Dieselfde lot tref ALMAL! (Deel 1)

“Alles is gelyk vir almal” is een van die mees omstrede stellings in die Skrifte, veral in ‘n wêreld met soveel klaarblyklike ongelykhede en waar mense graag hulself beter sien as ander:

Pred 9:1-3  Want dit alles het ek [Salomo] ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie.  2  Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed. 

Die mens in sy geestelike blindheid sien hierdie waarheid as ‘n “verkeerde ding” want elkeen dink in sy hart (en bely soms openlik) dat hy of sy nie soos ander mense is nie! Daar is selfs diegene wat vir hulself beter dinge eis as wat ander toekom. Dit is ook hoe Salomo gedink het in die tyd van sy afvalligheid van die waarheid van God:

Pred 9:3  Dit is ‘n verkeerde ding by alles wat plaasvind onder die son, dat een en dieselfde lot almal tref…..

Die afvallige mens redeneer…’hoe durf God vir my vyande die dinge gee wat hulle net nie toekom nie’…’hoe kan boosheid na my kant toe kom…ek verdien dit nie!’

Maar God sien dinge heel anders as wat die afvallige mens dit sien:

Jes 55:8-9  Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.  9  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Een lot wat almal tref is die lot van goddeloosheid. Goddeloosheid in mense se harte is dieselfde in almal, al manifesteer dit nie op dieselfde manier nie. Alle mense sukkel met dieselfde probleme in hul harte. Maar die probleme IN die harte spruit uit die oorsprong van die hart self – die hart se eie toestand. As die Skrifte van ons hart praat, dan verwys dit nie na die pomp in ons borskas wat bloed deur die liggaam laat sirkuleer nie. God se Woord is gees en moet as sulks verstaan word:

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

In geestelike terme verwys die hart van die mens na ‘n persoon se denke – ook genoem die “hemele” waar al God se aktiwiteite in ons afspeel:

Spr 4:20-23 My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, 21 laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. 22 Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ‘n genesing vir hulle hele liggaam. 23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Die natuurlike mens se hart is verdorwe (intens boos):

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe [Hebreeus: “ânash” = ongeneeslik siek en intens boos] is dit; wie kan dit ken?

Die probleem word nog erger as ons uitvind dat ons nie ons eie hart se toestand ken nie! Ons is ook van nature totaal onbewus van die diepte van die boosheid daarin! Maar dit is waar God kyk:

1Sa 16:7  ……Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

God ken die mens se hart en weet wat daarin is. Dit is immers Hy wat ons geskep het. Net soos die pot in die hand van die Skepper, so “misluk” die mens “in die hand van die Pottebakker” – vir hulle wat hierdie woorde kan ontvang:

Jer 18:4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Die mens het nie so geword op sy eie nie – God is in beheer van hierdie aardse pot van die begin tot die einde. Daar bestaan nie ‘n sogenaamde “vrye” wil nie en mense (of enige ander skepsel) het nog nooit iets soos ‘n “vrye” wil gehad nie. Dit is ‘n delusie wat God self in die mens se hart geplaas het. Niemand ontsnap uit die delusie nie – dit is God wat hierdie dwaling in elkeen se hart glo en almal is daarbinne gevange!

2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo.

Mense het wel ‘n wil, maar daardie wil is TOTAAL onder God se beheer. Die leer van ‘n “vrye” wil is onskriftuurlik en vals. Ons maak wel keuses elke dag, maar die keuses is nie “vry” nie – dit word bepaal deur ander faktore (Bv. wat beskikbaar is, ons onbewustelike vooroordele, ens.) Een van die grootste faktore wat ons keuses beïnvloed en wat mense nie kan sien nie, is God! Selfs die bose word na ons gestuur deur God….waarvolgens ons dan optree. Koning Saul, byvoorbeeld, sou nooit kon sien dat die volgende in sy eie hart gebeur het nie:

1Sa 16:14 Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.

Mense, soos alle skepsels, doen presies wat God bepaal – van begin tot einde!

Rom 9:16  So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.

Jer 10:23  Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Jes 63:17  HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!

Die mens rig nie eens sy eie voetstappe nie net so min soos hy homself kan keer om van God se weg af te dwaal, of om sy hart te verhard vir God:

Rom 9:15  Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.

Joh 12:39-40  Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het:  40  Hy [God] het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Die “sodat” in die vers word ook deur baie geïgnoreer – God wil nie hê sommige moet nou sien en verstaan nie!!!

God is ook nie skaam om openlik te sê dat Hy die mens as ‘n “voorwerp…tot oneer” gemaak het nie.

Nou kom die grootste vraag by mense op waarom God dan fout vind by ons as Hy ons so geskep het. Hierdie tipe vrae in ons wys net weereens die mens se boosheid en onkunde uit:

Rom 9:19-21  Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?  20  Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?  21  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?

Wie kan God se wil weerstaan? Daar staan dit en baie ignoreer dit want God het hulle nie die oë gegee om dit te sien nie. Alles wat gebeur IS GOD SE WIL!!! En niemand kan Sy wil weerstaan nie – Hy laat alles gebeur op aarde en mense protesteer ten sterkste:

Amo 3:4-7 Sal ‘n leeu brul in die woud as hy geen prooi het nie? Sal ‘n jong leeu sy stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie? 5 Sal ‘n voël in ‘n net val op die grond as daar vir hom geen strik gestel is nie? Sal ‘n wip van die grond af opspring as dit glad nie gevang het nie? 6 Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie? 7 Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.

God vind nie uit wat die fout is met ons nie – Hy weet! Dit is ons wat moet uitvind waarmee Hy besig is. God bewerkstellig ALLES en Hy wys dit aan Sy knegte. Sy knegte verstaan waarom mense dink dat hulle ‘n reg het om te kla oor God se werke – want hierdie kennis van God se werke in ons en rondom ons is ook nie nou vir almal beskore nie:

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Niemand kies op sy eie om hierdie dinge van God te kan sien nie – dit is God se keuse:

Joh 15:16  Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Joh 6:44  Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Hy kies ons, en Hy bepaal wanneer ons kan sien en hoeveel ons moet sien om stelselmatig uit te vind waarmee Hy besig is. God neem nou net die uitverkorenes “agter die skerm” om te kan sien wat Hy besig is om te doen in Sy werkkamer, die hemele – ons eie harte. As jy oortuig is dat jy kan sien wat God besig is om te doen in jou lewe, kom stap saam met my en ons neem hande om ook hierdie groot werk van God in die mensdom en in hierdie skepping beter te verstaan. Jy is welkom!

In deel 2 sal ons verder gaan om uit te vind hoe “dieselfde lot” vir almal tref.

Jou broer in Christus

Larry Groenewald

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s