Niemand sal “dieselfde lot” wat God vir elke mens voorberei het, vryspring nie:
Pred 9:1-3 Want dit alles het ek [Salomo] ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie. 2 Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed.
“Dieselfde lot” het baie dimensies en ook onvermydelike implikasies vir elkeen. In ons vorige besprekings in hierdie reeks oor “Dieselfde lot tref almal” het ons gesien dat “alles is gelyk vir almal” – ‘n bitter pil om te sluk vir diegene wat hulself of hul lewens beter ag as ander. Dit is ook hoe Salomo gedink het toe hy die woorde uitgedruk het – hoe kan almal onder dieselfde spreekwoordelike kam geskeer word deur God:
Pred 9:3 Dit is ‘n verkeerde ding by alles wat plaasvind onder die son, dat een en dieselfde lot almal tref…..
Ons almal dink op ‘n tyd so, totdat die waarheid aan ons geopenbaar word. In die tyd wat ons rebeleer, praat ons eindelik teen God en Sy manier om dinge te doen, net soos Job ook op ‘n harde manier moes leer om NIE te doen nie:
Job 39:34-38 En die HERE het Job geantwoord en gesê: 35 Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord! 36 Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: 37 Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond. 38 Een maal het ek gespreek, maar sal nie meer antwoord nie; ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie.
Ons leer om stil te word voor God deur die beproewinge wat ons deurgaan. Sonder die pyn en lyding en al die beproewinge in ons lewens sal ons voortstrompel in ons geestelike blindheid, eiewaan en selfgeregtigheid.
Dankie Vader vir die beproewinge want nou verstaan ons soveel beter wat ons is en waarom U dinge doen soos U dit doen:
Psa 103:14-16 Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. 15 Die mens—soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy. 16 As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.
Adam was van stof gemaak en stof van die aarde is NIE gees nie! Die hart in ons aardse Adam, dit is ons denke, is nie soos God se denke nie (Jes 55:8-9). Adam was gemaak met ‘n aardsheid in sy denke – hy was verdorwe of boos en dit is deel van die “lot” wat hy, en ons eers moet dra:
Jak 3:14-16 Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. 15 Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; 16 want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe [Hebreeus: “ânash” = ongeneeslik siek en intens boos] is dit; wie kan dit ken?
Deur beproewinge leer ons van onsself – God ken ons reeds – Hy hoef niks uit te vind nie. Die mens ken nie wie of wat hy is nie. Maar in die proses leer ons ook van God. Hy is alles wat teenoorgesteld is van ons, in ons natuurlike toestand! Byvoorbeeld, God is nie aards nie – Hy is gees – hemels – ver verhewe bo ons. Daar kom ‘n uur dat die ware aanbidders (nie die vleeslike Adam nie) God sal ken in gees en Hom ook so sal aanbid!
Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
dat ons nie soos God is tydens ons aardse toestand nie. Hy alleen is God en Hy rig elkeen se voetstap om deur hierdie proses van geestelike groei soos God “te word”:
Joh 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [die oorspronklike Hebreeus het hier ‘n onvoltooide werkwoord] na ons beeld, na ons gelykenis….
Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken…
Om “te word…soos een van Ons” (die “ĕlôhı̂ym”) neem ‘n baie lang proses en dit is ook wat “dieselfde lot” vir ALMAL in Adam insluit. Die hele geskiedenis van die fisiese Israeliete is ‘n pragtige prentjie van die hele proses om soos God “te word”. Niks is neergeskryf vir ons sonder dat God baie diep daaroor gedink het nie. Alles wat in die Skrifte neergeskryf is word in groot detail geskryf sodat ons nie onkundig moet wees oor die pad waarlangs ons MOET loop nie:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Rom 15:4-5 Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê. 5 En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus.
Die pad van geestelike groei loop inderdaad deur lydsaamheid en groot verdrukking. Dit is deel van die oordeel van God om ons te leer van Hom. Baie mense word verkeerd geleer deur te glo dat alles wat geskrywe is in die Skrifte nie op hulle van toepassing is nie, asof die Here gelieg het toe Hy hierdie woorde ook gespreek het:
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Die boek van Sefánja is een van die boeke wat God se oordeel intensief beskryf – hoe kan ons dan sê ons kan kies en keur wat ons wil deurgaan, en ook glo ons kan God se oordeel verkort of misloop. God beloof dat Hy gaan ALLES in ons aardse lewens “saamskraap” en ook alles weer “wegraap”:
Sef 1:2-3 Saamskraap, wegraap sal Ek alles van die aardbodem af weg, spreek die HERE. 3 Ek sal wegraap mense en diere, Ek sal wegraap die voëls van die hemel en die visse van die see en die struikelblokke saam met die goddelose, ja, Ek sal die mense uitroei van die aardbodem af weg, spreek die HERE.
Sefánja se naam beteken “weggesteek deur God” omdat hierdie waarhede van God se oordeel weggesteek word vir diegene wat glo hulle kan dit ontsnap. Hulle word ook mislei deur te glo dat hulle self kan “saamskraap” en self kan “wegraap”. Hulle glo vas dat hulle deur ‘n valse “wegraping” van die aarde bevry gaan word. Die leerstelling wat baie populêr is in die afvallige Christendom is die valse leer van ‘n wegraping. Hier sê Jesus presies wie gaan bly en die aarde regeer en wie gaan verwyder word, “net soos in die dae van Noag”:
Mat 24:37-41 En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 38 Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, 39 en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 40 Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. 41 Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
Mat 5:5 Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.
Dawid stem saam dat die regverdige sal bly….
Psa 37:29 Die regverdiges sal die aarde besit….
Salomo was ook geinspireer deur God om die volgende te skryf vir diegene wat dit kan glo:
Spr 10:30 Die regverdige sal vir ewig nie wankel nie, maar die goddelose sal in die land nie bly woon nie.
Hoor wat sê Johannes in die boek van Openbaring oor diegene wat op die aarde sal regeer:
Open 20:4-6 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. 5 En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. 6 Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.
Heerskappy oor die fisiese aarde kom eers binne-in ons self. Die regverdiges in Christus sal wel op die fisiese aarde regeer vir die simboliese 100o jaar nadat hulle in die eerste opstanding geestelike lewe ontvang het. Maar hierdie heerskappy word nou bereik deur die bevryding van alle heerskappy van die aarde in ons lewens:
Rom 6:11-13 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. 12 Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. 13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.
Hierdie heerskappy is om bevry te word van die gees van die wêreld:
1Jn 2:16-17 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.
Wel daar staan dit! Om God se wil te doen, bring bevryding van, en heerskappy oor die aarde en al sy dinge. Bevryding van die aarde en al sy verleidelikhede kom egter slegs deur God se oordeel:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Dit is ook Sefánja se boodskap aan diegene wat kan hoor en ook diegen wat nie kan hoor nie. Maar dit is veral die “min” wat God uitverkies het wat luister en hul hand in eie boesem steek en stil word, want hulle weet hoe verskriklik dit is om te val in die hand van ‘n lewende God:
Heb 10:30-34 Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. 31 Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God. 32 Maar onthou die vorige dae waarin julle, toe julle verlig geword het, ‘n groot lydensworsteling deurstaan het, 33 gedeeltelik omdat julle deur smaad en verdrukkinge ‘n skouspel geword het, gedeeltelik omdat julle deelgenote geword het van die wat in so ‘n toestand verkeer het. 34 Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het.
Ons sal in deel 6 verder gaan om te kyk na die boek van Sefánja om meer van die detail van God se oordeel te wete te kom.