Dieselfde lot tref ALMAL! (Deel 9)

Salomo word geken as die wyse koning wat na sy vader Dawid die troon van Israel bestyg het. Sy tydperk as regeerder was gekenmerk deur ongekende voorspoed en vrede in Israel. Maar deur al die voorspoed het ook die kwaad in Salomo se koninkryk en ook in sy hart geleidelik na vore gekom. Sy hart en sy aanbidding tot God was stelselmatig ontbloot:

 En Salomo het die HERE liefgehad deur in die insettinge van sy vader Dawid te wandel; hy het net gedurig op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan (1Kon 3:3). 

Toe het Salomo ‘n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon (1Kon 11:7). 

Ons weet nie wat alles in ons hart skuil. Die verfoeisels van die vlees is maar altyd daar in ons hart, maar dit word ontbloot op die tyd soos die Here bepaal. Ons harte word nie boos nie – dit is boos vanaf die skepping. Adam en Eva was heel onbewus van hul naaktheid en alles wat in hulle geskuil het:

En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie (Gen 2:25).

Almal ontdek deur versoeking wat in ons harte skuil en hoe naak ons eintlik is (Gen 3:1-7):

Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie (Jak 1:2-4).

Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort (Jak 1:13-15).

Vir diegene wat dit kan sien is dit dus heel duidelik dat Adam en Eva nie volmaak was nie. Hulle moes deur “allerhande versoekinge” gaan om uit te vind van hul eie harte en die kondisie van hul vlees. Net so moes die bose hart in Salomo ontbloot word. Ons almal sal mettertyd uitvind die diepte van die volgende vers:

Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? (Jer 17:9).

Dit neem tyd om uit te vind wat God in ons geskep het:

[Dit is God] wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen (Jes 45:7).

Hierdie bose hart in ons is deel van “dieselfde lot” wat aan elkeen gegee word en dit is moeilik om te aanvaar vir die mens wat dink sy lot is verskillend van ander s’n. Dit is die einste Salomo wat teen die einde van sy lewe moes worstel met hierdie waarheid:

Want dit alles het ek [Salomo] ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie.  Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed. (Pred 9:1-3).

Soos Salomo, vind ons ook uit dat ons baie meer gefokus is op ons eie werke. Salomo het byvoorbeeld meer tyd spandeer aan die bou van sy eie huis as aan die bou van huis van God – sewe jaar het hy gebou aan die huis van die Here en dertien jaar het hy gebou aan sy eie huis:

En in die elfde jaar, in die maand Bul—dit is die agtste maand—was die huis voltooi in al sy dele en volgens al sy vereistes, sodat hy sewe jaar daaraan gebou het (1Kon 6:38). Maar aan sy huis het Salomo dertien jaar gebou en die hele huis voltooi (1Kon 7:1).

En aan die einde van twintig jaar waarin Salomo die twee huise, die huis van die HERE en die huis van die koning, gebou het (1Kon 9:10).

Ons leer soos Salomo dat ons nie twee here kan dien nie:

Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie! (Mat 6:24).  

Salomo se hart was verlei toe hy gedink het dat mens twee here kan dien:

En koning Salomo het baie uitlandse vroue liefgehad; en wel behalwe die dogter van Farao, Moabitiese, Ammonitiese, Edomitiese, Sidoniese, Hetitiese—  uit die nasies waarvan die HERE aan die kinders van Israel gesê het: Julle mag nie met hulle meng nie, en hulle mag nie met julle meng nie; hulle sal voorwaar julle hart verlei agter hulle gode aan—Salomo het hulle met liefde aangehang.  En hy het sewe honderd vroue, vorstinne, gehad, en drie honderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het.  En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie.  En Salomo het agter Astárte, die godin van die Sidoniërs, en agter Milkom, die verfoeisel van die Ammoniete, aan geloop (1Kon 11:1-5). 

Die afgod Milkom verteenwoordig ons eie vleeslikheid en sy werke t.o.v. selfgeregtigheid, trots, welluste -alles wat die gees van die wêreld in ons verteenwoordig:

Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld (1Jn 2:16).

Milkom is ook die god wat ons laat spog met onsself, en wanneer ons nie die volle eer aan God kan gee nie:

Toe het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek  en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi! (Mat 23:1-7). 

Milkom in ons dryf ons om ‘n groot vertoon te maak vir mense se onthalwe, maar die interne vrug van die gees van God ontbreek. Ons bou dus nie God se huis, sy ware kerk nie, maar ons kyk eerder na ons eie belange. Net soos Samuel leer ons op die harde manier om nie na die uiterlike te kyk as dit kom by God se uitverkorenes nie:

Toe hulle inkom en hy Elíab sien, dink hy: Gewis, hier staan voor die HERE sy gesalfde! Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan (1Sa 16:6-7).  

Milkom is dan ook hoe ons onsself vergelyk met ander mense. Hierdie vergelykings met ander is onwys en dui op ‘n diepe onverstandigheid en onkunde oor die werke van God. Die Milkoms in ons verblind ons om nie te sien dat elkeen uniek inpas binne God se werk en Sy plan:

Want ons waag dit nie om ons te reken of te vergelyk met sommige van die wat hulleself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hul met hulself meet en met hulself vergelyk, is hulle onverstandig (2Kor 10:12).

Ons staan en val ten opsigte van God alleen, en deur Sy geestelike vrug in ons eie lewens meet Hy alleenlik ons geestelike stand:

Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Gal 5:22). 

Daar is dit -so lyk God! En so lyk Sy kinders!

Maar die natuurlike konings wat God se werke nie kan verstaan nie, kyk nie na hierdie dinge (die vrug van die gees) nie (1Kor 2:14). Hulle is gefokus op die namaaksels van die vlees. Net deur God se oordeel word die namaaksels ontbloot en vernietig. Maar dit is juis hierdie oordeel van God wat vermy moet word preek die valse leraars. Probeer wegbly van God se vuur word gewaarsku. Die natuurlike mens aanvaar nie God se oordeel nie, want hy meet homself aan die standard van die Milkoms van die wêreld. Ons word egter gewaarsku deur God se Woord teen hierdie Milkoms en hulle standaarde in ons lewens, en hieroor praat die profeet Sefánja ook:

En die wat op die dakke die leër van die hemel aanbid; en die aanbidders wat by die HERE sweer en sweer by Milkom.  Ook die wat van die HERE afvallig word en wat die HERE nie soek en Hom nie raadpleeg nie.  Swyg voor die Here HERE! Want die dag van die HERE is naby; want die HERE het ‘n offer berei, sy gaste geheilig. En op die dag van die offer van die HERE sal Ek besoeking doen oor die vorste en die prinse en oor almal wat uitlandse klere dra. Ek sal ook op dié dag besoeking doen oor almal wat oor die drumpel spring, wat die huis van hulle here vul met geweld en bedrog (Sef 1:5-9).

Milkom is ook ‘n simbool van ons verbintenis met geestelike Babilon, die geestelike hoer in ons harte, wat oor die vlees (sewe koppe met tien horings) in ons heers:

En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien (Open 17:3-6).

Salomo se grootheid, rykdom en wysheid was bewonder deur almal rondom hom, selfs ander koninkryke het hom lof toegeswaai. Ons staan ook soos Johannnes eers verstom oor die grootsheid van die valsheid in ons en hoe dit ons vir so lank verblind en oorwin het:

Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra. Die dier wat jy gesien het, was en is nie, en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is (Open 17:7-8).  

As ons die dinge in ons eie harte kan sien, dan word die oordeel oor hierdie hoë dinge (“op die dakke”) in ons uitgespreek en volbring:

En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.  En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,  omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.  En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou (Open 18:1-5).  

As hierdie geestelike afgode en al die vleeslike konings in ons ontbloot word, bring dit groot vernedering vir die vlees, maar groot stap in die geestelike groeiproses:

Hy moet meer word, maar ek minder (Joh 3:30).  

Milkom laat ons ons verkeerde waardes oordra aan ons nageslag – ons offer ons kinders op die altare van Milkom (dieselfde as die afgod Molog). Die altare van wêreld waar ons kinders opoffer is die gejaag na die wêreld se standaarde van sukses en voorspoed. God haat dit en verbied ons om so te lewe:

En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die HERE (Lev 18:21).  

Maar hulle het hul verfoeisels neergesit in die huis waar my Naam oor uitgeroep is, om dit te verontreinig; en hulle het die hoogtes van Baäl gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters vir Molog deur die vuur te laat gaan—iets wat Ek hulle nie beveel het nie en wat in my hart nie opgekom het nie, dat hulle hierdie gruwel sou bedrywe om Juda te laat sondig (Jer 32:34-35).

Ons sal verder kyk na ons “lot” soos beskryf in detail deur die profeet  Sefánja in deel 10 van die reeks oor “Dieselfde lot tref almal”.

Advertisements
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s