Hallo H_______
Dankie dat jy die artikels op hierdie webtuiste lees. Dankie ook vir jou vraag wat my weereens die kans gee om hierdie gedeelte wat jy uitwys in die Skrif, aan te spreek. Hier is jou vraag:
“Hi, Net ‘n vraag:- Indien iemand se siel of gees alles tot sterwe kom, wat dan van Lukas 23:43? Moet ek dit dan uit my bybel uitskeur? Die vraag is as gevolg van verwarring. Sien uit na jou verduideliking”
Kom ons haal die gedeelte aan en lees presies wat daar staan binne die betrokke konteks:
Luk 23:39 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.
Luk 23:40 Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —
Luk 23:41 ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.
Luk 23:42 En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
Luk 23:43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
Jy vra of jy die gedeelte moet uitskeur uit jou Bybel. Ek dink ek weet wat jy bedoel met die opmerking, maar nee H____, dit is deel van die Skrif en die woorde is ook uit die mond van Jesus en ons moet daarvan leef:
Mat 4:3-4 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. 4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Jesus het immers gewaarsku dat ons niks mag wegneem of byvoeg by Sy woorde nie – nêrens in die hele Skrif nie. Jy sal sien waarom dit so belangrik is om hierdie waarskuwing van Jesus baie ernstig op te neem en te gehoorsaam, ook juis met betrekking tot verse soos Lukas 23 vers 43:
Open 22:18-19 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. 19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
Net ‘n paar inleidende punte om hopelik moontlike misverstande uit die weg te ruim:
- Soos ons weet is Tale mensgebonde kommunikasiemiddele wat onperfek is en gedurig aan die verandering is;
- Vertalings van die Skrifte is uiters nodig omdat nie almal Hebreeus- of Grieksmagtig is nie, maar dit is ook maar problematies omdat daar geen perfekte vertaling van die oorspronklike Skrifte bestaan nie:
- Maar vertalers is ook onperfekte mense wat hul bes probeer om korrek te vertaal en ek persoonlik het groot respek en waardering vir vertalers. Hulle is egter onder die invloed van diegene wat hulle aanstel, en hulle is ook onderworpe aan vervalsings.
Maar God het gelukkig aan Sy kinders geloof gegee en deur die geloof skenk Hy maniere waarop Sy kerk tog die waarheid kan sien. Ten spyte van die talle pogings deur die eeue om God se Woord te verdraai, het God nog altyd op hierdie rots van geloof (Christus s’n) Sy ware Kerk gebou, en die poorte van die doderyk, en al die leuens het die Waarheid nog nooit oorweldig nie:
Joh 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
1Jn 5:4 Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.
Selfs die heel eenvoudigste mens word deur God uitverkies en geloof gegee wat selfs die geleerdes verstom. Jesus self het die geleerdes van Jerusalem in die Joodse Raad heeltemal geignoreer toe Hy aan sy eenvoudige volgelinge geestelike dinge geopenbaar het. So sien die apostel Paulus hierdie keuse van God:
1Kor 1:26-29 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
Wat ‘n God!
Ek gaan alleenlik deur die Skrifte dit verduidelik wat Jesus aan die kwaaddoener op die kruis gesê het en ek hoop dat God jou die waarheid sal laat sien wat vir baie wyses “na die vlees” verborge is. Soos jy weet is die Bybel vol “verborgenhede” en dit is voorwaar ‘n goed verseëlde boek vir meeste mense, soos God dit self bepaal het:
Mat 13:2-3a… en groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in ‘n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan. Mat 13:3 En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek….
Mat 13:10-11 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle [die “groot menigtes”] deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle [die “groot menigtes”] is dit nie gegee nie.
Open 5:1 En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.
Een van God se sleutels wat Hy aan sy kinders gee om Sy Woord mee oop te sluit is die volgende een – en natuurlik al skryf ek dit hier kan min dit lees en verstaan:
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Die hele inhoud van God se Woord is waarheid en moet as sulks gerespekteer word – nie een vers op sy eie nie:
2Pe 1:20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;
Hier is die teks in ‘n beter vertaling:
2Pe 1:20 (CLV) knowing this first, that no prophecy of scripture at all is becoming its own explanation.
Ons moet dus teks met teks vergelyk wat weereens nog ‘n belangrike sleutel is om die Waarheid te ontdek vir hulle wat dit kan ontvang!
Jes 28:9-10 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? 10 Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.
Hier gee Paulus vir ons hierdie sleutels op ‘n ander manier:
2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.
Terug by Lukas 23 – Die kwaaddoener het, net soos Jesus, daardie dag gesterf en hier sê die Skrif wat gebeur met mense wat sterf:
Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. 6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
Jesus was regtig dood en so ook was die kwaaddoeners wat saam met Hom gekruisig was. Jesus was nie, soos baie ander ook beweer, in ‘n sogenaamde hel nie. Hy was in die doderyk en daar is almal dood. Daar bestaan nêrens in die Skrifte ‘n woord dat Jesus in ‘n sogenaamde hel was nie. Dit is ‘n valse leerstelling wat deur baie geglo word. Maar al glo die meeste mense ‘n leuen, bly dit ‘n leuen. Leuens sluit ook in verdraaiings van die waarheid. Hoe sal mens mense kan mislei as jy nie die waarheid misbruik nie. Die volgende teks word verdraai om mense te laat glo dat Jesus lewendig was – toe Hy dood was:
1Pe 3:18-20 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; 19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, 20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;
Daar is die konteks van Jesus se prediking aan die “geeste in gevangenis” vir almal om te lees! Dit was “in die dae van Noag”. Dit is al wat daar staan. Jesus preek van die begin af dieselfde boodskap aan al die “geeste in die gevangenis” van sonde. Om te glo dat Jesus in ‘n sogenaamde hel was toe Hy dood was, is bloot verkeerd. Net so is dit verkeerd om te glo dat Jesus in die paradys was! Hy was dood! Dit is dus 100% waar dat net diegene wat glo dat Jesus dood was, en dat God Hom uit die dode opgewek het, gered sal word:
Rom 10:9-10 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.
Hoeveel mense glo hierdie teks? Baie min!
Jesus was dood en het eers op die “derde dag….uit die dood opgestaan”:
1Kor 15:1-4 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
1Kor 15:12 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?
1Kor 15:20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
Jesus was die eersteling uit die dood wie vandag leef in gees!!!! Hier is nog ‘n getuienis uit die Skrif om die waarheid te onderstreep:
1Ti 6:13-16 Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, 14 dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus 15 wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, 16 wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.
Net Jesus het op hierdie oomblik onsterflikheid want Hy “alleen” is tot op hierdie stadium uit die dode opgewek en Hy leef nou in die gees! Mens moet die woord “alleen” daar uitlaat uit daardie vers om die valse leer van ander mense wat opgeneem is in die paradys en nou reeds onsterflikheid het waar te maak. Maar die gees van God het die woord “alleen” daar laat skryf en enigeen wat dit weglaat doen dit tot sy eie nadeel soos aan die begin van hierdie skrywe gemeld! Die opstanding van alle gelowiges het nog nie eens plaasgevind nie! Paulus praat die waarheid as hy sê dat alle gelowiges “slaap” nog – dit beteken hulle is nog dood:
1Kor 15:16-19 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; 17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; 18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.
Paulus het die woorde geskryf baie jare na Jesus se opstanding….toe was die gelowiges wat op daardie stadium gesterf het, nog steeds dood. Die Skrifte sê wel van waar die dooies opgewek sal word…uit die dode – nie uit die paradys soos sommige dit wil inlees nie:
1Kor 15:51-52 Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, 52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.
1Th 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.
Het Jesus aan die kwaadoener daar op die kruis gesê dat hy sal daardie dag saam met Hom in die paradys wees? Nee, jy moet dit so inlees in die teks, en jy moet die komma daar skuif om dit waar te maak, soos die Afrikaanse vertalers wel gedoen het tot groot verwarring vir baie. Kyk wat gebeur as die komma skuif en die woordorde daarna reg skuif…..
Luk 23:43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met My in die Paradys wees.
Nou is die vraag. Wie het die komma op die regte plek?
Die kwaaddoener op die kruis het gesterf en is nou nog dood en sal opgewek word op ‘n later stadium. Hy sal wel gered word en hy sal in God se Paradys, Jesus Christus, opgeneem word, maar daar is ‘n voorwaarde aangeheg:
Open 2:7 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne in die paradys van God is.
Die “Paradys” is nie ‘n plek nie, maar ‘n geestelike simbool vir Jesus Christus wie ook “die boom van die lewe” is! Dit is deur Hom alleen dat enigeen kan oorwin. Maar die oorwinning kom deur vuur:
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Almal sal “deur vuur” gered word want daar is geen ander manier hoe enigeen gered sal word nie:
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
1Pe 4:12-13 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.
God het Jesus aangestel as die enigste Redder van ALLE mense want Hy en Sy Woorde is dieselfde verterende vuur:
Heb 12:29 Want onse God is ‘n verterende vuur.
Jer 23:29 Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?
Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.
Jesus het dus nie gelieg toe Hy aan die kwaaddoener beloof het op daardie dag dat hy ook saam met Jesus in die paradys van God sal wees nie.
Ek belowe jou vandag dat jy ook saam met my in die Paradys sal wees H_______!
Ek hoop ek was van hulp.
Jou broer in Christus
Larry
Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 5) | 4windkoinonia
Terug pieng: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? | 4windkoinonia