Die geestelike dinge van God is die fokus van die kinders van God want hulle het pynlik ontdek dat die vlees regtig van geen nut is aan die einde van die dag nie:
Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. Joh 6:63
Vleeslike begrippe en aardse dinge kan God nie behaag nie – en so voel sy kinders ook oor die verganklikhede wat vir baie nog so belangrik is:
En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie. Rom 8:8
Sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. 1Kor 1:29
God het die geestelike dinge voorberei vir hulle wat geroep word tot agter die vleeslike gordyn:
Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 1Kor 2:9-14
Wat ‘n onverdiende voorreg is dit nie om die “dieptes van God” te kan sien en met “volle geloofsversekerheid” in te beweeg in die ware huis van God (op ‘n individulele manier en ook as ‘n gesamentlike ervaring met hulle wat dieselfde denke van Christus het nie):
Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. Heb 10:19-22
Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus. 1Kor 2:16
Ons weet dat God nie in huise woon wat deur mens se hande gebou is nie, maar Hy woon in sy geestelike huis – in Sy kinders wie Sy Woorde bewaar en doen:
Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. Hand 17:24-25
Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Joh 14:23
As ons die woorde van Jesus bewaar en doen, dan is ons deel van die ware huis of tempel van God. Jesus sê dit is hoe Hy en Sy Vader in ons woon in gees:
En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Joh 14:16-18
En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. Mat 28:20
Paulus het dit ook so verstaan dat Jesus in die gees van die Vader in Sy kinders kom woon:
Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? 1Kor 3:16
Ons vorm dus dan ook deel van die een ware huis van God, Sy een liggaam of Kerk hier op aarde as God se gees in ons woon:
Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. 1Kor 12:12
Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. 1Kor 12:20
Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping. Efes 4:4
Petrus sien ook die ware huis van God as die gemeente van die lewende God:
En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. 1Pe 2:5
As ons deel is van hierdie een liggaam dan respekteer ons dit en soek nie verdeeldheid en onordelikheid nie. Hierdie verdeeldheid en onordelikheid is wat ons sien in die kerke van die wêreld wat onder hul eie name opereer en volgelinge van mense word. Hierdie verdeeldheid en onordelikheid is ook wat in die kerk in Korinthe in die dae van die apostel Paulus plaasgevind het, soos in ons eie dae hoogty vier:
Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos—is julle nie vleeslik nie? Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei. Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. 1Kor 3:4-9
Hierdie woorde is waar en is alles neergeskryf om ons te wys dat dit oral voorkom in alle tye en ons moet kennis neem. Jesus self het ook gewaarsku dat baie sal kom in Sy Naam en baie verlei:
En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. Mat 24:4-5
Daar is die sleutel hoe ons die valse Christusse kan uitken – hulle is “baie” (volop – amper op elke hoek van elke straat) en hulle verlei “baie” met hulle onordelikheid en verdeeldheid. Daar is egter “min” wat kan uitkom uit hierdie strikke van die valse kerke wat almal opereer onder die vaandel van die een gevalle Babilon, die geestelike hoer wat ons almal sal moet ervaar en ken. Baie kan nie uitkom uit die sterk invloed en beheer van hierdie hoer nie, want hulle kan nie die “ander stem” van die waarheid hoor of verstaan nie:
Want baie is geroep, maar min uitverkies. Mat 22:14
En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Open 18:4
Die “baie” glo hulle dien God en doen God ‘n groot guns deur in Hom te glo en wonderlike dade vir Hom te doen. Maar groot sal die skok wees as hulle eendag sal sien waarmee hulle mislei was:
Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! Mat 7:21-23
Die oë van die ware Kerk van God is dus nie op hierdie groot getalle en uiterlike waan wat mens sien onder die vaandel van Christenskap nie. Hulle wat in die ware Kerk van Christus is, wandel met groot omsigtigheid en sien toe dat daar altyd orde is in God se huis – veral in hul eie lewe en in die lewens van diegene met wie hulle saam aanbid. Dit is wat ons vermaan word om te doen:
Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan. 1Kor 14:40
Dit is ook vir hierdie geestelike huis wat Paulus ook Timotheus vermaan om alles orderlik te hou:
Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid. 1Ti 3:15
Die profeet Sefánja noem ook dat die Here glad nie hou van die tipe klere wat die afvalliges dra as hulle God wil aanbid in Sy huis nie:
En op die dag van die offer van die HERE sal Ek besoeking doen oor die vorste en die prinse en oor almal wat uitlandse klere dra. Ek sal ook op dié dag besoeking doen oor almal wat oor die drumpel spring, wat die huis van hulle here vul met geweld en bedrog. Sef 1:8-9
Ja ons moet kyk na wat ons fisies aantrek in terme van ons kleredrag, maar daar is meer te sien in wat hierdie klere in geestelike terme beteken. Ons uitlandse klere is ons eie gedagtes, woorde en selfregverdige dade, en dit is wat ons in ons vermetelheid ook tot God se aandag wil bring, soos ook reeds genoem in Mattheus:
Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! Mat 7:21-23
In ons geestelike blindheid kan ons nie sien hoe ons eie klere lyk nie:
En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. Jes 64:6
Die ware Kerk van Christus word gekenmerk deur die rein en wit klere wat Christus aan hulle geskenk het om te dra en hulle doen dit met groot oortuiging:
Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Open 19:7-8
Die klere verwys dus na die geloofsdade en -werke van Christus in ons:
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Efes 2:8-10
Die klere van Christus wat aan ons geskenk word is in bloed gedoop omdat dit gepaardgaan met die doodmaak en die aflegging van die vlees en al sy aardse dinge en konsepte in ons eie lewe:
En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. Open 19:13-14
God se huis is dus hulle wat saam met Christus gesterf het en Hom in alles volg:
En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. Mat 10:38-39
Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Gal 2:20
Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg. 1Pe 2:21
Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele. Open 3:5
Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom? En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee. Open 7:13-17
Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie. Open 16:15
Christus is as Seun van God deur die Vader self aangestel as die Hoof van die huis, soos Moses die hoof was oor die huis van die fisiese Jode, as ‘n skadubeeld van Christus:
En Moses was wel getrou in sy hele huis as ‘n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word, maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou. Heb 3:5-6
Ons is dus deel van Sy ware geestelike huis as ons “net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou”. Dit is hulle wat saam met Christus sterf en saam met Hom oorwinning kry oor al die baie valse Christusse in hul eie lewens:
Hulle [die valse Christusse] sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou. Open 17:14
Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord