Goddelike vergenoegdheid

Is die godsaligheid winsgewend? Verseker! Maar watter winsgewendheid word na verwys in die Skrifte waarna God se kinders moet streef?

1Ti 6:6-7  ….die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. 7  Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.

Die “groot wins” is om die godsaligheid saam met vergenoegdheid te kan hê. Wat is vergenoegdheid? Dit is verseker iets wat die wêreld nie kan hê nie. Dit word ook nie verkry uit aardse dinge nie. Tog bly die winsmotief die grootste motivering binne die wêreldstelsels – kapitaal, grondgebied, populariteit…

Goddelike vergenoegdheid begin by ‘n ander vertrekpunt wat die wêreld nie kan insien nie. Hierdie “groot wins” is gesetel in die “gesonde woorde” van Jesus. Dit is om Hom en Sy leer te ken en uit te leef! Daarom word ons duidelik gewaarsku om te onttrek van diegene wat nie tot die gesonde woorde van Jesus instem nie, want hulle en die dinge wat hulle najaag beroof ons van ons “groot wins”:

1Ti 6:3-5  As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 4  dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 5  nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.

Beteken dit dat om aardse dinge te hê verkeerd is? Nee, allermins, maar dit is ook  duidelik dat aardse dinge nie ons fokus moet wees nie, want dit bring ons in versoekings en verstrik ons so maklik. Ons moet vergenoeg wees met dit wat ons het en nie altyd na “hoë dinge” streef nie, want dit bring nie vrede nie. Dit is soos die spreekwoordelike pot goud aan die einde van ‘n reënboog – dit is delusies:

Rom 12:16 wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie;

1Ti 6:8-11  Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.  9  Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.  10  Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.  11  Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.

Daar is hierdie ding wat in mensdom geplaas is wat hulle dryf….en dit is om altyd na beter, en vinniger en hoër dinge te mik. Dit is baie mooi en edel, maar net soos altyd kyk die mens in die verkeerde manier na al die dinge. God se “hoë dinge” is anders as die wêreld se “hoë dinge”:

Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Maar God stel Sy kinders ook bloot aan alles om deur dit te leer wat dit is om vergenoegd te wees, want dit is ook wat godsaligheid nou vir ons teweegbring. Ons moet soos Paulus duidelik weet hoe om Christus in alles te erken sodat ons ook deur Sy vermoëns kan opereer in hierdie wêreld:

Fil 4:11-13  Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.  12  Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.  13  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Vergenoegdheid leer ons om nie in hierdie aardse dinge en struwelinge verstrengel te raak nie. Maar hoe ver gaan ons voor ons weet om te “onttrek”? Kom ons lees weer God se woorde deur die apostel Paulus in die verband:

1Ti 6:3-5  As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 4  dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 5  nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.

Elkeen sal leer om deur sy of haar eie unieke omstandighede God se “gesonde woorde” op die proef te stel:

Heb 5:14  Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Hier is ‘n tweede getuie wanneer ons sal weet om te onttrek sodat ons ons vrede en vergenoegdheid kan behou:

Tit 3:8-11  Dit is ‘n betroubare woord, en ek wil hê dat jy hierdie dinge beslis bevestig, sodat die wat in God glo, sorg kan dra om goeie werke voor te staan; dít is wat goed en nuttig is vir die mense.  9  Maar vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos.  10  Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning,  11  wetende dat so iemand op ‘n verkeerde pad is en sonde doen en selfveroordeeld staan.

Partyskap is verkeerd, maar ook broodnodig want daardeur leer ons wie die waarheid liefhet en diegene wat selfsug nastreef:

1Kor 11:19  Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word.

Mense wat opgepof is met hulself en verdorwe is in hulle verstand het ‘n sieklike selfsug na twisvrae en woordestryd. Hulle is reeds beroof van die waarheid en God het hulle verblind. Diegene wat verblind is, soek ‘n soort “wins” daarin om argumente te wen om beter voor te kom terwyl hulle eintlik baie ongelukkig is met hulself – ons noem hulle “beterweters” of “wysneuse”. Hulle skep wat die Skrif noem “partyskappe” – hulle soek die guns of “wins” van mense en nie die “wins” van God nie. Maar ons weet dat dit God is wat mense blind maak en ook hul oë oopmaak:

Spr 20:12  ‘n Oor wat hoor, en ‘n oog wat sien—die HERE het hulle altwee gemaak.

Eks 4:11  En die HERE antwoord hom [Moses]: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?

Moet ons die verkeerde dinge uitwys in die wêreld? As ons die balk in ons eie oog raakgesien het en verwyder het, is ons oog reg om te oordeel:

Mat 7:1-6  Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.  2  Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.  3  En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?  4  Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!  5  Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.  6  Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.

Diegene wat partyskappe verwek sien die foute daar buite raak en pleit groot onskuld oor hulself:

Luk 18:9-14  En Hy [Jesus] het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.  10  Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar.  11  En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.  12  Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.  13  En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!  14  Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.

Dit is dus die “laaste een” wat deur God regverdig verklaar word – die een wat die minste was! Die ware kinders van God weet wie hulle is en Wie in hulle woon, en kan nie anders as om die lig van die wêreld en die sout van die aarde te wees nie:

Mat 5:13-16  Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.  14  Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;  15  en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.  16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Vergenoegdheid is een van die grootste geheime van die koninkryk van God in ons eie harte. Vergenoegdheid het niks te doen met ‘n geestelike louheid nie! Inteendeel, dit is die basis waarop God se kinders elke dag streef om net die beste te wees deur die regte dinge te doen, omdat hulle  ‘n belangrike waarheid verstaan:

Heb 3:7-13  Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,  8  verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie,  9  waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het.  10  Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie,  11  sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie.  12  Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.  13  Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.

Om te dwaal in ons harte is die oorsprong van onvergenoegdheid in ons. Net die rus van Christus gee ons vergenoegdheid:

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Die rus van Christus is om Sy werke te sien in ons lewens deur die vrug van Sy gees in ons. Sy “goeie werke” is Sy Vrug in ons en dit manifesteer as die enigste tekens van geestelik groei en volwassenheid:

Gal 5:22-23  Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.  23  Teen sulke dinge is die wet nie.

Daar is vergenoegdheid vir ons uitgespel!

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s