.  44  ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.

“Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam” – daar is dus geen stadium dat iemand sonder ‘n liggaam sal wees nie. As mens dus fisies dood is het jy nie ‘n liggaam nodig nie.

Maar wat van die gedeeltes in die Skrifte wat aan afgestorwenes gedagtes en stemme gee? As ons nie kan sien dat die doderyk (die dooies “klein en groot”) wel kan praat en antwoord gee by die oordeelsdag nie, dan sal al hierdie gedeeltes in die Skrifte in die verband gesluit en geseël bly :

Open 20:12-13 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.

Luk 16:23-24 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. 24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.

Selfs hierdie siel (die ryk man) het nie geweet waar sy eie broers was nie – toe hy sy oë oopmaak op OORDEELSDAG:

Luk 16:27-28 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur— 28 want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.

Hierdie verse wys aan ons die waarheid uit dat elkeen in die doderyk sal “vir homself” aan God rekenskap gee:

Rom 14:12 So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

Het Christus die evangelie verkondig aan dooie mense?

1Pe 4:6  Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.

As ons weet dat elke ongelowige geestelik dood is, sal ons weet wanneer die evangelie verkondig moet word. Hier is die eerste plek in die Skrifte waar die evangelie aan die geestelik dooies verkondig was:

Gen 3:15  En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

Hierdie evangelie het noog nooit verander nie – die saad van die vrou, Jesus Christus, sal die kop van die slang vermorsel en aan almal geestelike vryheid gee:

Luk 4:16-21  Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.  17  En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:  18  Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees;  19  om AAN GEVANGENES VRYLATING TE VERKONDIG en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.  20  En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.  21  Toe begin Hy vir hulle te sê: VANDAG IS HIERDIE SKRIF IN JULLE ORE VERVUL.

Dit is dieselfde evangelie wat Christus van die begin af verkondig aan die gevangenis in vlees en sonde! Dit is dieselfde evangelie wat Noag verkondig het:

1Pe 3:18-22  Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;  19  IN WIE HY OOK HEENGEGAAN EN GEPREEK HET VIR DIE GEESTE IN DIE GEVANGENIS,  20  WAT EERTYDS ONGEHOORSAAM WAS TOE DIE LANKMOEDIGHEID VAN GOD EEN MAAL GEWAG HET IN DIE DAE VAN NOAG, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;  21  waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus  22  wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.

Dit is ook dieselfde evangelie wat aan die dooies in die doderyk verkondig sal word tydens OORDEELSDAG wat vir baie sal kom in die poel van vuur:

Open 20:11-14  En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.  12  En ek het DIE DODE, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En DIE DODE is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.  13  En die see het DIE DODE gegee wat daarin was, en DIE DOOD EN DIE DODERYK HET DIE DODE GEGEE WAT DAARIN WAS; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.  14  En DIE DOOD EN DIE DODERYK IS IN DIE POEL VAN VUUR GEWERP. Dit is die tweede dood.

Elkeen wat in ‘n liggaam van sonde en dood gevorm was en vleeslike denke het, is in ‘n geestelike gevangenis gebore as vyande van God:

Rom 8:5-8  Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.  6  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,  7  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.  8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Maar God het regtig al Sy vyande lief en sal almal weer skep in ‘n geestelike liggaam met geestelike denke wat Hom sal behaag:

1Kor 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe [geestelik dood is], so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  27  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  28  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

En daar staan dit in vers 26….”Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood” – JA, daar sal nêrens dood (geestelike dooies) in God se skepping wees nie want die ou skepping sal totaal vernietig word:

Open 21:1  En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.

Open 21:4-6  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.  5  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.  6  En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.

WAT ‘n BOODSKAP!!! Almal sal ‘n nuwe liggaam kry wat ooreenstem met die geestelike liggaam van Christus! Deur Sy KERK kom hierdie boodskap NOU en ook in die poel van vuur:

Efes 3:10 sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Kan ‘n siel sonder ‘n liggaam bestaan?

  1. Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s