Dieselfde lot tref ALMAL! (Deel 3)

Ons gesels oor ‘n paar aspekte binne hierdie belangrike onderwerp waaroor Solomo geskryf het in die boek van Prediker:

Pred 9:1-3 Want dit alles het ek [Salomo] ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie. 2 Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed.

“Alles is gelyk vir almal” is onmoontlik om te glo vir diegene wat hul toestand en hul probleme as heel uniek sien. “Een en dieselfde lot” tref almal inderdaad. Alles begin by hoe ons die eerste Adam sien. Sommige glo dat Adam perfek geskep was deur God en dat hy nie “dieselfde lot” as ons almal gehad het nie.

Wel, dit is ‘n leuen en die Skrifte gee ons die waarheid oor Adam se toestand by sy skepping. Almal word met dieselfde lot na vore gebring. Hier is ‘n paar tekste wat die toestand van Adam, Eva en die hele fisiese skepping uitbeeld – vir hulle wat dit kan ontvang:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Gen 2:25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

Stof en naaktheid is die toestand van almal in die eerste Adam en hierdie twee aspekte is simbole van onperfektheid! Die Skrif sê ook dat Adam en Eva geen skaamte gehad het vir hul naakte toestand nie. Hulle kon nie eens sien wat dit voorstel nie!

Hul uiterlike naaktheid het hul innerlike naaktheid voorgestel – hulle was onbewus van hul harte se toestand. Kyk wat was in hul harte nog voor hulle ‘n sondige DAAD gepleeg het:

Gen 3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Hier word Eva se hart beskryf, maar dit is presies hoe Adam se hart ook was want sy was uit hom gemaak. Hulle het God se gebod reeds IN HUL HARTE gebreek VOOR hulle tot die daad oorgegaan het. Hulle harte was dus verdorwe (dit beteken BOOS), en Adam en Eva was heel onbewus daarvan – net soos die Skrifte ook sê:

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Die welluste van die vlees en die trots van hul harte was reeds deel van hulle nog voor hulle daarvan bewus was en voordat hulle sonde GEDOEN het. Dit is met die DOEN van sonde dat ons sondige harte geopenbaar word en ons is geskok wat uit ons kom. Kyk net wat gebeur toe Adam en Eva se oë “oopgemaak” was:

Gen 3:7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

Hulle kon vir die eerste keer sien dat hulle naak was en hulle was skaam!!! Naaktheid is nie iets waarop ons kan trots voel nie! Maar dit is hoe God hulle gemaak het – vir ‘n doel. God wou hê hulle moes sien dat hulle onperfek geskep was – van stof gemaak en dit is NIE die beeld van God nie. God is besig om die mens in Sy beeld, dit is gees, te skep, maar dit is gaan deur ‘n proses:

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Die werkwoord “maak” in die vers kom van die Hebreeuse woord “âśâh” en word in die oorspronklike Hebreeus as ‘n onvoltooide werkwoord aangedui. Enige Hebreeus-magtige persoon sal die feit beaam. God is gees en nie stof of vlees nie en dit behoort baie duidelik te wees dat mens NIE NOU AL in God se geestelike beeld geskep is nie:

Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Adam en Eva kon dus NIE God in waarheid en gees aanbid nie! Waarheid het gekom in die laaste Adam, Jesus Christus:

Joh 1:17b ……die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Die gees en waarheid kom eers NADAT ons die natuurlike en al die bose leuens ervaar het – dit is die proses!!!

1Kor15:45-46 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.

Die eerste Adam was dus NIE “in waarheid” of “in gees” nie! God het hom, en alles in die hierdie skepping, “in sonde” en “in ongeregtigheid” geskep – dit is “dieselfde lot” wat ons almal en die hele skepping eers moet ervaar – soos deur God bepaal:

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

“Nietigheid” impliseer dood – niks in die skepping was gemaak om vir ewig te bestaan nie. Die dood was deel van die hierdie skepping van sy geboorte! Dit is die gevolg van sonde en hierdie sonde het deur een mens in die wêreld gekom omdat God hom so gemaak het – in ‘n “liggaam van sonde” (Rom 6:6):

Rom 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Dit wat Adam en Eva toe gedoen het was as gevolg van wat hulle was – sondaars! Hulle het ‘n liggaam van sonde ontvang en God ontduik nie hierdie waarheid soos sommige wil voorgee nie – God vat VOLLE verantwoordelikheid vir alles wat Hy geskep het:

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Wie glo hierdie woorde? MIN. God is besig met ‘n plan wat nog nooit verander het nie! God het ALLES eers “ingesluit onder die sonde” voordat Hy Sy belofte van ‘n nuwe geestelike lewe gee en die lewe in NET IN JESUS en dit word verkry deur geloof in Jesus!

Gal 3:22 Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.

As God ons die nuwe lewe van Christus skenk, dan begin die proses om ons van die ou “liggaam van sonde” en “hierdie dood” te verlos (Rom 6:6; Rom 7:24). Dan word ons lot verander:

Psa 126:4-5 o HERE, verander ons lot soos waterstrome in die Suidland. 5 Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.

God WEET watter gedagtes Hy van ons koester – dit is van vrede en ‘n goeie toekoms IN Hom! Hy is gefokus op die eindproduk en neem ons deur hierdie proses en ons moet dit so aanvaar!

Jer 29:11-14 Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. 12 Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. 13 En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. 14 En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.

Dit is net wanneer ons deur God die openbaring kry oor die waarheid van ons eie lot, dat ons deur Sy genade in sak en as erken dat Hy in beheer van alles is. So verander God ons lot. Dit is dan ook Hy wat aan ons die krag skenk om ons eie liggaam van sonde, al die trotsheid en welluste in ons harte op die altaar te plaas en saam met Jesus sterf – net dan word sonde in ons vernietig:

Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s